Hoës by SAID geskors ná Nugent-verslag

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het twee sleutelbestuurders as voorsorgmaatreël geskors en nog een se skorsing is verleng hangende dissiplinêre optrede.

Die drie is Hlengani Mathebula, hoof van korporatiewe beheer, internasionale betrekkinge, strategie en kommunikasie, Teboho Moekoena, hoof van mensekapitaal en -ontwikkeling, en Luther Lebelo, hoof van werknemerbetrekkinge.

“Dit is deel van ʼn deurlopende en omvattende hersiening van die hele leierskap van die SAID deur die kommissaris ten opsigte van goeie bestuur en na aanleiding van die verslag van die Nugent-kommissie van ondersoek na die SAID,” het Siphithi Sibeko, woordvoerder van die Inkomstediens, gesê. Die skorsings tree onmiddellik in werking.

Die SAID het beklemtoon dat die skorsings voorkomend is en dus nie neerkom op bevindings van enige misdryf aan hul kant nie.

“ʼn Bepaling in hierdie verband sal slegs gemaak word ná afhandeling van die proses. Die SAID versoek dat die privaatheid van die betrokke individue en die vertroulikheid van die verhouding tussen werkgewer en werknemer gerespekteer word. Die SAID sal nie verder kommentaar lewer oor die aangeleentheid voordat dit afgehandel is nie.”

Die Nugent-verslag het reeds daartoe gelei dat die vorige SAID-kommissaris, Tom Moyane, deur pres. Cyril Ramaphosa in die pad gesteek is.

Die Nugent-kommissie het ondersoek ingestel na bestuursprobleme by die SAID. Die kommissie is deur afgetrede regter Robert Nugent gelei.

Die kommissie het reeds in Desember aanbeveel dat senior personeellede hersien moet word. Daar moet ook bepaal word of hulle die publiek se vertroue in die SAID kan herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Leon ·

Ek dink hulle glimlag al die pad bank toe. Die staat skors jou mos met volle betaling en waneer jy dan waai hoef jy nie terug te betaal nie. LEKKER in die staatsdiens.

John ·

Toetentaal nuttelose poste. Wat het hierdie mense ooit gedoen? Lees tog die bladsye en bladsye advertensies van die Staatsdiens, Sondae… nee, los dit vir Maandag, want die sooibrand slaan toe oor die posbenamings en beskrywings vir nog doellose kapitaalvermorsing… adjunkte vir adjunkte se assistente… se assistent-anjunkte… en die posbeskrywings en salarisse van oor die R500 000 pj vir juniors. En nou wil hulle met alle mag die Reserwebank se nootdrukkers bykom.

wilma ·

Hoe skors jy iemand “voorkomend” indien daar nie iewers ‘n rokie trek nie? Lyk my ‘n mens sal nooit te oud wees om iets nuuts te leer nie!

Dries Moolman ·

En wat van die onbevoegde IT-baas by SARS?? Sy moes sommer summier afgedank gewees het na haar eskapades op tv!

Nonnie ·

Die skorsing is ‘n foefie, en hulle ontvang hulle volle salarisse om NIKS te doen nie. Die vertroue sal nooit herstel word,terwyl die ANC en sy kaders in beheer is nie!!!!!!!!!!!

Hanlier ·

Ja, en ons sukkel om kop bo water te hou en ons moet net betaal, betaal, betaal!!!!! Lekker lang verlof. Stupid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.