Hof genader om SAL onder besigheidsredding te plaas

Argieffoto

In wat as ʼn geskiedkundige saak beskou kan word, het Solidariteit Donderdag aangekondig dat hy die hof gaan nader om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) onder besigheidsredding te plaas.

Solidariteit kan hierdie aansoek ingevolge die Maatskappywet se bepalings ten opsigte van besigheidsredding as “geaffekteerde persoon” bring.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê indien Solidariteit se aansoek slaag, sal dit die eerste keer wees dat ʼn staatsonderneming onder besigheidsredding geplaas word. ʼn Span deskundiges sal dan onder leiding van ʼn besigheidspraktisyn planne instel om die SAL te red.

Verskeie politieke partye en burgerlike organisasies het al voorgestel dat die SAL onder besigheidsredding geplaas moet word en in ʼn onlangse verslag vra die ouditeur-generaal (OG) hoekom dit nog nie gedoen is nie.

ʼn Hof kan ʼn maatskappy onder besigheidsredding plaas indien die maatskappy in finansiële nood verkeer en indien dit billik en regverdig is om dit om finansiële redes te doen.

“Die SAL, soos bevestig deur die OG se verslag, is in ʼn benarde finansiële posisie. Sy posisie hou net aan versleg en die belastingbetaler moet telkens ʼn reddingsboei uitgooi. Dit kan op geen manier as billik en regverdig teenoor werkers en belastingbetalers geag word as die situasie voortgesit word nie,” het Hermann gesê.

Dié stap van Solidariteit volg nadat die OG in ʼn verslag aangedui het dat die SAL in 2017 ʼn totale verlies van R5,6 miljard gely het.

Die OG het ook aangedui dat daar kommer heers oor die SAL se status as lopende saak.

“Gebaseer op die SAL se finansiële state sien ons dat die bedryfsverlies vanaf 2016 met 1 000% na R3,7 miljard gestyg het. Dit is onrusbarend dat die SAL die parlement onlangs ingelig het dat hy na verwagting ʼn verdere verlies van R5 miljard gaan ly,” het Hermann gesê.

Die SAL se opgehoopte verlies oor die afgelope vyf jaar was R31,6 duisend miljoen.  Volgens Hermann het belastingbetalers ongeveer R7 700 elk in die SAL se bodemlose put gegooi.

“Die bedrag wat belastingbetalers moes opdok, is gelykstaande aan dubbel Suid-Afrika se e-tol-koste. Dit is gelyk aan 117 Nkandlas. ʼn Volle 300 nuwe skole, wat 210 000 leerders kon opvoed, kon daarmee gebou word. Dit is ook meer as die inkomste wat die staat uit vanjaar se 1% BTW-verhoging verwag.”

Solidariteit meen verder dié tendens is nie volhoubaar nie. “Die belastingbetalers se sak is nie diep genoeg om dit verder te finansier nie.”

Die vakbond argumenteer dat die oplossing vir die SAL in gedeeltelike of volle privatisering lê. “Daar is talle internasionale voorbeelde in dié verband. Ons vertrou dat ʼn proses van besigheidsredding tot so ʼn uitkoms kan lei,’’ het Hermann gesê.

Solidariteit gaan die hofstukke op 15 Mei beteken en gaan vir die volgende maand ʼn reuseveldtog van stapel stuur om mandate van duisende belastingbetalers te bekom om as ʼn groep belastingbetalers deel te word van die Solidariteit-geding.

Volgens Hermann tree die vakbond in die eerste plek namens sy lede op. “Ná die OG se verslag heers daar wesenlike kommer oor die SAL se volhoubaarheid. Die risiko dat die SAL totaal kan ineenstort word by die dag groter,” het Hermann gesê.

Die doel van besigheidsredding is om stabiliteit en volhoubaarheid vir die maatskappy en die werkers te bring.

“Ons lede is egter ook belastingbetalers. Dit is nie net die werkers se werksbelang wat hier te sprake is nie, maar ook die openbare belang. Die saak teen die SAL gaan gewone Suid-Afrikaners, wat almal een of ander vorm van belasting betaal, se stem laat hoor,” het Hermann gesê.

Solidariteit se veldtog sluit ook ʼn memorandum aan president Cyril Ramaphosa en Nhlanhla Nene, die minister van finansies, in waarin versoek word dat die staat die aansoek om besigheidsredding steun en dat ʼn volledige en deurtastende ondersoek geloods word na wanbestuur in die SAL, soos in die OG-verslag genoem word.

As die minister verantwoordelik vir die SAL, en as enkelaandeelhouer van die SAL ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Lugdiens, het Solidariteit minister Nene versoek om hom as aandeelhouer by die vakbond se aksie te skaar.

Ingevolge die besigheidsreddingsbepalings in die Maatskappywet is die minister ook ʼn “geaffekteerde persoon” en om vir sakeredding aansoek te doen, is wat die verantwoordelike optrede van enige aandeelhouer behoort te wees.

Politieke partye en die parlement gaan ook gepetisioneer word met ʼn versoek vir ʼn parlementêre debat en ʼn versoek om ʼn voorlegging aan ʼn parlementêre komitee te doen, sal gerig word.

Volgens Hermann is Solidariteit se hofaksie nie net ʼn regsgeding nie. “Dit is ʼn wettige belastingprotes. Belastingbetalers oor tradisionele verdelingslyne heen is moeg daarvan dat hul geld as ʼn reddingsboei vir vrot bestuur gegooi word. Die SAL-saak gaan een van die grootste belastinghofsake in die geskiedenis van Suid-Afrika word,” meen Hermann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos ·

Bly om te hoor hier word sake aangepak wat lede raak en nie weer huismoles wat bekendes betrek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.