Hof beslis oor Guptas se straler-aansoek

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Die Suid-Gautengse hooggeregshof het Donderdag lede van die Gupta-familie se verlof om te appelleer teen ʼn tussentydse hofbevel wat hulle dwing om hul luukse gehuurde straler aan sy buitelandse eienaar terug te gee, van die hand gewys.

Regter Fayeeza Kathree-Setiloane het in Maart beslis dat die Bombardier 6000-straler oorhandig moet word en by die Lanseria-lughawe noord van Johannesburg geberg moet word.

Die Guptas het op 23 Maart aansoek gedoen om teen die beslissing te appelleer.

Die Guptas het ʼn huurooreenkoms met Export Development Canada (EDC) en Stoneriver gehad vir die straler, maar is tans gewikkel in ʼn regsgeding in Britse howe oor die ooreenkoms.

Kathree-Setiloane het Donderdag gesê dit is nie in die belang van geregtigheid om ʼn appelaansoek toe te staan hangende van die saak in Brittanje nie.

Adv. Alfred Cockerell het die hof vroeër versoek om EDC se reg om die huurkoopooreenkoms te kanselleer af te dwing, die vliegtuig te laat opspoor en op ʼn veilige plek te berg waar dit nie gebruik kan word in die pleeg van ʼn misdaad nie.

Cockerell, namens EDC, het aan die hof gesê die Guptas het die opsporingstelsel op hul gehuurde vliegtuig afgeskakel nadat ʼn Kanadese bank hul huurkoopkontrak weens betalingsverstek beëindig het. Hy het gesê sy kliënte is genoodsaak om die howe in Suid-Afrika vir dringende ingryping te versoek weens die ontvouende gebeure rondom die Guptas.

Die Guptas skuld glo nog $27 miljoen op die straler. Dié omstrede gesin mag ingevolge ʼn interdik nou nie meer die straler gebruik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Oom Kalahari ·

Die strop trek al nouer vir Zumpies se Staatskapers. Hul geld verduistering opsies raak skraler en minder enas dit so aangaan dan sal Dubai nie lank ‘n veilige hawe vir hul wees nie en al wat oorbly is dat hul met die oranje pak gaan trou.

Daan ·

Hahaha die regering, die verteenwoordegers van … het darem maar ‘n vet bloutjie geloop

Justice ·

Klink vir my of die Guptas steeds op vlug met die straler is nadat die opsporingstoestel afgeskakel is – hoe lank gaan hulle nog daarmee ook wegkom? Moet hulle nie vooraf `n vlugplan met hul vliegtuig identifikasie indien voor opstyging nie? Straal vliegtuie soos die vertrek en arriveer sekerlik nie net by internasionale bestemmings onbeplan en sonder `n radar identifikasie nie.

linda ·

wie wil wed….. daardie vliegtuigie gaan verdwyn in ‘veilige bewaring’……..

SjN ·

Die wat hul beskerm het is nie meer daar nie, lekker, kry vir julle.

piper ·

as daardie vliegtuig nie op die oomblik by lanseria is nie is hy weg.

LHS ·

Glo my vry, BAIE van die wat hulle beskerm, is steeds daar. In n netwerk van bedrog, korrupsie, wanbestuur, noem maar op is so baie mense betrokke wat mekaar gaan beskerm dat die volle omvang nooit bepaal sal kan word nie. As ons weer hoor is die Guptas verhewe tot iets baie na aan Robin Wood .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.