Hof beslis Prasa-raad moet weer ingestel word

Die hooggeregshof in Pretoria het Maandag ten gunste van Popo Molefe en vyf ander beslis dat hulle weer as raadslede van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) aangestel moet word.

Molefe, Zodwa Manase, Mashila Matlala, William Steenkamp en Clement Manyungwana het die hof genader nadat die voormalige minister van vervoer, Dipuo Peters, hulle op 8 Maart skriftelik ingelig het dat hulle as raadslede verwyder word.

Die hof het in sy uitspraak gesê die saak is dringend en het Peters se besluit tersyde gestel. Die minister van vervoer moet die koste van die aansoek betaal.

Molefe se regspan het tydens die hofverrigtinge aangevoer die raadslede is verwyder om ʼn ondersoek na onreëlmatige en verkwistende uitgawes van ongeveer R14 miljard te belemmer.

Die hof het in sy uitspraak gesê dit is “in openbare belang dat Prasa se sake behoorlik gereguleer word deur ʼn onafhanklike raad – onafhanklik van enige inmenging van die regering”. “Dit is van uiterste belang dat korrupsie in Prasa aan die lig gebring moet word en verhoed moet word.”

Die voormalige minister se aanstel van ʼn tussentydse raad is ook ongeldig verklaar.

Peters het aangekondig die raad is ontbind nadat die voormalige uitvoerende hoof, Collins Letsoalo, vroeër vandeesmaand uit sy amp verwyder is toe hy sy salaris met 350% verhoog het na R5,9 miljoen.

Peters is op 31 Maart as minister van vervoer afgedank. Joe Maswanganyi het haar vervang.

Die ministerie het ná die uitspraak in ʼn kort verklaring gesê hy neem kennis van die uitspraak. “Ons respekteer die uitspraak en sal die inhoud bestudeer en dan kommentaar lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

Hierdie ministers wat so aanjaag moet PERSOONLIK vir die regskostes betaal!! Hulle mors genoeg van ons belastingbetalers se geld op alle ander vlakke!!

Justice ·

Ek vertrou dat iemand in daardie ministerie kan lees om die verslag te kan bestudeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.