Hof beslis oor oud-kollegas se onderonsie oor parkeerplek

johan-stander-da-raadslid-van-george

‘n Verheugde Johan Stander, DA-stadsraadslid van George, nadat hy gehoor het hy is ‘n vry man. Foto: Eugene Gunning.

“Dit was 19 moeilike maande gewees. In die 19 maande het ek ook geleer van my gesin, my familie, vriende, professionele sakelui en medekollegas wat by my gestaan het.”

Só het Johan Stander, ʼn DA-stadsraadslid, Donderdag buite die George-landdroshof gesê. Stander het as vry man by die hof uitgestap nadat hy daarvan aangekla is dat hy na bewering ʼn voormalige kollega, Gert Niehaus, aangerand het.

Landdros Götz Essel het die saak van die hofrol geskrap ná Stander se regsverteenwoordiger, Eckert Brand, sodanige versoek gerig het.

Die saak spruit uit ʼn voorval in Oktober 2016 op die munisipale parkeerterrein toe Stander en Niehaus, wat in daardie stadium albei DA-lede in die George-stadsraad was, ’n meningsverskil oor ’n parkeerplek gehad het.

Die saak is voorheen al verskeie kere uitgestel en dit was Donderdag die sewende keer dat Stander by die hof was.

Na bewering het Stander destyds vir Niehaus gestamp en gevloek. Stander het die aanklagte teen hom ontken. Brand het aangevoer daar was uitlokking en dat Niehaus sy kliënt gevloek het.

ʼn Video-opname van die voorval is by die hof ingedien. Niehaus het aangevoer dat hy beserings in die voorval opgedoen het. Essel het egter gesê geen getuienis is voor die hof gelewer dat Niehaus se beserings ʼn direkte verband met die beweerde aanranding het nie.

Gert Niehaus, voormalige DA-stadsraadslid van George, kort na die uitspraak Donderdag by die George-landdroshof.
Foto: Eugene Gunning

Brand het van die begin van die saak gesê dit is ʼn onbenulligheid wat nie in ʼn hof hoort nie. Dit was volgens hom ʼn aangeleentheid waarin twee volwassenes hulle soos kinders gedra het.

Die hof het bevind daar is nie voldoende getuienis om die verdere voortsetting van die verhoor te regverdig nie. Volgens Brand sal die staat kan appelleer, maar is dit onwaarskynlik. “Hulle sal regsgrond moet vind.”

ʼn Verheugde Stander het gesê geregtigheid het geseëvier. Hy het sy dank teenoor sy prokureur uitgespreek. “Al wat ek vir jou kan sê, van dag een af was hierdie aanklagte gegrond op leuens en bedrieglike optredes. Ek wil nie nou oor die doelstellings uitwei nie. Ek wil nou net rustig huis toe gaan.

“Ek sê vir die Skepper dankie dat die bewyse ter tafel geplaas is van mense wat na vore gekom het sodat geregtigheid vandag kan seëvier. Dit gee my weer vertroue in ons regstelsel.”

Hy weet nie wat sy regskoste beloop nie en het benadruk dit is nie net die regskoste wat ter sprake is nie. Dit het in ʼn stadium ook sy werksituasie benadeel.

Stander woon al 45 jaar op George en meen hy het nog altyd eerbaar opgetree. In dié stadium weet hy nie of hy die saak verder gaan voer nie. Verskeie faktore sal ʼn rol speel soos die belange van die party onder wie se vaandel hy ʼn stadsraadslid is, die stadsraad, die gemeenskap en sy gesin.

Niehaus het gesê hy het respek vir die uitkoms van die saak, maar hy stem nie saam nie. “Dit is allermins die waarheid.”

Hy wil nou aangaan met sy lewe en sê hy is klaar met politiek. “Ek wil ʼn kind van die Here wees en my werk doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Meonè ·

Twee grootmense wat ‘n voorbeeld behoort te wees vir ander wat soos kinders optree. Al wat ek kan sê is “Shame on you”!!!

stem saam ·

Stem absoluut saam. Die samelewing het soveel issues, dat groot mense hof toe gaan tyd mors omdat hulle hulle self soos kinders gedra.

HPV ·

Wat dit nog erger maak die twee lyk al redelik bejaard, wat van ‘n tikkie wysheid en ‘n voorbeeld vir ander.

bloues ·

Hoekom wil so baie wat skuldig is skielik die Bybel oopmaak en “terugkeer”na God toe

Marius ·

Ek sê die DA moet hulle dissiplineer. Mens kan nie toelaat dat sulke kinders hoë poste in ‘n party soos die DA beklee nie. Dit is onaanvaarbaar dat hulle nog daar is…

Reguit ·

Twee liberale seuntjies wat mekaar “daar agter die pawiljoen” gekry het. As hulle mekaar se tyd só kon mors, dan wonder mens hoeveel tyd van hulle (party se) lede gemors word…………….

Cherokee ·

My simpatie het oorspronklik by Niehaus gelê… op voorwaarde hy is nie familie van Carl Niehaus.

Leon ·

Ja nee regtig, sulke patetiese kinderagtige optrede deur vermoedelik volwasse 2 mans wat veronderstel is om volwasse take te verrig in ‘n volwasse beroep by ‘n instansie wat na mense moet omsien. My magtie man, kry mekaar by ‘n koffie winkel en sorteer dit uit soos volwassenes!

Ruby ·

Kan die tannie julle seuntjies vir ‘n melkskommel vat noudat julle bedaar het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.