Hoërskoolseun verdrink in Cullinan-dam

Louis McCallaghan. Foto: Facebook

Louis McCallaghan. Foto: Facebook

ʼn Gr. 11-seun is Donderdag dood toe hy in die Zonderwaterdam in Cullinan verdrink het.

Louis Mc Callaghan, ʼn leerling aan die Gekombineerde Skool Cullinan, het verdrink toe hy saam met vyf vriende die middag in die dam gaan swem het. Kapt. Marissa van der Merwe, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê Louis het glo tot in die middel van die dam geswem waar hy “in die moeilikheid geraak het”.

“Sy vriende het glo gesien hy is besig om te verdrink, maar kon nie vinnig genoeg by hom uitkom nie,” het Van der Merwe gesê. Die Tshwane soek-en-reddingseenheid is na die dam ontbied, maar kon die liggaam nie opspoor nie. Die polisie se duikeenheid is daarna versoek om na die liggaam te soek en uit die dam te haal. Een van Louis se vriende het sy lyk uitgeken.

Die skool het intussen die tragiese nuus op sy Facebook-blad bevestig. “Dit is met hartseer wat ons verneem die afsterwe van een van ons leerlinge, Louis Mc Callaghan (Grobler), vroeër vandag. Jy laat ‘n groot leemte in baie van ons leerlinge se lewens. Sterkte aan die familie en vriende in hierdie moeilike tyd,” lees die inskrywing.

Volgens Van der Merwe was Louis 19 jaar oud. Die skool kon egter nie Vrydagoggend bereik word om dit te bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bernadine ·

Rus saggies my boetie! Ekke mis jou ongelooflik baie! Jy sal altyd onthou word as die sagte mensie wat altyd ‘n glimlag op almal se gesigte gesit het xxx

Nico Van dyk ·

Op donderdag het die Wereld n Held verloor… hy was n vriend vir almal en n groot broer vir van ons… hy was en sal altyd soos n broer vir my wees… hoop jy rus saggies daar waar jy is boeta

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.