Hof gee groen lig vir veiling van renosterhorings

Argieffoto: Andrew Taylor/ScienceLine.

Edna Molewa, die minister van omgewingsake, het vanoggend ʼn permit vir die plaaslike verkoop van renosterhorings aan John Hume met streng voorwaardes uitgereik nadat hy ʼn hofbevel in dié verband bekom het.

Hume, ʼn Suid-Afrikaner wat die wêreld se grootste renosterplaas bestuur, het hom die naweek na die Pretoriase hooggeregshof gewend om ʼn verkooppermit te bekom wat hom toelaat om voort te gaan met ʼn aanlyn veiling van 264 renosterhorings, wat sowat 500 kg weeg.

Die veiling, die eerste van sy soort in dekades, is deur Hume se webwerf in onder meer lande soos China en Viëtnam geadverteer.

Hume het die departement van omgewingsake voor die hof gedaag om die departement te dwing om ʼn permit te oorhandig wat volgens hom vroeër reeds vir die aanlyn veiling toegestaan is. Sy prokureur het aangevoer die permitte is goedgekeur, maar die owerhede het  gesloer om dit uit te reik. Die veiling sou volgens beplanning vanmiddag afskop.

Regter Niel Tuchten het gesê dit is nie vir die hooggeregshof om te besluit of die veiling van renosterhoring ʼn goeie of ʼn slegte idee is nie. Hy het gesê daar was geen geldige verdediging deur die minister verskaf hoekom die permit nie uitgereik is nie. Hy het bygevoeg dat die departement Hume se aansoek vir die veiling reeds in Mei ontvang het.

Die aansoek moes binne 20 werksdae voltooi word. Die regter het die departement beveel om die verkooppermit binne 12 uur aan Hume toe te ken en sy regskoste te betaal.

Die verbod op die plaaslike verkope van renosterhoring is drie maande gelede in Suid-Afrika opgehef ná ʼn grondwetlike hofbevel in April 2017 waarin ʼn hooggeregshofbesluit van 2015 gehandhaaf is, wat die 2009-moratorium op die plaaslike verhandeling van renosterhoring terugwerkend onderhewig gemaak het aan die uitreiking van permitte. Die permitte is onderhewig aan die 2004-wet op nasionale omgewingsbestuur: biodiversiteit en die toepaslike provinsiale wetgewing se regulasies.

Die departement het Maandag in ʼn verklaring gesê daar moet kennis geneem word dat die permit wat aan Hume oorhandig moet word, met ʼn aantal streng voorwaardes kom.

Dit sluit in dat die permithouer slegs renosterhoring kan verkoop aan ʼn persoon wat die nodige koperpermit ingevolge die 2004-wet op nasionale omgewingsbestuur: biodiversiteit het. Die permit staan nie internasionale handel in renosterhoring toe nie.

Die departement moet toegang tot die aanlyn veiling kry om die nodige kontrolestappe te doen om te bepaal dat daar aan die wet en permitte se vereistes voldoen word.

“Ons wil weereens herhaal dat die kommersiële internasionale handel van renosterhoring steeds verbied word deur die konvensie vir die handel in bedreigde spesies (Cites). Suid-Afrika is ʼn lid van Cites,” het Moses Rannditsheni, woordvoerder van die departement, benadruk.

Bonné-de-Bod

Bonné de Bod op ‘n renosterplaas. Foto: Verskaf.

Handel in renosterhoring bly ʼn omstrede saak

Volgens Bonné de Bod, bekroonde omgewingsakejoernalis, is die saak ʼn omstrede en emosionele aangeleentheid.

“Aan die een kant is daar privaat renostereienaars wat in die wolke is en wat vir my sê hulle kan nie wag om te begin handel dryf nie. Hulle sê die koste van veiligheid en om hul renosters te beskerm is hemelhoog en die inkomste van die handel kan teruggeploeg word in die veiligheid en bewaring van hulle renosters,” het De Bod gesê.

Aan die ander kant is daar die aktiviste en organisasies wat hewig teen handeldrywery gekant is en sê dat dit die mark sal laat oorspoel wat uiteindelik sal lei tot die uitwissing van wilde renosters in die natuur.

Tydens ʼn mediakonferensie in Julie het die minister die raamwerk vir die besit van ʼn renosterhoring duidelik uitgestippel. Daar moet ʼn permit wees, die horing moet ʼn mikroskyfie inhê en genommer wees met die inligting van die eienaar wat op ʼn nasionale databasis aangeteken is.

“Die minister het ook enige onduidelikhede uit die weg geruim oor die internasionale handeldrywery. Haar presiese woorde was ‘die kommersiële internasionale handeldryf in renosterhoring is streng verbode’. Dit is weens ʼn verbod wat in 1977 deur Cites ingestel is,” het sy gesê.

So, handel binne die grense van Suid-Afrika is wettig, maar sodra renosterhoring oor die grens beweeg, is dit onwettig. Nou vra baie mense die vraag: Is daar ʼn genoegsame vraag na renosterhoring binne Suid-Afrika?

De Bod sê Molewa het vroeër vanjaar konsepwetgewing vir die plaaslike handeldryf in renosterhoring gepubliseer en daarin word dit gestel dat buitelandse burgers ook twee renosterhorings per jaar sal mag uitvoer. Die voorwaardes waarvolgens renosterhoring die land wettig mag verlaat, was ook tydens die mediakonferensie duidelik gemaak en dit is deur middel van ʼn trofee, vir navorsing of opvoedkundige doeleindes en vir persoonlike gebruik.

“Nou, die ‘persoonlike gebruik’ is waaroor ek dink die meeste mense verward is. Die term is nie behoorlik uitgeklaar nie en maak dit maklik vir misdadigers om uit te buit. Die konsepwetgewing is ʼn kort dokument volgens regeringstandaarde, maar dit laat baie vrae.

“Sommige sê die regulasies is ʼn gekompliseerde en verwarrende meganisme met lae en lae burokrasie en papierwerk wat weereens die kommer laat wek of kriminele sindikate die stelsel gaan uitbuit, veral in die lig van die gebrekkige hulpbronne van provinsiale owerhede wanneer dit kom by die toepassing van wildlewe-wetgewing in Afrika. Interpol het aan my gesê dat die plaaslike handel in renosterhoring hulle lewe baie moeilik gaan maak.”

edna-molewa-minister-van-omgewingsake-screenshot

Edna Molewa, minister van omgewingsake, en David Mahlobo, minister van staatsveiligheid by Maandag se inligtingsessie oor die staat se bestuurplan vir die bekamping van renosterstropery. Foto: ‘n Skermskoot uit eNCA se regstreekse uitsending.

Waar is die kopers?

Die vraag is egter hoe kopers van die buiteland, waaronder lande soos China en Viëtnam waar die grootste vraag is, hulle renosterhorings uit die Suid-Afrikaanse veiling gaan bekom.

“Dit is baie verwarrend. Aan die een kant sê die regering dat dit wettig is om twee renosterhorings vir persoonlike gebruik met die nodige permitte uit te voer en dan, aan die ander kant, dat internasionale handel onwettig is volgens Cites.

“So, wat hier gebeur, is … onder die voorwaardes van die verkoping, moet die horings in Suid-Afrika bly totdat die internasionale verbod opgehef word, wat heel onwaarskynlik is – die enigste manier hoe die koper die horing uit Suid-Afrika sal kan neem, is wanneer hy of sy ʼn in- en uitvoerpermit bekom.

“Volgens die konsepwetgewing moet ʼn invoerpermit van die land waarheen die horing gaan eers verkry word alvorens die Suid-Afrikaanse regering dit eens sal oorweeg om ʼn uitvoerpermit toe te staan. Min. Molewa het tydens die mediakonferensie bevestig dat nog geen permitte tot dusver uitgereik is nie,” het De Bod bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Wat n deurmekaarspul. Laat die mense hul renosters se horings verkoop! Suid Afrika is lid van baie organisasies, so ook die internasionale strafhof, maar ons vee ons af aan die bepalings wanneer gesoekte skurke hul tuismaak hier. Daar gaan baie beter beheer en minder stropery wees indien die boere die geld kan terugploeg in hul besigheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.