Hof gooi Hlophe-aansoek uit

John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Woensdag regter John Hlophe se aansoek – wat daarop gemik was om die Nasionale Vergadering (NV) te verbied om die verslag wat sy afdanking aanbeveel, te oorweeg – van die rol geskrap.

Maroela Media het vroeër berig die Nasionale Vergadering sou Woensdagmiddag daaroor stem of Hlophe van sy amp as regter onthef moet word. Hlophe het hom egter tot die hof gewend om ʼn tussentydse interdik te kry om die proses te verhoed.

Hlophe het Woensdag in die hooggeregshof aangevoer dat die parlement se besluit om, ondanks sy aansoek, met ʼn stemming oor die aanbeveling om hom uit sy amp te verwyder voort te gaan, “ongrondwetlik was én geregtelike onafhanklikheid en die beginsel van die skeiding van magte geskend het”.

Hy het voorts aangevoer dat die naderende stemming nie strook met die grondwetlike standaard “wat geskep is om die howe te beskerm en by te staan ​​om hul onafhanklikheid, onpartydigheid en waardigheid te verseker” nie.

Die speaker het aangevoer dat dit gemene saak is dat die howe die beginsel van die skeiding van magte handhaaf; dit vereis dat howe slegs in uitsonderlike omstandighede in die sake van ʼn ander arm van die regering mag inmeng, “en dat Hlophe se dringende aansoek nie sulke inmenging regverdig nie”.

Die speaker het ook aangevoer dat Hlophe se interdikaansoek nie dringend was nie en, indien wel, sodanige dringendheid self geskep is. Hlophe het al in Desember bewus geword dat die verslag deur die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste oor sy vervolging vir ʼn stemming geskeduleer sou word.

Die hooggeregshof het die parlement gelyk gegee en bevestig dat “die huis ʼn plig het om sy werk te doen tensy ʼn geregshof anders gelas”.

Die hof het verder bevestig dat dit onwenslik sal wees om ʼn grondwetlike proses stop te sit en in hierdie omstandighede met die parlementêre prosesse in te meng.

Die hof het ook bevestig dat regter Hlophe se aansoek nie aan die vereistes van ʼn dringende interdik voldoen het nie.

Op hierdie grondslag is die dringende aansoek van die rol geskrap, met elke party wat sy eie koste moet betaal.

Die parlement gaan nou voort om Hlophe se Konstitusionele Hof-aansoek teë te staan ​​en sal in die loop van hierdie week sy beantwoordende beëdigde verklaring daaroor indien.

Intussen sal die parlement ook steeds Woensdag voortgaan met sy oorweging van die verslae oor Hlophe en regter Nkola Motata.

Pres. Cyril Ramaphosa het Hlophe in Desember 2022 geskors nadat die Regterlike Dienskommissie (RDK) hom aan growwe wangedrag skuldig bevind het omdat hy twee regters van die Konstitusionele Hof probeer beïnvloed het in sake waarby oudpres. Jacob Zuma betrokke was. Die saak dateer terug na 2008.

Afgetrede regter Motata is in 2009 skuldig bevind aan dronkbestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.