Hof bevind man het kleuter ‘stadig, pynlik’ vermoor

WAARSKUWING: Die berig bevat uiters grafiese besonderhede en kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Mortimer Saunders in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: Siphephile Sibanyoni/ African News Agency

Mortimer Saunders is Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan die verkragting van en moord op die driejarige Courtney Pieters.

Pieters se moord in Mei verlede jaar het skokgolwe deur die gemeenskap van Elsiesrivier en die res van die land gestuur. Die meisietjie het op 4 Mei 2017 vermis geraak en haar liggaam is op 13 Mei in ʼn vlak graf in die Epping-nywerheidsgebied aangetref. Saunders is die volgende dag in hegtenis geneem.

Regter Babalwa Mantame het Woensdag tydens die lewering van die uitspraak gesê forensiese bewyse dui daarop dat Pieters wel deur Mortimer verkrag is voordat sy dood is. Saunders het tydens die verhoor ontken dat hy Pieters verkrag het voor sy dood is en het beweer hy het nekrofilie gepleeg.

Hy het ook beweer die kleuter is dood nadat hy haar miergif ingegee het omdat sy hom gepla het by die huis wat hy met haar en haar familie gedeel het.

Mantame het dit tydens die uitspraak duidelik gemaak dat Saunders skuldig is aan moord met voorbedagte rade aangesien hy geweet het wat die uitwerking van die gif sou wees voordat hy dit vir Courtney ingegee het.

Courtney Pieters

“Tyd is nie die enigste oorweging nie. Net ʼn paar minute was genoeg en dit was duidelik dat die hoeveelheid wat toegedien is baie was. As hy haar net siek wou maak, was daar genoeg tyd om mediese hulp te kry. Uit sy optrede is dit baie duidelik dat hy haar wou stilmaak,” het Mantame gesê.

“Die staat het bo redelike twyfel bewys dit was moord met voorbedagte rade. Sy was jonk en weerloos en het ʼn stadige en pynlike dood gesterf.”

Mantame het gesê wat Saunders gedoen het, was een van die “mees brutale, genadelose en wrede dinge wat hierdie hof ooit gesien het”.

Die regter het toegegee Saunders het moontlik kwade gevoelens teenoor Courtney se ma, Juanita Pieters, gehad, maar gesê dit bied geensins regverdiging daarvoor om Courtney te vergiftig net om wraak op haar ma te neem nie.

“Die misdade wat gepleeg is, was om oneerbare en selfsugtige redes. Dit was ʼn pynlike, hartverskeurende en folterende ervaring vir die oorledene. Dit kan aan haar beserings gesien word.”

Lees alle vorige berigte oor Courtney Pieters op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hannetjie ·

Gaan seker nou weer beweer dat hy sielsiek is…of op dwelms was.So wreed op onskuldige weerlose kindjie.

jakes ·

Wat n afskuwelike mens!! Hy sal wel eendag rekenskap moet gee van sy dade want tronkstraf is te maklk en dien geen doel vir n rot soos hy nie. Die 26 bendes in tronke sal wel met sy gal werk veral omdat hy n kind vermoor het.

M ·

Is daar niemand sy ouderdom wat gemeenskap wou he nie????? Hoekom n 3jarige kind verkrag? Het jy in haar oë gekyk en die pyn en vrees gesien?? Is dit hoekom sy moes stilbly??? Mag die Here Sy wil laat geskied. Amen

Essie ·

Geagte leser kan u nou sien hoekom ek sê die doodstraf sou die enigste straf vir sulke oortredings gewees het.

Alida ·

Wens hom als wat sleg is toe vir sy misrabele lewe vorentoe. Die kind was weerloos.

wonder wat ·

Jis nee……help bietjie hier……wie kan my verduidelik wat de hel beteken Nekrofilie……..eerste keer in my lewe wat ek so woord sien, en hoe pleeg mens die nekrofilie ? Ek het dit try google maar weet nog steeds nie.

Alta ·

Kortliks – nekrofilie is seks met ‘n dooie liggaam. Siek verby. Jy kan google in Engels: necrophilia.

Johannes ·

En ek moet my hard verdiende belasting hierdie gemors aan die lewe hou in ‘n tronk…?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.