Hof hoor hoe Jayde vermoor is

Jayde en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde en haar man Christopher. Foto: Facebook

Christopher Panayiotou (28) het sy vrou, Jayde, laat vermoor om te verhoed dat hy verder in skuld gedompel word deur haar én sy minnares gelukkig te moet hou, het die Port Elizabeth-landdroshof Donderdag gehoor.

Lt. Rhynhardt (Kanna) Swanepoel, die ondersoekbeampte, het in sy verklaring gesê die motief vir die moord is baie eenvoudig. “Die beskuldigde was in finansiële moeilikheid. Hy kon skaars kop bo water hou. Hy was in die proses om ʼn verdere R2,2 miljoen skuld aan te gaan, wat sou beteken dit sou vir hom onmoontlik wees om sy vrou én sy minnares gelukkig te hou. Hy was gedwing om meer skuld aan te gaan en daarom het hy besluit om die oorledene te laat vermoor – nie vir finansiële gewin nie, maar om sy stygende skuld te beperk.”

Panayiotou het in sy verklaring dié bewering ontken deur ʼn lys van sy bates en laste in te dien wat toon sy netto waarde is meer as R3 miljoen. Hy het wel erken hy het die afgelope drie jaar ’n verhouding met Chanelle Coutts gehad, maar het gesê dit is glad nie tersaaklik vir die hofsaak nie.

Coutts is die personeelbestuurder van die OK Grocer in Algoapark. Panayiotou is die eienaar van die winkel.

Aanklagte van moord, ontvoering, sameswering tot moord en roof met verswarende omstandighede is teen Panayiotou aanhangig gemaak. Sy medebeskuldigdes is Thando Siyoli (31) en Sizwezakhe Vumazonke (30).

‘Moord sedert September beplan’

Jayde (29) is op 21 April buite haar huis in Kabegapark, Port Elizabeth, ontvoer terwyl sy op ʼn saamrygeleentheid na Riebeeck College, waar sy ʼn onderwyseres was, gewag het. Haar liggaam is die volgende dag buite die Kwanobuhle informele nedersetting in Uitenhage gevind.

Volgens Swanepoel se verklaring het Christopher gereeld vir Coutts geskenke gekoop. Hulle het in die geheim by hotelle, restaurante en selfs by Panayiotou se meenthuiskompleks ontmoet wanneer sy vrou saam met haar familie plaas toe is.

Swanepoel het gesê Panayiotou se pa het teen Oktober verlede jaar van die buite-egtelike verhouding te wete gekom en omdat hy Jayde as sy eie dogter liefgehad het, het hy vir Panayiotou gesê hy sou onterf word indien hy nie die verhouding met Coutts stopsit nie. Die pa het egter besluit om nie vir Jayde van die verhouding te vertel nie.

Die hof het gehoor Panayiotou het Siyoli in September verlede jaar genader om ʼn huurmoordenaar op te spoor. Siyoli het glo minstens drie mans in hierdie verband genader. In Februarie het Siyoli met Vumazonke gepraat wat glo ingestem het om die moord uit te voer.

Volgens Swanepoel is daar ooreengekom dat Panayiotou R70 000 sou betaal, waarvan Vumazonke R40 000 sou kry en Siyoli R30 000. Vumazonke het glo die oggend van 21 April na die Stellen Glen-kompleks gegaan waar die Panayiotou-egpaar gewoon het. Hy het in ʼn gehuurde motor om die kompleks gery voordat hy langs Jayde stilgehou het.

Volgens Swanepoel se verklaring het hy Jayde oor die kop geslaan en in die motor se kattebak gelaai. Vumazonke het in die rigting van KwaNobuhle gery waar hy naby Rooihoogteweg stilgehou het. Hy het Jayde uit die kattebak getrek en haar in die veld in gedra. Hy het haar van naby twee keer in die rug en een keer in die kop geskiet.

Vumazonke het glo daarna vir Siyoli van die toneel af gebel om vir hom te sê hy het “die taak voltooi” en dat hy sy betaling wil hê.

Stander het Panayiotou se aansoek om borgtog teengestaan deur te getuig dat hy ʼn vlugrisiko is omdat hy reeds vir ʼn Cipriese paspoort aansoek gedoen het, wat in Maart aan hom uitgereik is.

Panayiotou het erken hy het vir die paspoort aansoek gedoen, maar gesê hy was nie bewus dat dit uitgereik is nie en het dit nog nie afgehaal nie. Hy het gesê hy was in 2009 die laaste keer in Ciprus.

Stander het versoek dat die saak uitgestel word vir slotargumente. Die saak is tot Dinsdag uitgestel.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

pop ·

The plot thickens. EErs ontken hy verhouding met ander vrou, nou erken hy dit. En dit voor die hof. Ai man. En pappa het mooitjies vir hom n motief gegee, Ek onterf jou as jy dit nie stopsit nie. Minnares het ook tien teen een geweet van komplot. Siestog, sy arme vrou het minder vir hom beteken as die Coutts vrou.

Sumari ·

Genade..Sy was sulke pragtige vrou en dis swak van hom om sy vrou te laat vermoor, maar jammer mannetjie jy verdien nie borg nie en moet maar vrot ini tronk. Moet my net beheer om nie lelik te praat nie.

Cindy ·

Wat my pla waar is haar familie, wat sê hulle van alles. Is hulle by die hof… want ‘n mens hoor niks van hulle nie.. My hel as ek in daardie hof was… so ek hom gespoeg het.. Want glo my hy is vark… hy seker gedink ek gaan weg kom soos al die mans wat hulle vrouens so vermoor… VARK,VARK……. ek hoop hulle gooi die sleutel weg of vergeet van hom… klink my hy is regte bedorwe ou seuntjie hy wou sy broodjie in alby kante gebotter gehad het… hoekom het hy haar net gelos nie. my mening

Jo ·

Die rede hoekom hy haar nie gelos het nie, word in die artikel gegee. Sy pa het gedreig om hom te onterf indien hy nie die verhouding met sy “houvrou” stopsit nie. Hy wou nie sy erfporsie verloor nie. Dus, as sy vrou vermoor word, is hy die arme “treurende eggenoot”, hy kan later met sy “houvrou” trou en dan ook nog sy erfporsie aan die einde kry….

ladybug ·

Hoekom het hy dan nie net sy vrou geskei nie? HOekom haar laat vermoor? Hy’t haar nie verdien nie en met haar lewe geboet!!! Wat ‘n absolute pateet is hy nie!!!! ek glo nie hierdie storie nie, daar skuil meer hier agter as wat hy wil erken …

Veronica ·

Ek lees en volg die hele storie van die begin af, ons mag nie klippe gooi of ander oordeel nie, maar dit gee niemand die reg om iemand anders so te vermoor nie. Ek is seker Jayde het dit nie verdien nie en ek bid dat geregtigheid sal geskiet en die oortredeners ALMAL sal boet en sy skelmpie se gewete moet haar pla en sy moet ook haar dag kry……..

susan gildenhuys ·

Wonder wat se sy houvrou nou.of het j geweet van alles.sies man.jy het geweet hy was getroud.was dit die moeite werd.jy moet geteer en geveer word en kaalgat in die middel van die dorp gelos word saam jou skelmpie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.