Hof bevestig: Zuma bly agter tralies

Oudpres. Jacob Zuma bly agter tralies – vir eers – nadat die hof sy aansoek van die hand gewys het. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Oudpres. Jacob Zuma, wat pas sy eerste nag in die Estcourt-gevangenis in KwaZulu-Natal agter die rug het, bly agter tralies. Hy moet boonop nou nog vir die aansoek om hom uit die tronk te hou, óók betaal.

Regter Bhekisisa Mnguni het ʼn kort rukkie gelede Zuma se aansoek, dat die lasbrief vir sy inhegtenisneming ter syde gestel word, in die Pietermaritzburgse hooggeregshof met koste van die hand gewys.

Ten spyte van die aansoek het Zuma hom nietemin eergisteraand aan die owerhede oorgegee om sy tronkstraf van 15 maande te begin uitdien. Die Konstitusionele Hof het hom dié straf vroeër opgelê nadat hy aan minagting van die hof skuldig bevind is vir sy versuim om, ten spyte van ʼn hofbevel wat hom dwing om dit te doen, voor die kommissie na staatskaping te verskyn.

Die oudpresident se laaste hoop is nou op die Konstitusionele Hof. Sy aansoek dat die uitspraak herroep word, word Maandag aangehoor.

Die Estcourt-gevangenis in KwaZulu-Natal. Oudpres. Zuma dien sy tronkstraf hier uit. (Foto: AFP)

Intussen het Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, vandag ook ʼn bloutjie in die hof geloop het. Magashule het sy aansoek, dat sy skorsing uit die party ter syde gestel word, verloor.

Carl Niehaus, nog ʼn noue bondgenoot van Zuma, is gister in hegtenis geneem en met ʼn boete van R3 000 vrygelaat nadat hy aangekla is ingevolge die Wet op Rampbestuur. Niehaus word daarvan beskuldig dat hy ʼn byeenkoms, wat tans ingevolge die regulasies verbied word, by Zuma se huis in Nkandla georganiseer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
piet

Mooi, nie dat dit veel saak maak nie. Ek hoor hy is in die hospitaal-eenheid opgeneem. Hier kom ‘n Sheik-geval. Speel die dodelike siek Shabir nog gholf?

Elize

Neem Zuma se kinders ook in hegtenis. Hulle por die mense aan om op te trek Natal toe en nou is daar moeilikheid aan die broei.

Jannie van Niekerk

Moenie worrie oom Zumpies. Binnekort speel jy gholf saam met Shanbir wanneer jy op “mediese parrol” uitkom.

SjN

Mooi man, vertragingstegniek het toe nie so mooi uitgewerk nie, laat die hof maar vir hul besluit, vader Jakob gaan aan sy gholf voorgee werk. Sy vriend Shaik kan die joggie wees aangesien sy Ace besig is om weg te smelt.

Willem

Dis nou 3vlieë met een klap …maar is die klap hard genoeg om die ander kandidate weer te laat dink ??…