Hof beslis skoolhoof het ongrondwetlik opgetree deur eksamen te weier

(Argieffoto)

Die Konstitusionele Hof het bevind ʼn matriekleerder wat toegang tot ʼn lokaal geweier is om die tweede sakestudies-vraestel in die matriekeksamen af te lê, se regte is geskend.

Johannes Moko het hom direk tot die hoogste hof gewend nadat sy aansoek – om toegelaat te word om die eksamen voor Mei volgende jaar af te lê – aanvanklik van die hand gewys is.

Luidens hofstukke het Moko op 25 November by die Malusi Secondary School in Limpopo aangekom om die vraestel as deel van sy matriekeksamen af te lê. Daar is hy en nog twee leerders deur die waarnemende skoolhoof, Tlou Mokgonyana, toegang geweier – glo omdat hulle sekere ekstra klasse nie bygewoon het nie.

Hulle is aangesê om huis toe te gaan en met hul ouers of voogde terug te keer, oënskynlik om die kwessie te bespreek. Moko is by die skool weg, maar het alleen teruggekeer nadat hy nie sy ouma of oom tuis aangetref het nie. Die eksamen het in daardie stadium reeds begin en Moko is weer verbied om die lokaal binne te gaan.

Moko voer aan hy is gevolglik ontneem van sy geleentheid om die eksamen af te lê. Hy is die volgende dag saam met sy oom terug na die skool en is daar ingelig dat hy die aanvullende eksamen in Mei volgende jaar kan aflê.

Die kwessie is daarna na die distriksdirekteur verwys wat gesê het stappe sal teen die skoolhoof gedoen word, maar dat Moko die eksamen steeds eers in Mei kan aflê.

Moko het daarna ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof gebring sodat hy vóór dan die eksamen kan aflê. Dié hof het bevind Moko kan wel in Mei die eksamen aflê en daar is dus geen dringendheid nie. Moko het hom daarna tot die konstitusionele hof gewend.

Hy het aangevoer die besluit om hom huis toe te stuur het sy reg op basiese en verdere onderrig geskend. As hy eers in Mei die eksamen kan aflê, sal hy eers later met verdere studie kan begin, het hy aangevoer.

Die konstitusionele hof het nou beslis die optrede van die skoolhoof was ongrondwetlik. Ná oorleg met Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, mag Moko reeds in die eerste week van Januarie die eksamen aflê.

Hy is ook berading op die staat se onkoste aangebied.

Moko se eksamenuitslae moet ook saam met die res van die matriekklas se uitslae in Januarie of Februarie volgende jaar bekend gemaak word.

“Dit is eenvoudig onaanvaarbaar dat ʼn opvoeder op so ʼn manier kan optree dat ʼn leerder ʼn matriekeksamen vir geen regverdigbare rede misloop nie. Ons kan net hoop dat gedrag soos hierdie skaars is en dat die meeste, indien nie alle van ons matriekleerders nie, ondersteun deur hul skole, skoolhoofde en onderwysers in die eksamentyd voel. Dit is reeds ʼn tydperk van groot spanning vir ons leerders,” het die hof in sy uitspraak bevind.

Die Konstitusionele Hof het ook gesê dit is “ondenkbaar” dat die hooggeregshof nié kon bevind dat die saak dringend is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.