Hof hoor Kersdag-plaasaanval was beplan

Argieffoto: Nico Strydom

Twee mans wat ʼn boer en sy vrou op ʼn plaas in die omgewing van Besters op Kersdag 2015 oorrompel, aangerand en beroof het, is vandeesweek in die Ladysmith-streekshof in KwaZulu-Natal gevonnis.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 57-jarige boer was omstreeks 09:00 die betrokke dag besig met sy pligte op die plaas toe hy deur twee mans genader is. Die mans het ʼn vuurwapen op hom gerig en gedreig om hom te skiet. Hulle het hom aangerand en naby ʼn watertenk vasgebind.

Die aanvallers is daarna na die plaashuis waar hulle die boer se vrou aangerand en gedreig het. Die boer kon daarin slaag om homself los te wikkel en het sy vrou te hulp gesnel. Die aanvallers het met vuurwapens en kontant gevlug, terwyl die boer ander boere in die omgewing in kennis gestel het. Die aanvallers is op die nabygeleë N3-snelweg, met die gesteelde goedere in hul besit, aangekeer.

Thulasizwe Hadebe (32) en Qina Hlongwane (32) is aangekla van roof met verswarende omstandighede en huisbraak. Volgens Mbhele het dit tydens die verhoor aan die lig gekom die twee het voorheen by die huis op die plaas ingebreek om hulself met die huis en sy inhoud vertroud te maak voordat hulle later teruggekeer het om die plaasaanval uit te voer.

Hadebe is tot 18 jaar tronkstraf en Hlongwane tot 20 jaar gevonnis op aanklag van roof. Hlongwane is ook tot ʼn bykomende tien jaar tronkstraf gevonnis vir huisbraak. Die hof het bevind albei mans is onbevoeg om ʼn vuurwapen te besit.

Genl.maj. Bheki Langa, waarnemende provinsiale polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, het die slagoffer geloof vir sy dapperheid om die aanvallers agterna te sit en aan te keer. “Sulke aanvalle is so barbaars dat hulle boere dwing om alles agter te laat en te verhuis om te verhoed dat hulle slagoffers van misdade word. Só word die plaaslike gemeenskap ook van die broodnodige werksgeleenthede ontneem wat boere in die omgewing hulle bied,” het Langa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pik ·

Mnr Langa dink jy moet Zuma se pos oorvat darem iemand wat in die toekoms kan insien

Magda ·

Die eerste goeie kommentaar van Langa en goeie vonnisse – die boere is en sal altyd brood nodig wees in enige Land – en as die onsinnige moorde en aanrandings nie gestop word nie – gaan daar min kos en ook baie meer mense wees wat sonder werk gaan wees as die boere pad vat.

m ·

Hierdie idiote moet begin besef GEEN BOERE GEEN KOS. So eenvoudig soos dit….

Johann Marx ·

Wat lees julle nie raak nie? WAARNEMEND….en as hy TE suksesvol is, sal hy verwyder word. Die bekamping van misdaad en die verkoming van plaasmoorde is NIE in lyn met die regering se uiteindelike doelwitte nie. Pasop Generaal Majoor….jy gaan jou job verloor!!

Gatvol ·

Dink ons moet die lof aan die regter gee wat die vonnis gegee het

al ·

Baie dankie Generaal Bheki Langa dat u die insig het om te verstaan en die volle omvang van plaasaanvalle en plaasmoorde te begryp.
Ons salueer u en mag ander invloedryke rolspelers ook u mening begin deel.
Behalwe vir werksgeleenthede wat verlore gaan, is dit nog n wetsgehoorsame burger en belastingbetaler wie ñ konstruktiewe bydrae kon lewer, wie geteaumatiseerd of doodgemaak word.

Pop ·

Haai dis lekker om van Bheki Langa te lees. Ek het die voorreg gehad om hom jare te terug te ken en hys n fantastiese mens. Daarvan kan ek getuig. Hoop jy word permanent aangestel.

Theresa ·

Ja, baie dankie aan ‘n man soos hierdie wat iets sê wat mens die waarheid kan noem!
Dankie ook aan die regter wat die vonnis uitgespreek het. Aanranding is wel uitgelaat as ek reg lees?

Chris ·

Ek het myself al betrap dat wanneer ek berigte van plaasaanvalle lees is daar wraakgierige en moorddadige gedagtes wat in my aangewakker word. Dit is trouens vir my onaanvaarbaar dat enige moord of poging tot moord deesdae gepleeg word. Ek kan dit net nie verstaan dat enige persoon homself/haarself die reg toeein om ‘n ander persoon se lewe te neem nie. ‘n Roofdier maak ‘n ander dier dood vir oorlewing. Wat is die mens se rede of verskoning. Ek was al kwaad vir mense, ek was al honger maar om iemand te martel of te vermoor om my woede of honger van ontslae te raak, nee. Die oog vir ‘n oog beginsel, al is dit hoe onaanvaarbaar is die enigste logiese oplossing. Die doodstraf word bepleit. Dit kan moontlik as afskrikmiddel vir mense dien, maar is dit die oplossing. Ons sit met ‘n oer oud probleem wat ek nie raad voor het nie. Vir die plaasaanvalle het ek raad, maar dit gaan te veel kos en is sosiaal nie in ‘n ” Westerse demokratiese bestel” aanvaarbaar nie. Volgens tradisionele en etniese maatstawwe sal dit wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.