Hof beslis oor Australiese pedofiel se uitlewering

Argieffoto

Die Wynberg-landdroshof het Woensdag beslis ʼn Australiese pedofiel, Anthony Peter Freedendal, moet na sy tuisland uitgelewer word om daar op ʼn reeks seksuele aanklagte tereg te staan.

Die hof het verder beslis Freedendal moet in die Pollsmoor-gevangenis aangehou word totdat Michael Masutha, minister van justisie, ʼn finale besluit oor sy uitlewering gemaak het. Freedendal het 15 dae kans om in die Wes-Kaapse hooggeregshof teen die hofuitspraak te appelleer.

Adv. William Booth vir die verdediging het na afloop van die hofverrigtinge gesê hy het nog geen instruksies van sy kliënt ontvang oor ʼn moontlike aansoek om appèl nie. Hy het gesê hy sal wel voorleggings aan Masutha maak om te versoek dat Freedendal se ouderdom en gesondheid in ag geneem word.

Freedendal is 76 jaar oud en ly aan kanker, tuberkulose, diabetes en hoë bloeddruk. Booth het gesê hy sal ook versoek dat die minister in ag neem dat Freedendal reeds ʼn vonnis in Kaapstad vir soortgelyke oortredings uitdien.

Freedendal is in Julie 2011 in Port Lincoln in Australië in hegtenis geneem op aanklagte in verband met die beweerde seksuele mishandeling van kinders. Volgens die hofdokumente is die beweerde oortredings van Junie 1999 tot Januarie 2003 gepleeg met meisies en seuns tussen die ouderdomme van 7 en 11 jaar. Een van die beweerde slagoffers is ʼn 9-jarige verstandelik gestremde meisie.

Freedendal is op borgtog vrygelaat en is later toestemming gegee om Suid-Afrika te besoek op voorwaarde dat hy teen 21 November 2011 terugkeer na Australië. Hy het nooit teruggekeer nie.

Hy is later in Kaapstad in hegtenis geneem en aangekla van die seksuele mishandeling van agt kinders. Hy het skuld op die aanklagte teen hom erken en is ʼn vonnis van vyf jaar opgelê, waarvan 10 maande in die gevangenis uitgedien moet word en die res onder korrektiewe toesig. Teen die tyd dat hy op parool vrygelaat moes word, het die Australiese owerhede sy uitlewering versoek.

Landdros Xoliswa Ndoyana het Woensdag in haar uitspraak gesê sy het bevind die uitleweringsaansoek voldoen aan die beginsel van dubbele kriminaliteit. Hierdie beginsel bepaal dat die misdaad waarvoor die uitlewering aangevra word in beide lande ʼn oortreding moet wees. Die oortredings waarvan Freedendal in Australië beskuldig word, is dus ook oortredings in Suid-Afrika.

Ndoyana het ook gesê sy is tevrede dat die Australiese owerhede genoeg bewyse gelewer het om Freedendal se vervolging in Australië te regverdig. Sy het verwys na verskeie argumente wat Booth in hierdie verband gemaak het, maar het gesê dit is bloot haar plig om te bepaal of Freedendal aanspreeklik is om uitgelewer te word, en die finale besluit berus steeds by die minister van justisie.

Freedendal se vrou, Jo, was in die openbare galery tydens die uitspraak. Sy het hom gegroet toe bewaarders hom by die trappe af na die aanhoudingselle geneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Boet Fasie ·

Ja stuur hom terug na sy land, hier is nie plek vir pedofiele en uitlanders wat kinders selsueel kom mishandel nie.

Dina ·

Waarom so ‘n ligte vonnis? Hy het nie een nie, maar heelwat onskuldige jong lewens permanent VERWOES. Mag Australië die uiterste erns van dié kriminele gedrag ten diepste besef en daarvolgens handel.

Nicolaas ·

William Booth, jou kierankies sal nog braai. Dis nou regtig nie nodig om so oorboord te gaan vir ‘n pedofiel nie. Sou jy hom steeds verdedig het as hy jou kinders of kleinkinders molesteer/ verkrag het? ?

Peanut ·

Stuur hom terug hyt nie sy slagoffers se ouderdom in ag geneem nie, ook nie die emmosionele
skade wat hy aan hul gedoen het nie. Vra my daai skade genees nooit!!!! Pedofiele het nie n gewete nie hul dink dus reg wat hul aan ander doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.