Hof genader oor ‘sertifikaat van behoefte’ vir medici

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Derek Finch/Unsplash)

Solidariteit het Donderdag ʼn hofaansoek teen die direkteur-generaal van gesondheid, die minister van gesondheid en die president uitgereik om artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid ongrondwetlik te laat verklaar.

Hierdie bepalings maak voorsiening vir die daarstelling van ʼn sogenaamde “sertifikaat van behoefte” waarvolgens gesondheidsorgpraktisyns by die staat sal moet aansoek doen vir goedkeuring oor waar hulle mag praktiseer.

Hoewel die bepalings wat in hierdie artikels vervat word nog nie in werking gestel is nie, meen Solidariteit dat daar wel voorgestelde regulasies gepubliseer is wat die instelling van die artikels vooruitloop.

“Dié bepalings, asook enige regulasies wat daaruit spruit, is ongrondwetlik en maak inbreuk op die regte van gesondheidsorgpraktisyns,” sê Henru Krüger, hoof van die Gesondheidsgilde by Solidariteit.

Solidariteit het vroeër vanjaar sy kommer uitgespreek oor die regering se planne met die nasionale gesondheidsversekering (NGV) en die uitwerking wat dit sal hê op Suid-Afrikaners se sorg en praktisyns wat dit moet lewer.

“Die inwerkingstelling hiervan impliseer dat daar beheer uitgeoefen word oor onder meer die tariewe wat per konsultasie gevra kan word, en dat die staat die toerusting, medikasie, diagnostiese toetse en plek van werk vir medici kan voorskryf,” het Nicolien Welthagen, navorsingsielkundige by Solidariteit, destyds gesê.

“Indien daar byvoorbeeld te veel oogkundiges in ʼn bepaalde gebied is, kan die regering spesialiste verbied om in die betrokke gebied ʼn praktyk oop te maak.”

Solidariteit doen nou aansoek dat artikels 36 tot 40 uit die Wet op Nasionale Gesondheid verwyder word.

“Die bepalings is irrasioneel en die voorgestelde lisensiëringsvereistes maak ernstig inbreuk op die regte van gesondheidspersoneel om hulle beroep na eie goeddunke te beoefen. Ons gesondheidsorgpersoneel is ook burgers, en het ook regte soos enige ander landsburger wat ʼn beroep van keuse beoefen,” sê Krüger.

Solidariteit se aansoek word glo deur praktisyns in verskeie mediese velde, asook vrywillige genootskappe wat verteenwoordigend is van alle spesialiteite, as mede-applikante ondersteun.

“In plaas daarvan om die behoefte aan gesondheidsorg aan te pak en toegang daartoe te verbreed, wil die regering slegs ʼn stelsel skep waarin gesondheidsorgpraktisyns knegte van die staat word en die staat boonop die lewering van gesondheidsorg sentraal beheer,” sê hy.

“Ons kan dit nie toelaat nie en ons is gereed om dit in die hof te bestry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Di ·

Kyk ek het nou ALLES al gesien maar DIT is belaglik! Hulle wil ook ALLES en ALMAL regeer! Wat is fout met die ANC spul?

Dries ·

Tipies kommuniste. Niks anders nie. Mag die anc spoedig tot n val kom en verdwyn.

Alfred E Neuman ·

Ek raai alle dokters aan wat kan om die land te verlaat.

Samuel ·

Dit is alles goed en wel, Solidariteit, maar hoelank gaan dit nog neem om te besef/toe te gee dat ons regering sy kommunistiese/sosialistiese doelwitte navolg?

Gerra ·

Wat is die verskil tussen hierdie “sertifikaat van behoefte” vir gesondheidspraktisyns en n “vax paspoort”? Niks….
Alles gaan oor beheer!
Beveg beheer van enige aard!

Robert ·

Dit is soos om vir ‘n werktuigkundige slegs toe te laat om olie te vervang maar nie die filters nie. Belaglik verby en nog ‘n teken van kommunisme… die ou krokkedil was reg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.