Hof beslis ná bakkie onnie sleep

Suzanne Leyden en haar seun, Armand. Foto: Verskaf

Suzanne Leyden en haar seun, Armand. Foto: Verskaf

Suzanne Leyden (39), die Johannesburgse onderwyseres wat in 2014 etlike meters ver met ʼn bakkie gesleep is, het geen skuld in die voorval gehad nie.

Só het die hooggeregshof in Johannesburg Maandag beslis in die saak tussen Leyden en die Padongelukkefonds (POF). Leyden het ʼn eis teen die POF ingestel om haar mediese en ander toekomstige uitgawes te dek. Die POF het aanvanklik aangevoer dat sy 40% skuld in die voorval gehad het, maar die hof het beslis dat dit nié die geval is nie.

Marlize Leyden, Suzanne se suster, het Woensdag aan Maroela Media gesê daar lê egter nog ʼn lang proses voor voordat die eis finaal afgehandel sal wees. “Dit is baie goeie nuus dat die hof bevind het Suzanne het geen skuld in die ongeluk gehad nie, maar oor die presiese bedrag wat aan haar uitbetaal sal word, moet daar nog besluit word. Die proses kan nog etlike maande neem,” het Marlize gesê.

Leyden word deur Douglas McCusker verteenwoordig.

Marlize het gesê Leyden het skade ná die ongeluk oorgehou, onder meer doofheid in haar een oor. Sy beplan om ʼn kogleêre inplanting te kry om haar gehoor te herstel sodra die POF geld aan haar uitbetaal. “Suzanne sê self sy het nou baie empatie met gehoorgestremde mense, omdat sy nou weet wat die uitdagings is met beperkte gehoor. Sy het selfs begin om gebaretaal te leer.”

Maroela Media het vroeër berig Leyden, voorheen ʼn Afrikaans-onderwyseres by Hoërskool Sandown in Sandton, was op 20 November 2014 op pad skool toe, toe sy omstreeks 07:00 in ʼn geringe botsing by die William Nicol-rylaan en Sandtonweg-kruising betrokke was.

ʼn Ooggetuie wat langs die pad gestaan het, het gesien hoe ʼn man in ʼn wit bakkie glo Leyden se wit Audi A4 van agter tref. Toe sy hom nader om kontakbesonderhede uit te ruil, het die twee glo begin stry en sy het haar arm in die voertuig gesteek om moontlik sy sleutels af te neem. Die man het na bewering haar arm in die elektroniese venster vasgedruk, begin wegry en haar saamgesleep.

Die bestuurder het homself ’n paar dae later by die polisie aangemeld.

Leyden was lank in ʼn koma ná die voorval en het veelvuldige en ernstige beserings opgedoen. Deon Schoeman, die bestuurder van die bakkie, is van poging tot moord aangekla, maar die klag is later teruggetrek weens ʼn tekort aan bewyse.

Lees alle vorige berigte oor Suzanne Leyden op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

ja neh ·

Klag terug getrek? Te kort aan bewyse?? Mense het hom dan gesien En hy het homself by die polisie aangemeld so dit tel as skuld erkening… Nou hoe nou???

ek ·

So die man kom nou maar net weg daarmee? Daai vrou was amper dood en daar word absoluut niks aan die man gedoen nie? Tipies Suid Afrika

Johann ·

Maar as hy onwettig gem6n het…ZammaZamma myner…dan was hy beslis skuldig EN vir meet.as.20 jaar in die tronk….ons “reg stelsel” is n narre paradys. Pas by die handpoppe wat om.die hoof nar en sy trawante draai.

JJ ·

Ek is inderdaad geskok dat Deon Schoeman niks oorgekom het nie. Ek glo as ons ‘n beter polisiemag gehad het was hy wel strafregtelik vervolg vir poging tot moord. Dis absoluut skandelik! Hoop maar carma vind hier plaas!

Snuffels ·

Ja, die breëbors double-cab bakkie brigade….

Baie braaf om ‘n vrou te verniel….

Karen van Zyl ·

Ek vra met trane in my oë hoe het iemand wat gesleep is 40% skuld??

t ·

Hy het nie uit sy voertuig geklim nie. Sy het probeer om iets in sy voertuig te doen, Sleutels gryp? Geringe botsing. Alles dui daarop dat sy die aggressor was. Sy groot fout was om weg te ry. Ek sou ‘n 50% skuld by haar gaan soek het. As sy haar arm in my motor indruk gaan ek hom beslis nie net met die ruit knyp nie.

Speedguard ·

Net ter inligting, hierdie het NIKS met die kriminele deel van die saak te doen nie, dit word afsonderlik gedoen , hierdie is ‘n saak/eis teen die POF en word per % bepaal deur die meriete van die saak ! Glo my die man sal of is aangekla vir sy roekelose optrede !

Adri ·

Hy is inderdaad volgens die berig aangekla van poging tot moord, maar die klag is later teruggetrek weens ‘n tekort aan bewyse. Die vorige reaksies is dus geregverdig.

Speedguard ·

Met die uitspraak kan daar nou weer ‘n saak aanhangig gemaak word, die saak was /is terug getrek maar is dit nie ‘n onskuldige of skuldige uitslag nie dus kan die saak weer voortgaan met die Regter se bevindinge !

Louis strydom ·

Vra maar net kan sy nie ook n siviele eis teen die verskriklike brawe muis insit nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.