Hof beslis oor ‘wraakondersoeke’ van polisie teen Opod

Argieffoto: SAPD

Polisiebeamptes wat deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek word mag nie by enige “wraakondersoeke” teen beamptes van Opod betrokke wees nie.

Regter Neil Tuchten het in die hooggeregshof in Pretoria beslis dat die “wraakondersoeke” onwettig is. Opod het die aansoek gebring nadat hy twee ondersoeke begin het teen lt.genl. Khomotso Phahlane, voormalige nasionale polisiekommissaris. ’n Polisietaakspan van Noordwes is terselfdertyd aangestel om ’n ondersoek na Opod-beamptes wat Phahlane ondersoek te begin.

Al die beamptes van die Noordwes-taakspan word ook deur Opod ondersoek. “In terme van die hofbevel moet die Noordwes-taakspan, onder leiding van genl. Ntebo Mabula, onmiddellik verwyder word van enige ondersoek deur die polisie na lede van Opod se ondersoekspan,” het Jac Marais, vennoot by Adams & Adams en Opod se regsverteenwoordiger, gesê.

Die ondersoek na Noordwes-polisiebeamptes is steeds aan die gang en in die lig van die hof se uitspraak kan Opod nou voortgaan met sy ondersoek sonder enige inmenging van polisiebeamptes wat self ondersoek word.

Marais het gesê die saak onderstreep die feit dat die wet botsende belange rakende die gedrag van Opod-lede teenoor SAPD-lede reguleer, maar dat die gedrag van SAPD-lede teenoor Opod-lede nie gereguleer word nie.

“In die lig hiervan het die hof ’n algemene beginsel neergelê dat geen SAPD-lid betrokke mag wees in enige ondersoek waarby die lid enige belang, hetsy persoonlik of finansieel, het nie. Die hofbevel sal van krag bly tot tyd en wyl ’n permanente regulasie geïmplementeer word om belangebotsings tussen die SAPD en Opod te hanteer.”

Volgens Marais versterk die uitspraak verder Opod se onafhanklikheid. “Die uitspraak help ook om die vertroue wat die publiek moet hê te versterk dat Opod sonder onnodige inmenging in staat sal wees om klagtes teen die polisie sonder vrees of vooroordeel te ondersoek. Opod sal nie doeltreffend sonder die vertroue van die publiek kan funksioneer nie, aangesien die publiek dalk huiwerig sal wees om hul sake te rapporteer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

LV ·

Sal baie interresant wees watter katnes gaan daar oopgemaak word met die ondersoek vd Noordwes taakspan,vir te lank was hulle onaantasbaar.

marous ·

Die feit dat daar ‘n eenheid soos OPOD bestaan is opsigself ‘n onuitwisbare klad op die naam van diegene wat orde moet handhaaf en ‘n direkte vingerwysing na ‘n mislukte , onbevoegde regering .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.