Hof bevind hy het vervreemde vrou vermoor

Angelique Clarke Abrahams (25) is dood nadat sy ernstig in haar huis aangerand is. (Foto: Facebook)

Waarskuwing: Inligting in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Carl Joe Abrahams (31) van Oos-Londen is Vrydag in die Oos-Kaapse sitting van die hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op sy 25-jarige vrou, Angelique Clarke Abrahams.

Hy is ook skuldig bevind op aanklag van oortreding van die voorwaardes van ʼn beskermingsbevel.

Die direkteur van openbare vervolging, Barry Madolo, het die staatsaanklaer, senior staatsadvokaat Nickie Turner, en die SAPD geloof vir hul uitnemende werk in dié saak. “Abrahams het nie net Angelique van haar lewe beroof nie, maar dit in die teenwoordigheid van ʼn onskuldige kind, die jong seun, gedoen. Hulle verteenwoordig nie net die slagoffers nie, maar die belange van die samelewing aangesien moord op vroue iets is wat uit ons samelewing uitgeroei moet word,” het hy gesê.

Abrahams en Angelique was ten tyde van die moord van bed en tafel geskei. Hul seun was ses jaar oud toe hy gesien het hoe sy pa sy ma verwurg. Abrahams het ten tyde van die aanval saam met sy ma in ʼn woonstel in Oos-Londen gewoon.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê die huwelik is gekenmerk deur huishoudelike geweld. “Kort voor haar dood het Angelique op 20 Augustus 2019 ʼn tussentydse beskermingsbevel teen Abrahams bekom. Die bevel is dieselfde dag op hom bedien. Hy is verbied om haar te mishandel, aan te rand, te dreig of te teister. Angelique het ook dieselfde dag aansoek gedoen vir ʼn egskeiding.”

Op die oggend van 29 Augustus 2019 het Abrahams by Angelique se woonstel opgedaag. Hul seun was saam met hom. Die seun het die vorige aand by ‘n buurvrou oorgeslaap en Abrahams het hom daar gaan haal. Angelique, ‘n kontroleklerk, het van nagskof af teruggekeer toe sy Abrahams en haar seun by haar huis aangetref het.

Abrahams het die kind opdrag gegee om weg te kruip en hy het Angelique op ʼn sitkamerbank vasgedruk. Hy het sy hande om haar nek gesit, haar gewurg en haar tot op die vloer gedruk. Sy was op haar knieë toe Abrahams haar in ʼn wurggreep beetgekry en haar na die slaapkamer gesleep het. Hy het haar op die bed gesit en haar klere van haar middel af ondertoe verwyder omdat sy op haarself geürineer het.

Die kind het uit die woonstel gehardloop en om hulp geroep. Hy het vir een van die bure gesê sy pa is besig om sy ma te vermoor en hy dink sy is dood. Hy het dit ook vir die verhuurder gaan sê en sy wou toegang tot die woonstel bekom, maar die deur was gesluit. Sy het na Abrahams uitgeroep. Toe sy nie enige reaksie kry nie, het sy gesê sy gaan die polisie ontbied.

Abrahams het die deur oopgemaak en dit weer agter hom gesluit. Hy het aan die bure en die verhuurder gesê niks het gebeur nie. Hy het die toneel saam met sy seun verlaat.

Toegang tot die woonstel is deur ʼn oop venster bekom. Angelique was bewusteloos. Die verhuurder het die polisie en die ambulans ontbied. Angelique is na ʼn hospitaal geneem. Sy het nooit weer haar bewussyn herwin nie en is ʼn paar dae later oorlede.

Die nadoodse ondersoek het onthul sy het weens ʼn breinbesering gesterf wat deur die verwurging veroorsaak is.

“Die seun, nou agt jaar oud, het verlede maand in die hof getuig sy pa het op 29 Augustus 2019, op pad na Angelique se huis, gesê hy gaan sy ma se nek breek en haar begrawe. Abrahams het die seun se getuienis ontken, maar die seun het volgehou dit is die waarheid.”

Die saak is tot 20 Desember 2021 uitgestel vir vonnisoplegging.

Pres. Ramaphosa gesels met Maria Clarke. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Angelique se ma, Maria Clarke, het ook aan Maroela Media bevestig Abrahams is skuldig bevind op al twee aanklagte. Sy wou nie in hierdie stadium verder kommentaar lewer nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het in September aan Clarke en die families van die vermoorde Uyinene Mrwetyana en Leighandre Jegels besoek afgelê. Dít nadat hy die vorige aand die land in ʼn nasionale voorafopgeneemde televisie-uitsending oor onder meer aanvalle teen vroue en kinders toegespreek het. Ramaphosa het gesê geweld teen vroue is nie ʼn vroueprobleem nie. Dit is ʼn mansprobleem. “Dit is nie net ʼn nasionale krisis nie, maar ʼn misdaad teen menslikheid. Dit maak nie saak wat ʼn vrou dra, doen, sê of waar sy loop nie, sy het die reg om veilig te wees,” het Ramaphosa gesê, en ordentlike mans lof toegeswaai.

Aan Clarke het hy gesê: “Geregtigheid sal geskied, ons sal seker maak daarvan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

melaney ·

Vrouens sowel as kinders moet ten alle tye veilig voel, waarookal hulle hulself bevind. Ek ken ‘n paar mans wat ook deurloop. Maak nie vir my sin nie.

Perdeby ·

Baie mans word deur hulle vrouens verniel, en dan is hulle nog steeds ordentlik om nie hulle hande te lig nie nie.

Magda G ·

Sluit die man vir ewig toe. Hoekom moes sy vrou sy slaansak word. Hy moet vrot in die tronk.

Herman ·

Cyril, ek is n man. Dit is nie n man probleem nie. Die n kriminele probleem. Jy moet die kriminele uitsort. Jy is in charge. Tree op. Anders is jy die probleem.

RB ·

Herman, jy slaan die spyker op sy kop!

Mensemishandelaars, of dit man, vrou of kind is, sal nie nèt daarby hou nie.
Dikwels begin dit by boeliegedrag.
Soms begin dit by dieremishandeling.
Selfs opvoeding waar ‘n kind verwen word en dissipline ontbreek, kan die saadjie plant.

Johanna ·

Die egskeiding syfer dra daar toe by dat vroue alleen kinders moet grootmaak. N ma is n goeie ma maar sy is nie n goeie pa nie. Die ma wat liefde en versorging moet gee word dan ook die een wat discipline moet handhaaf. Sy moet sê daar is nie geld vir die broodnodige nie. Sy moet dreig en maniere leer, leer tande borsel en toe mond kou.
Seuns ontwikkel n woede teenoor vroue en neem ook aan dat vroue móét sorg.
As seuns mans word… trou hulle en dink vroue moet sorg, vinnig raak hulle soos hulle pa, Los vrou en kinders en gaan soek n ander vrou wat kan sorg. As hierdie vroue nie kan sorg nie haal daardie mans hulle opgekropte woede teenoor hulle mammas uit teenoor hulle vrouens.
Dit was nooit bedoel dat vroue alleen ouers moes wees nie.. Hierdie siklus het begin deur EGSKEIDINGS wat te maklik geraak het. Mense trou en daar is n hele kerk vol getuienisse teenwoordig, maar hulle skei sonder n enkele getuiene teenwoordig.
Mans en vroue, HOU OP HARDLOOP VAN JULLE VERANTWOORDELIK

Hasie ·

Ek het 4 kinders groot gemaak waarvan 3 seuns is . En nie een van hul sal vrou slaan nie ,hul sal ook nie rondloop nie want hul.het gesien watse pyn kan dit veroorsaak as die pa uitstap na nuwe vrou toe …ek dink dit geval moenie net ” victim ” speel nie … Pa ‘ s moet begin besef dat kinders nie altyd sal ” aanpas ” nie want woede kan in baie vorms uitgeleef word ..

Hasie ·

‘ n Interdik is net stuk papier ….. Daar moet iets prakties aan verbonde wees ….soos boete of iets wat dit meer afdwingbaar sal maak want baie verontagsaam die interdik en ons weet hoe vinnige en skerp is die SA polisie ….hul het nie eens vervoer om verklarings af te neem nie wat nog te sê op te tree teen interdik . Ek het dit onlangs self beleef . … Met vriende van my ….man eenvoudig die interdik op geskeur en voort gegaan met wat hy doen … En die polisie was vreeslik ( nie ) vinnig ….soveel so dat hul nie fotos of verklarings by bure gekry het nie .Vrou moes als self laat doen en self hul werk vir hul doen .Die wet en polisie laat sulke vrouens liederlik in die steek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.