Hof genader oor herskryf van vraestelle

(Argieffoto)

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan Woensdag vier matrikulante bystaan met ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria om die besluit dat twee matriekeksamenvraestelle oorgeskryf moet word, om te keer.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Vrydagmiddag aangekondig dat die tweede wiskundevraestel en die tweede fisiese wetenskap-vraestel landwyd oorgeskryf moet word nadat dit vroeër uitgelek het.

AfriForum en die vier matrikulante wat hierdeur geraak word, is die applikante in die hofsaak. “Hierdie besluit is geneem sonder dat enige verteenwoordigende liggaam van matriekleerders daaroor geraadpleeg is,” sê Natasha Venter, adviseur vir onderwysregte by AfriForum.

Dit het ook die naweek aan die lig gekom dat die minister haar besluit geneem het op grond van ’n interimverslag wat aangetoon het dat sowat 195 leerders insae in die vraestelle gehad het. Die meeste van die leerders wat toegang tot die vraestelle gekry het, het aan ’n WhatsApp-groep van toppresteerders behoort wat deur die departement self uitgesoek is vir voorkeurbehandeling en ondersteuning.

AfriForum het besluit om die herskryf van die vraestelle teen te staan aangesien dit nagenoeg 400 000 matrieks onregverdig gaan benadeel wat dié eksamen eerlik afgelê het.

“Die departement behoort te fokus op die vastrek van die skuldiges wat wel oneerlik opgetree het en die gelekte vraestelle gebruik en beskikbaar gestel het.”

Volgens Venter bepaal die departement se eie regulasies dat indien enige onreëlmatigheid nie deur die kandidaat (wat die eksamen afgelê het) se handeling voortgespruit het nie en as die kandidaat geen voordeel daaruit getrek het nie, móét die eksamenantwoordstel nagesien word en die uitslag bekend gemaak word.

Venter meen daar is maniere om vas te stel watter leerders wel onregverdige voordeel uit die gelekte vraestelle getrek het en dat die departement op sodanige ondersoeke behoort te fokus eerder as om ander leerders te benadeel.

“Navorsing het bewys dat leerders se punte in finale eksamens met 93% akkuraatheid bepaal kan word deur hulle voorafgaande punte te bestudeer.”

Venter sê daar is ander, beter maniere om die integriteit van die eksamen te verseker.

“Ons kan nie toelaat dat leerders benadeel word wat hard geleer het deur hulle hele skoolloopbaan nie – en dit omdat die departement se stelsels nie voldoende was om in die eerste plek te keer dat die vraestelle uitgelek word nie.”

Die tweede wiskundevraestel en die tweede fisiese wetenskappe-vraestel word op onderskeidelik 15 Desember en 17 Desember oorgeskryf. Twee ure voordat die drie uur lange wiskundevraestel die middag geskryf word, skryf sommige leerders die oggend nog ʼn kunsvraestel van drie uur.

Motshekga het gesê daar is tydens die ondersoek na die uitlek van die vraestelle onder meer bevind dat die verspreiding daarvan dit bykans onmoontlik gemaak het om vas te stel hoeveel leerders uiteindelik toegang tot die uitgelekte vraestelle gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Jywilwat ·

Straf die skuldiges! Ons leerders het ‘n moeilike jaar agter die rug.

Die Wolf ·

Die vraag is tot waar strek die korrupsie. As jy nie skuldig is nie, dan hoef jy nie te vrees oor die oorskryf nie. Hedendaagse se kinders word te veel gepamperlang.

Die Wolf ·

Ja. Is heeltemal bereid om te herskryf om te wys dat daar nie agter organisasies geskuil moet word nie. Die kaf sal dan van die koring geskei word.

Vrijburger ·

“Hedendaagse se(sic) kinders word te veel gepamperlang” – en daarom mag hulle onbillik behandel word? Ek dink nie so nie.

Moedeloos ·

Dit gaan nie oor skuldig of onskuldig nie. Dit gaan oor die feit dat jou brein afgeskakel het van daardie vak en ingestel is op iets anders. Die kinders se brein is al oorwerk met als en nou moet dit weer “her-programeer word” vir hierdie 2 vakke. Dit is onregverdig.

Net ek ·

Ek beskou hierdie as ‘n totale klug. +- 400 000 matriek moet oorskryf omdat ongeveer 195 insae gehad het in die vraestelle? Hoe kan dit toegelaat word dat almal gestraf moet word? Dalk moet hulle bietjie die “Top presteerders” ook ondersoek wat deel van die whatsapp groep is, laat my wonder hoe hulle daar gekom het…… Baie kinders werk vreeslik hard vir goeie prestasie en ek gun dit vir hulle maar hier is ‘n duidelike slang in die gras. Hoop regtig Afriforum kan die meerderheid matriek help.. Sterkte Matrieks..

Net ek ·

Vra die minister, dis volgens Maroela se beriggewing.
“Dit het ook die naweek aan die lig gekom dat die minister haar besluit geneem het op grond van ’n interimverslag wat aangetoon het dat sowat 195 leerders insae in die vraestelle gehad het. “

Frank ·

Aan die ander kant:
My 2ling is maar te bly dat hulle moontlik ‘n tweede kans gaan gaan kry om beide vraestelle se punte te verbeter. Beide voel hulle kon beter gedoen het in die vraestelle. Swot alreeds kliphard vir hulle 2de kans.
So, daar is ‘n ander kant van die muntstuk ook.

Tanya ·

Dan moet julle maar hoop die volgende vraestelle is effens makliker…

Karel Kobus Kruger ·

Solidariteit se Skoleondersteuning is ten gunste van oorskryf (vroeë berig). Afriforum is gekant teen oorskryf.
Afriforum is deel van die Solidariteit Beweging. R1000 vir iemand wat hierdie deurmekaarspul kan verduidelik.

Tanya ·

Ek is moeg en siek en sat vir hierdie ‘Nanny-state’?!! As een benadeel word moet almal daaronder ly, as een aangejaag het moet almal gestraf word?!
Verder is ek is bitter teleurgesteld in Solidariteit wat hierdie gerskryf ondersteun!!

Andrew ·

Jong dis nou n moelike een. As jy jou werk ken dan moet dit jou nie pla nie. Behalwe as jy saam jou ouers Margate toe sou gaan die naweek. Maar nou ja, dis ongelukkig die ding met die hele model C konsep in vandag se bedeling.

Anel ·

In die eerste paragraaf praat hulle van 195 top presteerders wat ip ‘n groep was en wat die vraestelle gejry het. En dan sê die sigenaamde minister dat dit onmootlik gaan wees om te bepaal wie die vraestelle gekry het. Nou hoe nou. Julle weet wie die 195 sogenaamde top presteers is. Sal ook graag wil weet wie hulle is. Maar nou ja. Nou laat dan net hulke oorskryf of skors hulle. Dis mos wat gesê is gaan gebeur en lis die eerlikes uit. Hierdie kinders het ongelooflik hard gewerk deur hierdie deurmekaar jaar en dis nie nodig om hulle te straf vir iets wat hulle nie gedien het nie. So, ek ondersteun hierdie 4 wat die moed het om teen die departement op te staan. Baie sterkte.

DieKriek ·

My bure se dogter is n top-presteerder in matriek vanjaar. Hulle het alreeds peperduur vliegtuig kaartjies gekoop maar kan nou nie gaan nie weens die oorskryf ding. Kan hulle nou nie maar dat kinders wat konstant goed doen, kwytgeskeld word van die oorskryf nie? Hulle kan mos die vorige eksamen se punte kyk.

Gert ·

Die onderwys departement het mos die begin van die rafel gaan soek die skuldiges en straf hulle en in elk geval as jy ‘n top presteerder is hoekom het jy nodig om te kul

Danny ·

Dankie aan Afriforum en instansies wat vir ons minderhede ‘n stem kan gee. Dankie aan lede wat ledegeld betaal – dit gaan alles in die aksies en sake in. Skuldiges moet van ‘n voorbeeld van gemaak word! Dit moet end kry!!!

Bertus ·

Dit was ‘n moeilike jaar, maar ‘n probleem met nie herhaling (oorskryf) van vraestelle is of tersiêre instellings hierdie punte gaan aanvaar. Dan volg daar toelatingseksamen. Die besluit om nie te herskryf nie, is nie so ‘n eenvoudige vraag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.