Hof beveel skoolvoedingsprogram moet dadelik hervat

(Argieffoto: Esté Meyer Jansen)

Die drukgroep Equal Education het ʼn uitspraak in die Pretoriase hooggeregshof verwelkom wat die departement van onderwys dwing om sy skoolvoedingsprogram dadelik te hervat en kinders van maaltye te voorsien, ongeag of hulle al teruggekeer het skool toe.

Equal Education en die beheerliggame van twee skole in Limpopo het die departement hof toe gesleep om te verseker nagenoeg nege miljoen kinders wat op dié program staatmaak, kry elke dag ʼn bord kos.

Die landwye skoolvoedingsprogram is in Maart opgeskort toe die staat van landwye afsondering in werking gestel en skole gesluit is. Equal Education sê die departement het sedertdien nog nie sy belofte gestand gedoen dat die program hervat sal word en leerders nie honger sal ly nie.

Regter Sulet Potterill het Vrydag beveel dat die minister van onderwys, Angie Motshekga, en die LUR’e van agt provinsies binne tien dae gedetailleerde planne en programme voorlê om die voedingsprogram weer op dreef te kry. Hulle moet ook elke 15 dae aan die hof terugvoer gee oor die vordering met die inwerkingstelling van die planne en of leerders inderdaad van kos voorsien word.

Die Wes-Kaap het reeds sy skoolvoedingsprogram hervat.

Volgens die regter skend die versuim om die program ten volle te hervat kinders se regte.

Equal Education sê die uitspraak is ʼn erkenning dat die grondwetlike reg op basiese voeding en basiese onderrig onlosmaaklik verweef is en sien dit as ʼn oorwinning nie net vir die nege miljoen leerders nie, maar ook vir die miljoene huishoudings wie se voedselsekerheid deur die Covid-19-afsonderingstyd in die gedrang gebring is.

“Leerders wat maaltye by die skool ontvang, verlig die druk op versorgers, van wie talle hul inkomste verloor het en nou spook om kos op die tafel te sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
PH

Hoekom doe die regering dit?

JohanR

Umm….moet al die kos nie eers na Lesufi se huis geneem word nie, en sal dan van daar versprei word?

Jerry

Die kos is al versprei onder die anc brothers

Hennie

Hokaai so bietjie! Die leerders by skole wat gevoed word se ouers is behoewend ja, maar dis dan juis hulle wat tydens die pandemie kospakke gekry het. Kan die kinders dan nie nou maar by die huis eet nie? Daar is dan nou kos vir hulle. Daar is mos geen of min rede vir kos by die by die huis sowel as kos by die skool. Kan die land se mense dit werklik bekostig?

Jackie

Interressant, die DA beheerde Weskaap het reeds die voedings program hervat, maar die 8 ANC provinsies moet eers deur n hofbevel gedwing word om hul plig te doen. Pateties