Hof hoor binnekort oor geheime stemming

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die United Democratic Movement se aansoek oor ʼn geheime stemming wanneer ʼn mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma in die parlement gedebatteer word, sal op 15 Mei om 10:00 in die konstitusionele hof aangehoor word.

Die parlement het tot volgende week Vrydag tyd om skriftelik te reageer op die aansoek wat deur die UDM en partye wat as vriende van die hof tot die saak toegetree het. Dit is die raad vir die bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac), die Unemployed People’s Movement, die Instituut vir Sekerheidstudies en die Shosholoza Progressive Party.

Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, het twee weke gelede, in haar dokumente volgehou sy is nie gekant teen die idee van ʼn geheime stemmery nie. Sy voer egter aan die reëls van die parlement maak nie voorsiening vir ʼn geheime stemmery nie.

Die UDM het die konstitusionele hof versoek om te beslis dat die Grondwet LP’s toelaat om ʼn geheime stemming toe te laat wanneer daar oor ʼn mosie van wantroue gestem word.

Die UDM het die aansoek gebring ná die Demokratiese Alliansie sy vyfde mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma gebring het toe hy die kabinet aan die einde van Maart geskommel en minister van finansies Pravin Gordhan uit sy amp verwyder het.

ʼn Debat oor die mosie is aanvanklik vir 18 April geskeduleer, maar dit is uitgestel hangende die uitslag van die hofaansoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Basjan ·

Hierdie saak gaan baie interessant raak. Die (ANC) regering sit nou tussen 2 vure.

Adam ·

Zuma herinner my baie aan ‘n kalkoen. Beide se kans om Kersfees te haal is skraal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.