Hof beslis strande bly gesluit

Foto: Kouga-munisipaliteit/Facebook

Die hooggeregshof in Pretoria het beslis dat alle strande in die Oos-Kaap, asook aan die Tuinroete van 16 Desember tot 3 Januarie gesluit sal bly.

Die hof het die mosie om Covid-19-regulasies rakende die sluit van strande ongrondwetlik te laat verklaar, van die hand gewys.

Alle strande in KwaZulu-Natal sal dus ook op 16, 25, 26 en 31 Desember, asook 1 tot 3 Januarie gesluit wees.

Talle partye, insluitend die burgerregte-organisasie AfriForum, het die hof genader en aangevoer die regulasies is irrasioneel en ongeldig.

AfriForum se regspan is van mening dat alhoewel die dringende aansoek nie geslaag het nie, dit belangrik was om die kollig te plaas op die rampspoedige gevolge wat die sluiting van strande vir sakeondernemings veroorsaak het.

“Dit is ook belangrik om daarop te let dat die hof se uitspraak nie die regering se optrede kwytskeld nie, maar bloot bevind het dat die sluiting van strande wel ’n geldige besluit deur die regering was,” sê Daniël Eloff, AfriForum se regsverteenwoordiger.

“Alhoewel AfriForum teleurgesteld is met die uitspraak, wil die organisasie die publiek aanmoedig om steeds hul gunstelingvakansiebestemmings te besoek, asook om plaaslike sakeondernemings te ondersteun om dié kusdorpe se finansiële las te verlig,” het Monique Taute, AfriForum se hoof van veldtogte, gesê.

“Hierdie sakeondernemings gaan heel waarskynlik nou geweldige, en in baie gevalle onherstelbare skade ly as gevolg van vakansiegangers wat hul vakansieplanne kanselleer omdat die strande gesluit is.”

AfriForum hou vol dat om strande te besoek ’n vorm van vermaak is wat in die opelug plaasvind en mense blootstel aan die son wat bydra tot ’n gesonde immuunstelsel. “Die alternatief is dat mense hulself tot plekke soos winkelsentrums en restaurante gaan wend wat ’n baie hoër risiko inhou vir die verspreiding van die virus,” aldus Taute.

DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die DA se hofaansoek is ook vroeër van die hand gewys. John Steenhuisen, DA-leier, het gesê hulle verwelkom wel die hof se besluit dat oop strande vir langer tydperke besoek mag word. Die ure waartydens mense oop strande mag besoek, is verleng van 06:00 tot 19:00 waar dit voorheen 09:00 tot 18:00 was.

“Die DA is steeds diep bekommerd dat die sluiting van die Tuinroete se strande gedurende die feestyd verreikende en verwoestende gevolge sal hê vir die plaaslike ekonomie, asook vir diegene wie se lewensbestaan afhang van hierdie tyd van seisoenale toerisme.”

Die hofuitspraak is ʼn rampspoedige terugslag vir duisende kleinsakeondernemings aan die Tuinroete wat nou ernstig in gevaar is om in duie te stort. “Hierdie probleem sal nie verdwyn sodra Suid-Afrika uit die koronavirus-pandemie kom nie, en ons kan nie die risiko wat baie van die inperkingsregulasies vir lewensbestaan inhou, ignoreer nie.”

Volgens Steenhuisen moet die land se reaksie op die Covid-19-pandemie altyd die delikate balans tussen die red van lewens en mense se lewensbestaan in gedagte hou. “Regulasies wat ingestel word om die verspreiding van die koronavirus te verminder, moet redelik wees en deur wetenskaplike en mediese raad ondersteun word. Enigiets minder is ʼn roekelose aanslag op die lewensbestaan van miljoene Suid-Afrikaners in ʼn ekonomie wat reeds op sy knieë is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.