Hoewe-aanval: Ma, seun met panga en staalpyp aangerand

Argieffoto: Lorraine Claasen

ʼn Bejaarde ma en haar seun is ernstig beseer nadat hulle Maandag op hul kleinhoewe buite Louis Trichardt in Limpopo aangeval is.

Joekie Nortjé (80) en haar seun Johan (62) is deur vyf gewapende mans oorval nadat die aanvallers hulle as voornemende kopers voorgedoen het, het Dippie Nortjé, Joekie se ander seun, gesê. “Hulle het gesê hulle wil varke koop en die werkers het vir hulle die varke gaan wys.”

Volgens Nortjé is die twee werkers met draad vasgebind en is sy broer oorrompel en ook vasgebind toe hy van die huis af buite toe is. Johan is vermoedelik met ʼn staalpyp en panga aangerand en het ernstige kopbeserings opgedoen. Die werkers is ook aangerand, maar het nie ernstige beserings opgedoen nie.

Johan is aanvanklik na ʼn plaaslike hospitaal gehaas maar is later na die Mediclinic Limpopo in Polokwane oorgeplaas weens die aard van sy kopbeserings.

Joekie is in die huis oorval. Sy het verskeie kapwonde aan haar hande opgedoen en volgens Nortjé sal sy heel moontlik geopereer moet word om skade aan die spiere en weefsel te probeer herstel. Joekie is van die plaaslike hospitaal na die Mediclinic Tzaneen oorgeplaas vir verdere behandeling.

Volgens Nortjé kon sy ma daarin slaag om die aanvallers in die huis toe te sluit en na ʼn buitekantoor te vlug waar sy haarself toegesluit en hulp ontbied het. Die aanvallers kon egter daarin slaag om uit die huis te ontsnap en het met selfone en kontant op die vlug geslaan.

“Ek was eerste op die toneel en het my broer gevind waar hy met ʼn emmer oor sy kop naby die hoofingang van die hoewe gelê het.” Johan en sy ma het alleen op die kleinhoewe gewoon.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig en gesê ʼn handsak en vuurwapen is ook tydens die voorval gesteel. Hy het gesê ʼn grootskaalse soektog is na die verdagtes van stapel gestuur.

Annette Kennealy (Foto: Facebook)

Die aanval kom nadat die plaasmoord-aktivis Annette Kennealy verlede week op ʼn kleinhoewe buite Louis Trichardt vermoor is. ʼn Werker van Kennealy is kort na die moord in hegtenis geneem. Kenny Ramatshimbila (40) het Donderdag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van moord en huisroof nadat hy Dinsdagaand in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy werkgewer.

Kennealy (51) se liggaam is Maandag omstreeks 09:00 op die Welgevonden-kleinhoewes met ernstige kopbeserings aangetref.

Kennealy het op haar maag gelê en het beserings aan haar linkeroog asook ʼn oop wond aan haar voorkop gehad. ʼn Hamer het op die toneel gelê en sy het ook ʼn ysterstaaf om haar nek gehad.

Ramatshimbila sal op 1 Julie weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Helena. ·

Dis darem baie tragies. Bly hulle lewe maar die ondervinding is gruwelik. Sulke lafaards moet gesoek word. Kan oumense nie tog maar die klein hoewes ruil vir n veiliger hawe nie?

C VL ·

Sjoe, elke dag nuwe moorde en aanvalle. Dit kan mos nie geisoleerde gebeure wees nie. En die wreedheid daarvan waaroor ons nie al die details in die media kan lees nie… Iewers moet hierdie goed georkestreer word.

M ·

Helena, baie oumense se hele lewe is gewy aan daai lappie grond. Daar is nie baie kopers nie en sonder daardie geld, waar gaan hulle regkom om ‘n veiliger heenkome te vind.

Marietjie ·

Hierdie lappie grond soos julle daarna vernoem is baie meer as net dit. My ouers het dit gekoop met harde werk, bloedsweet en trane in 1967 . Ek het baie heerlike herinneringe daar opgebou, so ook albei my broers en suster, eggenotes, kinders en kleinkinders. Om van iemand te verwag om op te pak en stad toe te gaan agter sogenaamde veiliger om net ingehok te wees is baie onregverdig. My ma het haar goed teëgesit. Ons is almal dankbaar dat hul gespaar is tenspyte van al die skade wat aangerig is en nog die lang pad na herstel. Party mense het geen respek vir ander mense of hul goed nie en daarmee het ek n probleem. Gemeenskappe ongeag hul kleur moet begin saamstaan teen misdaad en korupsie.

Koos de Meyer. ·

Elke dag lees ons van moord op ons blankes. Wanneer ons hulle vang gaan hulle ‘n ander deuntjie sink. Wees paraat en moet niemand vertrou nie. Kyk die onskuldige twee kinders op N12 koelbloedig vermoor. Nou praat hulle van versoening, my voet.

lulu ·

Die Bybel se in Mt.7:12 se “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen………

So die Kenny wat Annette met n hammer vermoor het…..

Los dit maar daar

Elsie Cloete ·

Ek voel baie sterk daaroor dat die DOODSTRAF ingestel moet word! Dis al manier dat hierdie sinnelose, grusame moorde gestop sal word! Dan sal die tronke ook byna leeg wees en die finansiële las op die paar belastingbetalers van die land, wat miljoene moet onder hou, ook baié minder wees. Nou word die mense wat wel belasting betaal, ook nog uitgemoor! WONDER NET WAAR DIE GELD OM ALLES TE ONDERHOU, LATER VANDAAN SAL KOM! Net God kan ons help!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.