Hof beslis oor oorskryf van uitgelekte vraestelle

(Argieffoto)

Die oorskryf van die twee uitgelekte matriekeksamenvraestelle is ongrondwetlik en matrieks hoef nie hierdie vraestelle oor te skryf nie.

Só het regter Norman Davis Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria beslis nadat die burgerregteorganisasie AfriForum vier matrikulante met ’n dringende aansoek bygestaan het om die departement van basiese onderwys se besluit rakende die herskryf van die uitgelekte vraestelle om te keer.

Die tweede wiskundevraestel en die tweede fisiese wetenskap-vraestel sou ingevolge die besluit op onderskeidelik 15 Desember en 17 Desember oorgeskryf moes word.

Davis het egter beslis dat die besluit ongrondwetlik is. Dit beteken dat geen matrikulant wat bona fide opgetree het die aanvullende eksamens hoef af te lê nie en dat hul eerste poging gemerk en die punte beskikbaar gestel sal word.

(Argieffoto: pixabay)

Die respondente in die saak, onder wie Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, is gelas om AfriForum se regskoste vir die aansoek te betaal.

AfriForum het intussen die hofuitspraak verwelkom en gesê hy beskou dit nie net as ’n oorwinning vir die byna 400 000 matrieks wat deur die minister se besluit benadeel sou word nie, maar ook as ’n oorwinning teen die departement se “onregverdige, arbitrêre en eensydige besluit” rakende die uitgelekte vraestelle, sê Natasha Venter, adviseur vir onderwysregte by AfriForum.

Die organisasie versoek nou die departement om te fokus op die vastrek van die skuldige partye om sodoende te verseker dat die integriteit van die eksamen bo verdenking is. AfriForum gaan ook versoek dat die departement bekendmaak watter stappe gedoen gaan word om te verhoed dat soortgelyke misstappe in die toekoms voorkom.

Venter sê AfriForum se aansoek was onder meer geskoei op die departement se eie regulasies wat bepaal dat die eksamenantwoordstel nagesien móét word en die uitslag bekend gemaak moet word selfs al het onreëlmatigheid plaasgevind wat nie voortgespruit het uit ʼn handeling van die kandidaat wat die eksamen afgelê het en as die kandidaat geen voordeel daaruit getrek het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

domheks ·

cANCer het lekker pak gekry!! Wonder of hulle appel gaan aanteken, dan sloer die saak tot 2222. Vervolg liewer die skuldiges, los die matrukilante uit! Julle kan nie altyd die skuld op iemand anders pak en die res moet die gevolge dra nie. Matrieks geniet julle vakansie!!

tweeling ·

Die probleem is ons moet die regs koste betaal uit ons belasting geld. Orals waar die staat pakslae kry en regskoste moet betaal moet die belastingbetaler pa staan.

johanf ·

Weet nie meer wat om te sê nie, geweld en moord seevier in ons se land…

RB ·

Fantastiese nuus!!!!
Sò bly vir elke eerlike matrikulant èn hul ouers.
Dankie Afriforum.

Rentia ·

Baie mooi.. Die uitlek is elke liewe jaar se storie, hoekom is hierdie jaar so spesiaal? Wat maak die jaar so spesiaal dat dit moes oorgeskryf word? En nee covid het absoluut niks, maar niks te doen met vraestelle wat uitlek nie..

Bigshow ·

Ag hoe heerlik…… So nou kan kinders ook al hof toe hardloop as hul nie hul sin kry nie… Hoekom dan nog hoegenaamd skool gaan…. Van dat almal sogenaamde regte agtergekom het gaan alles ten gronde….

Adri ·

Ohh plleaaasssee Hendrik. Weet jy waaroor hierdie gaan. Oe ê ê..

Gawie ·

Hendrik, sou jy eerder wil sien dat 400 000 onskuldige kinders twee eksamens moet oorskryf, net omdat daar ‘n paar skelms was?
Dan kan hulle mos maar vir jou ook ‘n spoedkaartjie skryf, want daar was ‘n paar mense wat te vinnig gery het, al het jy niks daarmee te doen gehad nie.

Anel ·

Hoop nou hulke sluit die 195 toe wat die vraestelle gekry het. Hulle weet presies wie dit was want hoe weet hulle hoeveel dit was? Sterkte aan die eerlike matrieks. Gaan rus nou lekker.

Janman ·

Ai hoe naïef! Hoe verwag Afriforum dat die “vastrek” van die skuldiges die eksamen se integriteit gaan herstel? Die enigste kans daarvoor was juis om die eksamen oor te skryf. Nou gaan nog ‘n jaar se matrieks die lewe in met ‘n nikswerd staatskoolmatriek.

Dirk Mostert ·

Wat nou van skole waar leerlinge vooraf vraestelle gekry het? Hierdie keer stem ek saam met die Minister.

Dunsie ·

Dis nou wel goed hulle hoef nie oor te skryf nie maar nou gaan 195 skelms 100% kry vir die vraestelle wat kan veroorsaak dat kinders wat nie die verskil tussen ‘n 1 en 3 ken nie, dalk ‘n beurs gaan kry ten koste van die eerlikes wat dit eintlik moes gekry het. Daar is klaar so ‘n gesukkel vir beurse en om nou te moet meeding met 195 skelms is nie ‘n grap nie.
As my kind wou aansoek doen vir ‘n beurs sou ek verkies almal moet oorskryf. Dié storie gaan baie eerlike kinders se toekoms verander.
Daar gaan niks gebeur met die persoon wat dit gelek het nie, die regering het hulle gekies en wie kies hulle gewoonlik en wie is daai mense se vriende, se vriende en familie?
Daar is net soveel beurse en nou begin dit al klaar met 195 minder, vir die kursesse wat daardie vakke as vereiste het. Ek kry daardie eerlike kinders baie jammer. Dis maar net my opinie.

Renier ·

Knap gedaan, Afriforum. En “bravo!” vir die vier jong mense wat beteid was om op testaan vir hul tegte.

lodewyk ·

Dankie Afriforum,ons het julle hulp gevra en julle het ons ouers gehelp,my kind is baie verlig en nou kan sy voortgaan met haar vakansie -die regering dink mos hulle kan met ons maak soos hulle will??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.