Hof genader om advies, besluite oor pandemie openbaar te maak

(Foto bloot ter illustrasie: Maroela Media)

Die burgerlikesamelewingsorganisasie Health Justice Initiative (HJI) het Donderdag dokumente by die Gautengse hooggeregshof in Pretoria ingedien in ʼn poging om deskundige advies en besluite tydens die Covid-19-pandemie openbaar te maak.

Luidens ʼn verklaring deur die organisasie fokus hul saak op toegang tot inligting wat deursigtigheid en aanspreeklikheid bevorder en sal dit hopelik ʼn streng presedent vir toekomstige pandemies skep.

Die respondente is die minister van gesondheid, die inligtingsbeampte van dié departement, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die minister van sport, kuns en kultuur, en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.

“Die minister van gesondheid [dr. Joe Phaahla] en die nasionale koronavirusbevelsraad is gelei deur die ‘minister se adviseurs’ wat óf op verskeie ministeriële advieskomitees dien óf advies buite formele strukture verskaf.

“Die HJI hoop om deur die hof toegang te verkry tot inligting oor wie dié deskundige adviseurs is, watter advies hulle verskaf het en hoe dit die regering se besluitnemingsproses beïnvloed het. Die HJI wil ook vasstel of daar enige gevalle is waar deskundige advies nie gevolg is nie of daarvan afgewyk is.”

Die organisasie soek daarbenewens duidelikheid oor die besluitnemingsprosesse en rasionaal vir die inenting van onder andere elite-atlete en sportadministrateurs deur die spesiaal ingestelde Sisonke-entstofprogram.

“Hoewel ons bly is dat pres. Ramaphosa Suid-Afrika verbind het tot Covid-19-ingrypings gebaseer op ‘wetenskap en bewyse’, moet die publiek terselfdertyd weet op watter bewyse en op wie se advies regeringsbesluite en -ingrypings gebaseer is.

“Die publiek het die reg om te weet of die aanbevelings van enige of al die deskundige advieskomitees oorweeg en gevolg is. En, indien nie, wat die rede was om daarvan af te wyk,” sê dr. Marlise Richter, senior navorser by die HJI.

Richter meen die bestuur van die huidige pandemie en ook toekomstige pandemies vereis etiese besluitneming wat op aanvaarde openbaregesondheidsbeginsels en navorsing in die konteks van skaars hulpbronne gegrond is.

“’Pandemiegereedheid’ vereis dat duidelike en deursigtige prosesse ingestel word om skaars openbare goedere eties en regverdig toe te ken aan diegene wat dit die dringendste benodig.

“Ons glo dat staatsdepartemente en alle navorsing- en regulatoriese liggame oop besluitnemingsprosesse moet hê.”

Alhoewel die HJI vanaf middel verlede jaar talle versoeke vir inligting ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan alle partye gerig het, is die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) die enigste organisasie wat op versoeke gereageer en inligting aangevra het.

Die oorblywende respondente het glo óf hierdie formele versoeke geïgnoreer óf onvoldoende inligting verskaf. Die HJI wil nou onder meer die name van al die gesondheidsminister se adviseurs hê.

Die organisasie versoek ook afskrifte van alle kundige advies en aanbevelings wat verband hou met die inenting van mense met gepaardgaande siektes asook entstofkeuse en gebruik.

Ander versoeke sluit in die afskrifte van alle versoeke en regulatoriese, etiese en ander goedkeuring om sogenaamde “spesiale groepe” toe te laat om voort te gaan met inenting voor hul onderskeie ouderdomskohorte in 2021, insluitend onder die Sisonke-program.  “Litigasie moet altyd ’n laaste uitweg wees.

Dit is egter nodig aangesien die HJI se versoeke om inligting op dowe ore geval het. Ons doen ’n beroep op die respondente om alle relevante inligting bekend te maak, aangesien dit ’n saak van openbare belang is.

Daar behoort geen geheimhouding in ’n pandemie te wees nie.” Die HJI dryf tans ook ʼn saak teen die minister en die departement se inligtingsbeampte om alle Covid-19-entstofverkrygingsooreenkomste openbaar te maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

annie ·

… deursigtigheid is nou nie eintlik een van ‘n rewolusionêre beweging se grootste kenmerke nie… want dit is mos wat die ANC hulself noem. Die huidige masker-ade is sinoniem met die bestuurstyl van die regerende party. Ons hoop die groep slaag maar hul moes vroeër druk uitgeoefen het vir openlikheid. Medici wat kritiek gelewer het is nie ondersteun nie… eerder afgeskiet. En nou?

Christine ·

Die Advieskomitee is niemand anders as die NWO en WHO nie.en natuurlik word hul advies 100% nagevolg, anders wil hulle die R500 biljoen wat hulle die SA regering uitbetaal het, terughe. Dis hulle wat ook nie nuwe regulasies in die gesondheidswet wil laat uitvoer.

Jack ·

Soos met pfizer se reaksie in amerika sal die reaksie stadig en gebrekkig wees. Die geheimhouding rondom die hele proses was nog die heeltyd vreemd en verdag. Die proses van korrupsie lyk so en beskerm die begunstigdes daarvan.

Casper ·

Dit blyk tog dat daar moontlikhede op die horison wag vir van die boere en dat hulle dit werklik sien as ‘n realiteitsprogram in die ware sin van die woord en dat daar iets kan kom van hulle verhoudings.Ek is versigtig optimisties oor van die boere wat my die idee gee dat hulle nog nie reg is vir vaste verhoudings nie alhoewel ek al tien boere gelukkig getroud sal wil sien.Ek wens ek was ‘n boer gewees en Marciel ongetroud.

Marius ·

Die “deskundiges” wat die besluite gaan neem en ondeurdagte nuwe wette gaan afforseer is die onbevoegde en onkundige parlement.

Renier johannes ·

Dis nie n pandemi nie net n geld maak spul geld gierig

Manie ·

Seker dieselfde deskundiges wat reken dat beet, knoffel en stort ‘n vigs teenmiddel is.

Papsak ·

Nee dit is n geld maak pandemie die want hulle kry nie genoeg nie daarom stop hulle nie hulle korruptgeid nie

Samuel ·

Deursigtigheid is ‘n totaal vreemde begrip vir die ANC leierskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.