Hof gee uitspraak in omstrede misdaadintelligensiesaak

Roos skouer

Kol. Kobus Roos

‘n Video volg onderaan die berig.

Regter Robert Lagrange het Dinsdag in die Johannesburgse arbeidshof uitspraak gelewer in die omstrede misdaadintelligensiesaak wat Solidariteit namens kol. Kobus Roos teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gevoer het. Regter Lagrange het gelas dat Roos ontplooi moet word na ʼn soortgelyke pos in misdaadintelligensie as die pos wat hy voor die beskermde bekendmaking gevul het. Die hof het ook vergoeding van vier maande se salaris aan Roos toegeken.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê die hof het verder beveel dat Roos voorkeur moet geniet wanneer hy aansoek vir ʼn pos of bevordering in misdaadintelligensie doen. “Ons is tevrede met die uitspraak hoewel geen vergoeding genoeg sal wees om Roos te vergoed vir alles wat hy die afgelope drie en ʼn half jaar moes deurmaak nie. Ons is wel bly dat Roos nou weer kan voortgaan met sy werk in misdaadintelligensie nadat hy na ʼn pos verskuif is waar hy ledig was. Roos is juis uit die pad geskuif omdat hy goed was in sy werk en korrupsie ontbloot het.”

Kruger sê die SAPD is beveel om Solidariteit se regskoste te betaal. Volgens Kruger is dit egter hartseer dat die SAPD belastingbetalers se geld verkwis het om net in die hof te kom erken dat daar onbillik teen Roos opgetree is. “Die saak is kwaadwillig tot op verhoor gedryf net om te kapituleer toe die hofstryd begin het. Dit is ʼn skokkende verkwisting van belastingbetalers se geld.”

Kol. Roos, wat al vir 26 jaar in diens van die SAPD is, werk tans in die inspeksie- en evalueringsafdeling van misdaadintelligensie. Die afdeling was nooit funksioneel nie en is tans geskrap. Roos is deur Richard Mdluli, geskorste hoof van die misdaadintelligensie-eenheid, na dié afdeling verskuif nadat hy in ʼn beskermde bekendmaking bewerings en bewyse van korrupsie in misdaadintelligensie blootgelê het. Roos het voorheen as hoof in die interne-ouditafdeling van misdaadintelligensie waargeneem en was onder meer verantwoordelik vir oudits van die sogenaamde rekening vir geheime dienste. Mdluli het Roos onder meer aangestel om dié rekening te ondersoek; die ondersoek later weer stopgesit en Roos daarna verskuif na die pos wat hy tans beklee.

Lees die volle hofbevel hier.

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

renate barnard ·

Baie geluk met ‘n reuse oorwinning. Solidariteit se sukses-syfer is inderdaad prysenswaardig. Hoop ander unies neem kennis – dit is nou die wat NIE teen hul eie lede litigeer nie (lees SAPU en POPCRU)!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.