Kapt. Bonginkosi Msimango, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die polisie is versoek om op die uitkyk te wees vir ʼn silwer Chevrolet Lumina SS nadat die voertuig glo Dinsdag by ʼn huisbraak in Midrand betrokke was.
“Donderdagoggend het lede van die Johannesburgse Metropolisie (JMPD) die voertuig in Midrand gewaar en dit agternagesit. ʼn Hoëspoedjaagtog het gevolg tot in Centurion waar die verdagtes op die polisie losgebrand het. Die polisie het teruggeskiet. Die verdagtes het beheer oor die voertuig verloor en op die hoek van Ou Johannesburg- en Brakfontein-weg teen ʼn Jeep gebots,” het Msimango gesê.
Een van die verdagtes is dood en ʼn tweede verdagte, ʼn 35-jarige man, is op die toneel in hegtenis geneem, het hy gesê. Dit is in dié stadium nie duidelik of die verdagte in die botsing gesterf het of deur die polisie doodgeskiet is nie.
Volgens Msimango het die bestuurder van die Jeep kopbeserings opgedoen en moes na ʼn hospitaal gehaas word. Die JMPD-lede is nie beseer nie.
“’n Saak van roekelose en nalatige bestuur en ʼn geregtelike doodsondersoek is by die Olievenhoutbosch-polisiestasie aanhangig gemaak. Die saak van huisbraak word deur die Midrand-polisiestasie hanteer,” het hy gesê.
Ai, hartseer die skade aan die voertuie . . .
Net graag ‘n regstelling. Ek het verby hierdie ongeluk gery en dit was op die hoek van Uo Johannesburgweg en Uitzicht, nie Brakfontein nie.
Dagsê Wessel
Baie dankie vir jou boodskap. Die inligting in die berig is soos dit deur die polisie aan Maroela Media verskaf is.
Vriendelike groete
Mariné
nms Maroela Media
goeie nuus!spaar geld aan hofsake
Die fotos is geneem op die h/v Ou Johannesburg en Brakfontein weg
Wessel, dit klink asof jou ‘regstelling’ toe alles behalwe dit was.
Nie ernstig nie egter – feit is dat die insident gebeur het en gerapporteer is.