ʼn 34-jarige man het in die hooggeregshof in Port Elizabeth in die Oos-Kaap skuld beken vir die moord op Jean Lombard (67).
Regter Irma Schoeman het Ralton Koetaan skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede, diefstal en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.
Koetaan het vir ʼn tuindienstemaatskappy gewerk wat instandhoudingswerk gedoen het op die kleinhoewe in Rocklands aan die buitewyke van Port Elizabeth waar Lombard gewoon het.
Volgens Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Koetaan beweer dat Lombard hom van einde 2018 af vir seksuele gunsies betaal het. Koetaan voer aan dat dit verskeie kere gebeur het en dat hy elke keer betaal is.
Daar is die oggend van 29 April 2019 op Lombard se liggaam in sy huis afgekom. Lombard se hande en voete was vasgebind en hy het ʼn kopwond gehad. Sy huis is geplunder en die kluis het oopgestaan.
Koetaan is dieselfde dag by ʼn huis in die Tiryville- informele nedersetting in Uitenhage in hegtenis geneem nadat items wat tydens die moord gesteel is, in sy besit gevind is.
Koetaan beweer dat hy die dag van die moord weer seksuele gunsies vir Lombard gedoen het, maar dat Lombard dié keer gesê het hy het nie geld om hom te betaal nie en dat hy die volgende keer sou betaal.
Volgens Koetaan was hy woedend aangesien hy nie taxigeld gehad het nie en ure lank sou moes huis toe loop. Hy het na ʼn stoorkamer gegaan en ʼn stuk tuingereedskap gekry waarmee hy Lombard vermoor het.
Koetaan het onder meer ʼn vuurwapen, ammunisie en ʼn selfoon uit die huis gesteel voor hy met ʼn fiets van die toneel gevlug het.
Die saak is tot 23 Maart uitgestel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Dit is altyd min of meer dieselfde stories as party mense nie meer weet wat om te se nie dan is dit seksuele toenadering of gunsies. Duidelik praat hy nonsense.Lewenslank!!!!
En die slagoffer is nie beskikbaar om hierdie blatante liegstories te weerspreek nie.
Dieselfde is destyds oor ET gese maar dis nog geen rede vir moord nie. Dan moes hy ‘n klag teen die man gemaak het nadat hy hom die eerste keer genader het.
Werklik nou????
Watse gunsies sou dit nou wees?? Hy probeer nou n verweer kry en die werklike haat verdoesel. Hy is heelmoontlik aangepraat deur iemand om die moord te pleeg. Dit was lank vooruit beplan en swak uitgevoer of uitgevoer soos wat die 3e instansie dit wou he…. Iemand moet die val vat en die verweer….. Seksueele gunsies.