Hof beveel Môrester-kinders moet bly

Foto: Newcastle Advertiser

Die hooggeregshof in Pietermaritzburg het Maandag beveel die tydelike hofbevel dat kinders wat in die sorg van verskeie kinderhuise in KwaZulu-Natal geplaas is, daar moet bly, moet steeds geld.

Die saak tussen die KwaZulu-Natalse Christelike maatskaplike dienste (CSS) en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling is vandag weer in dié hof aangehoor.

Die saak is uitgestel sodat die betrokke partye verklarings kan indien oor die bewerings wat teen die tehuise gemaak is, sowel as die daaropvolgende ondersoek daarna.

Die hof het intussen beveel kinders wat op 15 en 16 Februarie vanjaar uit Môrester Ladysmith, Môrester Newcastle en Huis Meah verwyder is, moet ingevolge die tussentydse bevel daar bly. Die departement het die kinders vroeër vanjaar verwyder ná bewerings van fisieke, verbale en emosionele mishandeling, sowel as rassisme by een van die kinderhuise.

Ds. Gerhard Botha, uitvoerende hoof van CSS, het vandag gesê die besluit om die bevel te handhaaf, is noemenswaardig.

Die departement het die hof gevra om die kinders uit die sentrums te verwyder hangende die ondersoek na die bewerings. CSS sê egter dit sou die kinders moontlik weereens getraumatiseer het.

“As die hof nie besorg was oor die veiligheid en welstand van die kinders in die sentrums nie, sou hy nie die bevel gehandhaaf het nie. As die kinders vir drie maande (uit die kinderhuise) verwyder is, sou die sentrums moes sluit omdat daar nie enige subsidies betaal sou word om die kinders te versorg nie,” het Botha gesê.

Botha het vroeër vandeesmaand gesê nog geen spesifieke bewerings is aan die CSS bekend gemaak nie. Hy het gesê dit bly vaag en algemeen en dat hulle nie kon vasstel na wie die bewerings bewys nie.

Hy het toe gesê dit lyk meer of die departement ʼn algemene oudit van die algehele funksionering van die kind- en jeugsorgsentrums wil doen en nie `ʼn geteikende ondersoek oor spesifieke bewerings nie. Botha het gesê dit lyk of die departement ook nie sy aanvanklike bewerings kan staaf nie en nou iets in die algemeen wil fout vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Die sogenaamde dept van maatskaklike ontwikkeling het darem goed nuus gemaak die afgelope paar weke, al was dit vir die verkeerde redes. Die nuwe naam behoort maat-skaaplike afbreking te wees, en die ampte-narre moet uniforms dra, rooi neuse opsit en s.

Oujongvrou ·

Dit gaan hier oor die feit dat as die regering iets doen dan tree almal agteruit. Hierdie lyk soos een van daai gevalle waar hulle nie geld wil betaal aan die kinderhuise nie. So ons vat hulle daaruit en stop hulle in sogenaamde pleegsorg en dan kan hulle sommer verdwyn ook, soos die esidemini geval. Daar nou nog mense weg. En ons word deur so n regering regeer.

PJC ·

Oujongvrou ek dink jy is 100% in die kol. Dit is presies wat dit is.

Jem ·

Onmenslik wat die regering gedoen het sonder dat hulle enige bewys kan voorle. van die klagtes. Nou hap hulle bubbles want hulle word onder druk geplaas.

Andre Fouche ·

Dit gaan oor geld die dept betaal n subsidie aan CCS wie ook al agter dit sit wil nie he dat die geld na CCS gaan nie hulle wil die sentrums oorneem (kaap).
Hulle kan maar net kyk na wie die ander sentrums vir kinders in Natal bestuur en dan n verband met n amptenaar wat met die uitbetaling werk…

Sak ·

Andre, ek dink jy is 100% reg. Hier gaan dit nie oor gemeenskapsdiens nie maar oor geld. Hier sit n tenderpreneur hieragter….

GM ·

Wys jou net hoe min voel hul vir die kinders. Als gaan altyd oor mag en geld.

Mag die sentrums geseën word met baie donasies sodat hul aan elke kind se behoeftes kan aanhou voldoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.