Die konstitusionele hof het Donderdag ʼn uitspraak in die hooggeregshof bekragtig dat die privaat finansiering van politieke partye en onafhanklike kandidate redelik toeganklik moet wees.
Die hof het die Wes-Kaapse hooggeregshof se bepaling, dat die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) in dié verband ongrondwetlik is, bekragtig. “Die parlement moet PAIA binne 18 maande wysig en die nodige maatreëls toepas om seker te maak dat daar redelike toegang is tot die inligting oor die privaat finansiering van politieke partye en onafhanklike kandidate,” aldus die hofbevel.
Die niewinsgewende organisasie My Vote Counts het die saak voor die hof gebring. Die organisasie voer aan kiesers moet toegang hê tot die inligting oor partyfinansiering om seker te maak hulle reg word tydens die verkiesing uitgeoefen.
Die hooggeregshof het verlede jaar bevind PAIA is dubbelsinnig in die verband en hoofregter Mogoeng Mogoeng het Donderdag in die konstitusionele hof gesê die wet is “gebrekkig”, aangesien dit nie voorsiening maak dat die inligting oor die privaat finansiering van politieke partye aangeteken word, in veilige bewaring gehou word, en dit redelik beskikbaar gemaak word aan die kiesers nie.
My Vote Counts het gesê hy is “ongelooflik tevrede” met die uitspraak, aangesien die organisasie van mening is dat dit Suid-Afrika se politieke stelsel sal verbeter. “Hierdie geskiedkundige uitspraak bied aan Suid-Afrikaanse kiesers die geleentheid om bykomende inligting te kry wanneer hulle besluit vir wie hulle wil stem.”
Die parlement is glo reeds besig om ʼn nuwe wetsontwerp saam te stel om groter deursigtigheid te verseker oor die finansiering van politieke partye. Dit sal na verwagting later vanjaar voorgehou word.
Sluit dit die ANC in of is dit net vir die opposisie partye
Sal baie insiggewend wees om te sien wie hou wie polities aan die lewe….
Oo gats, wat gaan EFF se…. ?! Transito rooftogte?
Dit is fantastiese nuus!
Ek dink tog n paar borge gaan gespur word sou hul hartsake aan die lig kom.