Hof hoor Fourie het Venter glo by die werk aangerand  

Abraham Fourie in die rondgaande hof in Bethlehem (Foto: Anja van der Merwe / Maroela Media)

ʼn Oudkollega van Maryna Venter, die vrou wat verlede jaar in haar huis vermoor is, het Woensdag in die hof getuig dat die beskuldigde, Abraham Fourie, Venter al voorheen by die werk aangerand het.

Die 51-jarige Mamolobi Ema Mokoena het in die rondgaande hof op Bethlehem in die Vrystaat getuig dat sy in 2018 saam met Venter (48) by ʼn onderneming gewerk het wat klaargemaakte maaltye verkoop het. Die onderneming op Bethlehem het aan Venter behoort.

Mokoena het ook in die woonstel op die dorp langs Venter en Fourie (52) gewoon. Dié paar het later na Senekal verhuis. Dit is nog nie duidelik presies wanneer nie.

Venter en Fourie was ongeveer tien jaar lank in ’n verhouding.

Venter se liggaam is op 13 Junie 2021 in die paar se nuwe huis op Senekal gevind. Haar liggaam was vol brandwonde. Fourie word aangekla van die moord op Venter en staan tans tereg op dié aanklag. Hy het skuld ontken en beweer Venter het haar eie lewe geneem.

Makoena het getuig dat Fourie een dag by die onderneming, Haasbek Hings, opgedaag het en Venter na bewering aangerand het.

“Ek en die oorledene [Venter] was besig om kos voor te berei toe die beskuldigde daar ingebars het. Hy het die oorledene aan die nek gegryp en haar – met haar hele lyf – teen die muur gestamp. Hy het haar daarna met albei vuiste bygedam,” het Makoena getuig.

Volgens Makoena het sy Fourie gesmeek om Venter nie te slaan nie, want “hy sou haar doodslaan”. Hy het toe glo opgehou om haar aan te rand.

Makoena het gesê Venter se oë was potblou geslaan en daar het bloed uit haar mond geloop. Sy het ook ’n wond bokant haar een oog gehad, wat gebloei het.

Toe die staatsaanklaer, adv. Danie Pretorius, Makoena vra waarom Fourie vir Venter aangerand het, het Makoena gesê sy weet nie.

Makoena het in daardie stadium saam met haar man, Jakobus Simon Blom, langs Fourie en Venter in die Dennehof-woonkompleks op Bethlehem gewoon.

“Hul verhouding en wat tussen hulle gebeur het, het my ongelukkig gemaak. Die beskuldigde het die oorledene geslaan.”

Johanna Maryna Venter en Abraham Thomas Fourie (Foto: Facebook)

Makoena het ’n jaar lank by Venter gewerk en daarna bedank. Sy sê dit is omdat Fourie vir Venter “geslaan” het en sy nie daarvan gehou het nie.

Saak uitgestel

Makoena sou vanoggend (Donderdag) haar getuienis voortgesit het, maar Fourie het gevra om die saak tot Vrydag uit te stel omdat sy gesondheidstoestand nie goed is nie.

Volgens sy regsverteenwoordiger het gevangenes ’n eetstaking in die tronk waar hy tans aangehou word begin en Fourie het sedert Woensdagaand nog nie nat of droog oor sy lippe gehad nie. Hy beweer hy het ook nie ’n goeie nagrus gehad nie omdat daar chaos in die tronk geheers het weens die staking. Die rede vir die eetstaking is nie duidelik nie.

Die regsverteenwoordiger sê Fourie is ook die oggend aangerand toe hy ’n bak pap vir hom wou skep.

Regter Motsoni Litheko het gesê hy begryp dat Fourie se toestand hom nie toelaat om voort te gaan met die saak nie en het die verrigtinge tot Vrydag uitgestel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Susan ·

Ek hoop meisies/vrouens neem die saak ernstig op en dat daar ondersteuning is vir hulle van familie en vriende.Self 17 jaar in so huwelik gewees en verstaan hoe smokkel hulle met jou emosies en kop dat jy wragtag glo jy is niks en niemand.Ek tel myself onder die gelukkiges wat onder sulke omstandighede uit is. Dis nie liefde nie en daar is hoop en ‘n beter toekoms!

Misky ·

Geen genade nie en laat die saak spoedig klaar maak. Hy het sy regte verloor toe hy daai vrou so wreed vermoor het.

Wielspore ·

My dogter en hulle twee kinders is fisies en sielkundig mishandel deur haar man wat ‘n narsis gedrags afwyking het. Dit omdat sy weier om die huishouding se geld aan hom te oorhandig en drank daarmee te koop. Ek is seker hy sou haar ook doodgemaak het as hulle langer bymekaar gebly het. My dogter en die kinders is nou bietjie meer as ‘n jaar van hom af weg. Sy is ‘n ander mens en die kinders is gelukkig.

Wondermaarnet ·

Gesondheid nie goed nie? Hy wil speel vir tyd. Sluit hom toe en gooi die sleutel weg.

piet ·

In die tronk gaan hulle hierdie makker sommer vinnig regsien.

Wat op dees Aarde ·

Mag hy sommer van hongersnood omkom in die tronk. Siek bl!ks3m!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.