Hof genader oor Pta-stortingsterrein

ben-liebenberg-onderstepoort-stortingsterrein

Volgens Ben Liebenberg, wat die Onderstepoort-stortingsterrein besoek het, is  die toestand van die stortingsterrein betreurenswaardig. Foto: Verskaf.

Die Tshwane-metroraad het vroeër die week die hof genader vir ʼn interdik om te verseker dat werksaamhede by die Onderstepoort-stortingsterrein kan voortgaan soos gewoonlik.

Dit blyk dat die slegte reuk en plaag van vlieë waaroor inwoners van die noordelike voorstede kla grotendeels toegeskryf kan word aan ʼn groep wat werksaamhede by die stortingsterrein ontwrig het. Die groep wou verhoed dat ʼn nuwe kontrakteur op 1 Mei by die terrein begin werk.

Mike Mkhari, burgermeesterskomiteelid vir omgewingsake en landbou, het gesê die groep wat hulself as ʼn sakeforum bestempel, het geëis die metroraad moet aan die kontrakteur voorskryf wie hy in diens neem. Nadat die metroraad na verskeie vergaderings nie aan hul versoeke wou voldoen nie het die forum besluit om werksaamhede by die terrein lam te lê. Die metro het in ʼn stadium die polisie gevra om in te tree om te verseker die terrein bly oop, maar moes hulself uiteindelik ook tot die hof wend.

“Ek kan jou verseker die Onderstepoort-stortingsterrein het wel nog kapasiteit om afval te verwerk,” het Mkhari gesê. Die stad het in 2015 ʼn konsepplan vir geïntegreerde afvalbestuur uitgereik nadat die metroraad besef het hulle sal moeilik permitte bekom vir die vestiging van ʼn nuwe stortingsterrein vir die sowat drie miljoen ton afval wat jaarliks deur die stad verwerk moet word.

Volgens Mkhari het die stad ʼn herwinningsentrum vir tuinafval in Atteridgeville begin wat kompos vervaardig en werksgeleenthede vir 50 mense verskaf. “Dit is een van die maniere waarop ons verseker dat minder afval stortingsterreine soos dié van Onderstepoort bereik. Ons beplan om al meer soortgelyke alternatiewe strategieë in te stel sodat die druk op die hoofstad se stortingsterreine verminder word. So word verseker dat gemors in geld omskep word.”

Ben Liebenberg, ʼn inwoner van die noordelike woonbuurte en lid van die ACDP-Tshwane, het gesê hulle gaan Saterdag ʼn inligtingsessie vir inwoners hou waarin hulle die stand van sake met almal sal bespreek.

“Ek verstaan die metroraad is ook besig om te kyk na ʼn nuwe stortingsterrein en ons hoop dit sal vinnig gebeur. Ons is egter bewus dat die publiek moeg is vir verskonings en daarom gaan ons probeer om inwoners op datum te hou met nuwe inligting deur direk met inwoners deur e-posse te kommunikeer,” het Liebenberg verduidelik.

Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, het bevestig dat die Onderstepoort-stortingsterrein dié burgerregte-organisasie se nasionale stortingsterreinouditprojek verlede jaar gedruip het.

onderstepoort-stortingsterrein

Werksaamhede by die Onderstepoort-stortingsterrein, een van die hoofstad se besigste terrein, is verlede maand heeltemal ontwrig. Foto: Verskaf.

“Die stortingsterrein het beslis ʼn probleem, dit is een van die talle terreine wat nie eers aan die minimum vereistes voldoen wat die departement van omgewingsake vir stortingsterreine vasgestel het nie,” het Pawson gesê. Volgens die ouditprojek het net 12% van die terrein wat deur die ouditprojek getoets is wel aan die minimum vereistes voldoen.

“Ongelukkig het die vorige administrasie van die hoofstad nie die nodige beplanning gedoen vir nuwe stortingsterreine nie. Dit kan tussen drie tot vyf jaar neem om net die beplanning en omgewingsimpakstudies af te handel en die meerderheid van Pretoria se stortingsterreine kan nog hoogstens vir twee jaar bedryf word voordat dit volle kapasiteit bereik,” het hy gesê.

Nog ʼn probleem is dat die stad ook vinnig uitgebrei het en woonbuurte lê nou veel nader aan stortingsterreine as wat aanvanklik beplan is. “Die minimum standaarde vereis dat die naaste huis nie binne ʼn 500 m grens van ʼn stortingsterrein mag wees nie, maar woonbuurte het nou so uitgebrei dat dit dikwels nie meer die geval is nie.”

Pawson het gesê nog ʼn uitdaging wat die metro se soektog na nuwe grond vir ʼn stortingsterrein kan pootjie is die bepalings van die departement van omgewingsake. “Die departement wil die fokus verskuif van ʼn terrein vir vaste vullis na ʼn herwinningsbenadering waar hulle wil verseker dat soveel as moontlik vullis herwin en hergebruik word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Piet Pompies ·

As die stortingsterrein nie voldoen aan ISO14001 moet die Omgewings Minister ‘n bevel uitreik wat die instansie tyd gun om op standaard te kom. Indien dit nie nagekom word nie is die Minister verplig om die terrain te sluit.

Sonika ·

Dis alles goed en wel,maar wat gaan hulle intussen doen aan al die Rommel wat sommer nou langs die pad of sommer in die middle van die pad gestort word daar.Dis lyk haglik en vuiler as vuil na twee dae se stort daar.En wie gaan dit opruim?En dan staan die metro polisie nog daar en trek gewone metoriste af maar hulle doen niks aan die persone wat daar Rommel nie.

Koos1 ·

Dit gebeur maar as die politieke wil is net om te oorleef en selfverryking vir vie afgelope 23 jaar.

marous ·

Pas pragtig in by die land se gepoetste beeld wat voorgehou word. Dis kern vrot!

Adam ·

En intussen staak hulle ook met vulisverwydering in Hercules, Pretoria Wes, Kwaggasrand nou al vir meer as twee dae.

Groenie ·

Die publiek kan ook help. Skei rommel by die huis en sit dit in gekleurede sakke. Bv. glas in groensakke, plastiek in wit sakke, karton en papier in groen sakke. Die res van die afval in swart sakke. Die verwydering van die glas, plastiek en karton kan dan uitgekontrakteer word aan mense wat “re-cycling” doen. Dan gaan slegs die afval in die swart sakke rommelhoop toe. Dit sal die aantal rommel op die rommelhope drasties verminder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.