Hoewe-aanval: Ma, seun met panga en staalpyp aangerand

Argieffoto: Lorraine Claasen

ʼn Bejaarde ma en haar seun is ernstig beseer nadat hulle Maandag op hul kleinhoewe buite Louis Trichardt in Limpopo aangeval is.

Joekie Nortjé (80) en haar seun Johan (62) is deur vyf gewapende mans oorval nadat die aanvallers hulle as voornemende kopers voorgedoen het, het Dippie Nortjé, Joekie se ander seun, gesê. “Hulle het gesê hulle wil varke koop en die werkers het vir hulle die varke gaan wys.”

Volgens Nortjé is die twee werkers met draad vasgebind en is sy broer oorrompel en ook vasgebind toe hy van die huis af buite toe is. Johan is vermoedelik met ʼn staalpyp en panga aangerand en het ernstige kopbeserings opgedoen. Die werkers is ook aangerand, maar het nie ernstige beserings opgedoen nie.

Johan is aanvanklik na ʼn plaaslike hospitaal gehaas maar is later na die Mediclinic Limpopo in Polokwane oorgeplaas weens die aard van sy kopbeserings.

Joekie is in die huis oorval. Sy het verskeie kapwonde aan haar hande opgedoen en volgens Nortjé sal sy heel moontlik geopereer moet word om skade aan die spiere en weefsel te probeer herstel. Joekie is van die plaaslike hospitaal na die Mediclinic Tzaneen oorgeplaas vir verdere behandeling.

Volgens Nortjé kon sy ma daarin slaag om die aanvallers in die huis toe te sluit en na ʼn buitekantoor te vlug waar sy haarself toegesluit en hulp ontbied het. Die aanvallers kon egter daarin slaag om uit die huis te ontsnap en het met selfone en kontant op die vlug geslaan.

“Ek was eerste op die toneel en het my broer gevind waar hy met ʼn emmer oor sy kop naby die hoofingang van die hoewe gelê het.” Johan en sy ma het alleen op die kleinhoewe gewoon.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig en gesê ʼn handsak en vuurwapen is ook tydens die voorval gesteel. Hy het gesê ʼn grootskaalse soektog is na die verdagtes van stapel gestuur.

Annette Kennealy (Foto: Facebook)

Die aanval kom nadat die plaasmoord-aktivis Annette Kennealy verlede week op ʼn kleinhoewe buite Louis Trichardt vermoor is. ʼn Werker van Kennealy is kort na die moord in hegtenis geneem. Kenny Ramatshimbila (40) het Donderdag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van moord en huisroof nadat hy Dinsdagaand in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy werkgewer.

Kennealy (51) se liggaam is Maandag omstreeks 09:00 op die Welgevonden-kleinhoewes met ernstige kopbeserings aangetref.

Kennealy het op haar maag gelê en het beserings aan haar linkeroog asook ʼn oop wond aan haar voorkop gehad. ʼn Hamer het op die toneel gelê en sy het ook ʼn ysterstaaf om haar nek gehad.

Ramatshimbila sal op 1 Julie weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Helena.

Dis darem baie tragies. Bly hulle lewe maar die ondervinding is gruwelik. Sulke lafaards moet gesoek word. Kan oumense nie tog maar die klein hoewes ruil vir n veiliger hawe nie?

boerboel

Dankie dat hulle het dit oorleef. So kan dit nie aangaan nie.

Koos de Meyer.

Elke dag lees ons van moord op ons blankes. Wanneer ons hulle vang gaan hulle ‘n ander deuntjie sink. Wees paraat en moet niemand vertrou nie. Kyk die onskuldige twee kinders op N12 koelbloedig vermoor. Nou praat hulle van versoening, my voet.

Allasby

Wanneer gaan dit einde kry?

lulu

Die Bybel se in Mt.7:12 se “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen………

So die Kenny wat Annette met n hammer vermoor het…..

Los dit maar daar