Hoëvlakplan vir ‘uitdagings’ by Pretoriase hooggeregshof

Die hooggeregshof in Pretoria. (Foto: Twitter)

Die kantoor van die hoofregter het vandeesweek die versekering gegee dat alles moontlik gedoen word om toegang tot geregtigheid vir die publiek moontlik te maak nadat verskeie uitdagings die afgelope ruk by die Pretoriase hooggeregshof opgeduik het.

Maroela Media het vroeër berig talle prokureurs is raadop met die gebruik van ʼn elektroniese stelsel waarna die hof weens die Covid-19-pandemie oorgeskakel het. Aangeleenthede wat hulle gewoonlik persoonlik by die hof kon hanteer, moet nou elektronies gedoen word.

Prokureurs het onder meer gekla dat die e-pos‑adresse waarheen hulle versoeke vir hofdatums of nuwe sake moet stuur, soms weke aaneen vol is. Die probleme wentel grootliks om vier kwessies: Aansoeke vir verhoordatums op die siviele hofrol, die plaas van sake op die hofrol, die uitreik van hofstukke vir bevel- en mosieaansoeke en aansoeke vir datums vir onbestrede mosies.

Die hof gebruik ook ʼn stelsel genaamd CaseLines, ʼn elektroniese bewysbestuurstelsel, maar talle regslui het gekla dat dié stelsel nie behoorlik funksioneer nie.

Nathi Mncube, woordvoerder van die kantoor van die hoofregter, sê hoewel daar ʼn “vertraging” in die uitreik van dokumente is, het sake by die hof allermins tot stilstand gekom. “Die meeste versoeke wat na die CaseLines-e‑pos-adresse gestuur word, voldoen nie aan die direktiewe nie en dra by tot die verstopping van die stelsel.

“Die agterstand word vererger weens die feit dat regslui talle e-posse oor dieselfde kwessie enige tyd van die dag of nag stuur. Weens die nie-voldoening aan CaseLines-direktiewe, moet hofamptenare nou ʼn buitensporige hoeveelheid tyd spandeer om deur herhalende e-posse wat na die verkeerde adresse gestuur word, te werk,” het Mncube gesê.

Hy ontken dat daar ʼn agterstand met die uitreik van nagenoeg 5 000 hofstukke is en sê volgens die kantoor van die hoofregter se assessering is die agterstand nie meer as 2 000 nie.

“Bykomende personeel is aangestel en die agterstand sal binne die volgende twee weke uitgewis wees.”

Mncube het gesê die CaseLines-platform is ten volle operasioneel hoewel regslui soms verkies om nie hul hofstukke daarop te laai nie, moontlik in die hoop dat dit gaan lei tot ʼn fisiese verhoor.

Weens die Covid-19-pandemie en die afsonderingsregulasies word sommige sake in hierdie stadium aanlyn aangehoor.

Mncube het ook gesê ten spyte van die bewering dat datums vir siviele verhore en onbestrede mosies nie toegeken word nie, dit wél gedoen word. Datums vir siviele verhore word egter net toegeken vir sake wat gereed is vir verhoor. Volgens hom gaan takserings steeds voort.

Hy het in reaksie op die bewering dat hofamptenare nie beskikbaar is vir die uitreik van dagvaardings nie, gesê die griffier en klerke in die afdeling vir siviele verhore was die afgelope drie weke in isolasie nadat sommige amptenare positief vir Covid-19 getoets het. “Sedert die naweek van 25 Julie is die griffier en haar span terug by die kantoor om sake wat in hul afwesigheid ingedien is, te hanteer.”

Mncube het gesê buiten dié amptenare wat nog in isolasie is, is die res van die span weer op hul pos.

Maroela Media het ook berig dat telefone onbeantwoord bly, waarop Mncube gesê het ʼn nuwe telefoonstelsel is by die hof in werking gestel. “Die kantoor van die hoofregter is daarvan bewus dat uitdagings ondervind word en tegnici gee aandag aan die kwessie. Ons doen ʼn beroep op die publiek om geduldig te wees.”

Regslui het ook gekla dat sommige amptenare omkoopgeld vra om dokumente te liasseer of uit te reik. Volgens die kantoor van die hoofregter is regslui al telkemale genooi om dié amptenare uit te wys sodat interne en strafregtelike ondersoeke teen hulle van stapel gestuur kan word. “Daar is tot dusver nie aan hierdie versoek voldoen nie. Dit is ʼn bykans onbegonne taak om ongenoemde korrupte hofamptenare voor stok te kry,” het Mncube gesê.

Hy het ook gesê die Pretoriase Prokureursvereniging (PPV) is tydens ʼn vorige vergadering ingelig dat bodes van regsfirmas betrokke is by korrupte bedrywighede en gevra moet word om dié gebruik te staak.

Mncube het gesê die regter‑president en waarnemende adjunk‑regter‑president was albei teenwoordig by dié vergadering met die vereniging en dat al die kwessies wat daar geopper is, deurgetrap en antwoorde gegee is. Mncube het gesê die PPV is ook gevra om sy lede te vra om CaseLines op die voorgeskrewe manier te gebruik en direktiewe behoorlik te volg.

Volgens het die hooggeregshof se bestuurspan, wat bestaan uit die regbank, die griffiers en die hofbestuurder, verlede week vergader om vir die volgende hoftermyn voor te berei en enige bedryfsuitdagings wat met CaseLines verband hou, op te los en remediërende maatreëls in te stel.

“ʼn Hoëvlak-aksieplan is ontwikkel om oplossing vir uitdagings soos uiteengesit te bespoedig. Dit sal opleiding van sekere amptenare insluit, asook die verskaffing van toerusting wat by die stelsel inskakel,” het Mncube gesê.

“Die kantoor van die hoofregter wil die publiek verseker dat elke poging aangewend word om te verseker dat litigante in hierdie uitdagende tye nie toegang tot geregtigheid ontneem word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stofdonkie ·

Baie verskonings maar geen oplossings nie. In kort ontken hy net alle probleme.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.