Hof gepak vir Koster-5 se verskyning

Koster-landdroshof (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Familie, vriende en ondersteuners van wyle Klaas Mosimanyana Jobontho (32), asook van die vyf beskuldigdes wat in verband met Jobontho se moord in hegtenis geneem is, het Maandag die hofbanke in die landdroshof op Koster vol gesit.

Die afwagting was groot dat die borgtogverrigtinge van Stefan Nel, Donovan Martin, Mustafa Albertyn, Wayne Schroeder en Adam Barnard in dié hof in Noordwes sal voortgaan, maar die vyf sal nou eers op 30 Januarie formeel aansoek om borgtog kan doen.

Martin, Albertyn, Schroeder en Barnard moes Maandag eers vir regshulp aansoek doen. Nel het reeds ʼn regsverteenwoordiger.

Klaas Mosimanyana Jobontho (Foto: Klaas Mosimanyana Jobontho, Facebook)

Nel, Martin en Albertyn word aangekla van moord, dwarsboming van die gereg en die verhindering van die polisie om hul werk te verrig, terwyl Schroeder en Barnard slegs op laasgenoemde twee aanklagte teregstaan.

Alle aanklagte is voorlopig teen ʼn sesde verdagte, Lourene Janse van Niewenhuisen, teruggetrek hangende die uitslag van die polisie se ondersoek.

Daar is nog nie sekerheid oor wat die beskuldigdes se ouderdomme is nie.

Jobontho se half ontbinde liggaam is op 21 Desember op ʼn kleinhoewe in Doornlaagte naby Koster ontdek.

Vriende van Martin se ma wat die hofsaak namens haar bygewoon het, sê Martin is kort voor die voorval na die kleinhoewe, waar hy glo sweiswerk verrig het.

“Sy het dae lank nie van hom gehoor nie. Hy het nie eers vir haar ʼn Kersfeesboodskap gestuur nie,” vertel die vriende.

Dié enkelma het die eerste keer van die moord in die media gelees.

“Ons almal is in die donker oor wat gebeur het.”

Monique Pretorius, Barnard se stiefdogter wat op Koster woon, het na afloop van die hofsaak aan Maroela Media gesê dat sy vas in Barnard se onskuld glo.

“Adam sal nie eers ʼn gogga seermaak nie,” vertel Pretorius.

Sy vertel Barnard het tydelik op die betrokke kleinhoewe gewoon, want hy het nie ʼn ander heenkome gehad nie.

“Adam het ʼn jaar lank op straat gewoon en ek was besig om vir hom ʼn plekke op die dorp reg te kry. Hy het toe vir eers op die kleinhoewe gewoon.”

Pretorius sê sy het ʼn dag ná die moord (22 Desember) van die voorval gehoor en was uiteraard geskok.

Barnard en Pretorius se ma was 12 jaar lank in ʼn verhouding.

Thabo Jobontho (Anja van de

Maroela Media het vroeër berig Jobontho se neef Thabo Jobontho (31) het Jobontho op 21 Desember as vermis by die polisie aangemeld. Jobontho is die oggend op 16 Desember die laaste keer lewend gesien.

Die polisie het inligting ontvang wat hulle na die kleinhoewe gelei het, waar hulle toe op Jobontho se half ontbinde liggaam afgekom het. Sy hande was met ʼn elektriese koord vasgebind en hy het slaanmerke oor sy lyf gehad.

Twee vuurwapens, ammunisie en ʼn slaapsak is ook op die toneel gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Daar word baie tyd gespandeer om die saak op te los omdat wit en swart is en omdat dit ‘n swartman was wat vermoor was. Het die polisie ooit die nodige ondersoeke gedoen, nou het hulle net eenvoudig besluit op hierdie 4 wit mans.

Delia ·

Verkeerd bly verkeerd, ongeag kleur. As die kaart omgedraai was sou niemand seker n probleem he met polisie se manier hoe hulle die saak hanteer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.