Hof beslis dat presidensiële handboek openbaar gemaak moet word

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die hooggeregshof in Pretoria het vandag ná ’n uitgerekte regstryd tussen AfriForum en die presidensie beslis dat die omstrede presidensiële handboek openbaar gemaak moet word.

Werner Human, AfriForum se regsverteenwoordiger wat aan die firma Hurter Spies Ingelyf verbonde is, het gesê die handboek moet ook voor óf op 30 November 2015 aan AfriForum voorsien word. Dié dokument bevat die reëls vir die gebruik van openbare fondse om enige vermaak-, verblyf- en reiskoste van die president en adjunkpresident te betaal. AfriForum het ook met ’n kostebevel geslaag, wat die koste van twee advokate insluit.

AfriForum het die hofaansoek in openbare belang ingedien om die reëls vas te stel wat vir presidensielede se privaat vakansies op staatskoste geld.

Die regstryd duur sedert Desember 2012 toe Kgalema Motlanthe, die destydse adjunkpresident, ’n vakansie van ongeveer R2 miljoen op die Seychelle-eilandgroep gaan hou het waarvoor die belastingbetaler moes betaal. Dit het gebeur kort nadat Motlanthe in die ANC-leiersverkiesing deur pres. Jacob Zuma geklop is. Zuma het ook in dié tydperk op die Bazaruto-eiland buite Mosambiek vakansie gaan hou, waarvoor die belastingbetaler ongeveer R1,6 miljoen moes opdok.

Nadat die adjunkpresident se woordvoerder verduidelik het dat die presidensiële handboek sulke duur vakansies op staatskoste vir lede van die presidensie toelaat, het AfriForum ’n afskrif van die handboek kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting versoek. Die versoek is egter deur die presidensie geweier.

“Wat verblydend is, is dat dié saak die voltooiing van die presidensiële handboek nou tot ’n punt dwing. Die handboek is sedert 2007 in ontwerpstadium en die voltooiing daarvan het sedertdien gesloer,” het Human gesê.

“Die publiek het ’n belang om te weet hoe belastinggeld aangewend word, veral deur die hoogste regeringsvlak en veral waar uitgawes vir privaat doeleindes aangegaan en deur die staat gefinansier word,” het Human bygevoeg.

Dit het ook aan die lig gekom dat die kabinet in 2007 reeds ’n beleid aanvaar het wat moes geld terwyl die presidensiële handboek nog in konsepvorm is. AfriForum gaan die stryd voortsit en opnuut ’n versoek aan die presidensie rig om dié beleid in terme van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting te ontvang. AfriForum is bereid om die stryd tot die einde toe te voer.

Sou die presidensiële handboek nie teen 30 November 2015 aan AfriForum beskikbaar gestel word nie, sal AfriForum ’n grondige beweegrede hê om ’n aansoek om minagting in te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hennie ·

Dis niks anders as diefstal nie , ander persone sal nou die skuld kry vir die betaling van die rekening

Gesie ·

Baie geluk Afriforum! Julle veg verbete vir die toekoms van hierdie land! Ons het almal nodig om ons slagoffer-meraliteit af te skud en saam te staan agter julle!

GES ·

Ek is ‘n trotse lid van Afriforum. Baie geluk , roep die mense tot verantwoording. Ons staan agter julle. Klein hamertjies breek groot rotse, ons net nie moed opgee nie.

wickus ·

elke belastingbetaler het die reg om te weet hoe die belasting spandeer word !

Piet Snot ·

Presies.
Die regeerders is dienaars vd burgers, word deur ons (wow, daai “ons” was moeilik om te skryf!) verkies, en moet aan ons verantwoording doen.

Bach ·

Dis mos die Kabinet wat die kastige handboek opstel. So hulle kan enige ding daar inskryf om hulself te bevoordeel en agterna se hulle het volgens die boek op getree. Dis ‘n groot klug.

REGINA ·

Ek sal glad nie verbaas wees as daardie handboek gaan se dat “onbeperkte besteding vir vakansies op enige bestemming op n onbeperkte aantal vrouens, kinders en ander familielede en vriende goedgekeur is vir so lank as wat ‘Nommer Een en Nommer Twee’ dit verkies om ‘uit te rus’, , alles ingeslote!” Hoe ironies, die ANC maak hul eie wette en die belastingbetalers moet maar net onwetend vir sulke vergrype “hoes!” Uiterste onaanvaarbare tendens! Wanneer gaan dit ooit eindig? Dis onrusbarend om te weet ons belastingbetalers moet daardie vermorsing van gelde betaal!

Sarie ·

En daar gaan nog baie hofsake oor die volgende paar jaar wees om daai boek in die hande te kry en aan die einde van die dag gaan ook hierdie hofuitspraak stil-stil verdwyn en weereens is die belastingbetalers se geld gemors

Peet J ·

Wie trek nou eintlik voordeel uit die hofsake defnitief nie die belastingbetaler nie as die regering die hofsaak verloor dan gebruik hulle belasting geld om die onkoste te betaal die prokureurs en advokate wat betrokke is lag heeltyd bank toe. Is daar enige terugbetalings al gemaak deur regeringsamptenare wat belastinggeld misbruik het, ek dink nie so nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.