Hoës in hof oor bedrog van R6,7 miljoen

Ongeslypte diamante (Foto: Kimberley International Diamonds Jewellery Academy via kidja25/Facebook)

Vier hoofde van die departement vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme het in die Kimberley-landdroshof verskyn op aanklag van bedrog, oortreding van die Diamantwet en oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Patrick Seboko (66), ʼn voormalige hoof van die departement, Kuberin Packirisamy (60), hoof- finansiële beampte, Tebogo Basil Gaborone (46), senior bestuurder van die projekspan, en Lizette Wyngaard (56), hoofdirekteur vir handel en sektorontwikkeling, het Woensdag en Donderdag in dié hof verskyn.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê die aanklagte hou verband met skenkingsfinansiering van meer as R6,7 miljoen wat van die Europese Unie ontvang is tydens die 2010/2011- finansiële jaar. Die fondse moes gebruik word vir opleiding van studente om diamante te slyp en te poleer.

Die diamante is in Maart 2011 van ʼn privaat entiteit aangeskaf sonder die nodige lisensies om ongeslypte diamante aan te koop. Die diamante is gevolglik op die perseel van dieselfde privaat entiteit gestoor.

Veertig studente het in dié jaar ingeskryf sodat hulle ʼn mynbou-kwalifiseringskursus kon ondergaan in die slyp en polering van diamante deur Kimberley International Diamonds Jewellery Academy (KIDJA).

“In Julie 2012, tydens ʼn lukrake inspeksie deur die ouditeur-generaal, is daar bevind die diamante word vermis.”

Die saak teen die vier verdagtes is tot 22 Oktober 2021 uitgestel. Hulle is almal vrygelaat op borgtog van R10 000 elk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.