Hof hoor man is gemartel om skuld te beken

Die landdroshof in Roodepoort. Foto: ANA.

Zakhele Zondi, een van die mans wat saam met ʼn voormalige ANC-werknemer aangekla word van ʼn transitorooftog in Soweto, het Vrydag aan die Roodepoort-landdroshof gesê hy is aangerand en gedwing om skuld te erken.

Zondi en sy drie medebeskuldigdes, Itumeleng Manama, Errol Velile Present (die ANC-werknemer) en Bheki Biyela, staan tereg op ʼn aanklag van roof met verswarende omstandighede in verband met ʼn transitorooftog in Dobsonville, Soweto, op 4 Julie. Meer as R250 000 is tydens die rooftog gesteel.

Staatsaanklaer Paseka Tameli het tydens ʼn vorige hofverskyning van dié vier gesê die mans sal nou ook tereg staan op aanklagte van poging tot moord en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Die aanklag van poging tot moord is bygevoeg aangesien ʼn G4S-veiligheidswag tydens die transitorooftog in die kop geskiet is.

Zondi het Vrydag aangevoer dat hy met ʼn vuurwapen op sy bors geslaan is en dat sy kop met ʼn plastieksak bedek is op die dag waarop hy in hegtenis geneem is.

“Ek was moeg om gemartel te word; dis hoekom ek op die ou end ingestem het dat ek die rooftog gepleeg het,” het Zondi tydens sy aansoek om borgtog gesê.

Volgens hom was sy beserings sigbaar toe hy die eerste keer in die hof verskyn het.

Zondi het gesê hy en Present is neefs. Hy het geweier om vrae, soos hoe hy die ander twee beskuldigdes ken en wanneer laas hy Present gesien het voordat hulle in hegtenis geneem is, te beantwoord.

Maroela Media het vroeër berig Bheki Cele, minister van polisie, het vroeër gesê Present, wat by Luthuli-huis gewerk het, word met minstens drie transitorooftogte verbind.

Die saak is tot 31 Augustus uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Karolis ·

Sy sogemelde marteling weeg swak op teen die toestand van die persoon wat geskiet is.
Wonder hoeveel ander onskuldige mense sou ook leed aangedoen gewees het in die ander rooftogte waarvan hy deel was.
ANC is nogal stil oor die ou se doen en late.

Irma ·

Ag neeee regtig Zondi, leuns en nogmaals leuns ou broer. Siestog en jy reken dan seker almal moet jou genadig wees en jou leuns glo. . Dis belaglik.

Ria ·

Man, dis mors barbaars om gemartel te word in ñ tronk!…RIA.

SABC ·

Kyk sommer of sy TV lisensie betaal is. Hy het beslis ‘n TV !!!. Dit is duidelik dat hy te veel aksie flieks kyk, en nou probeer hy movie verskonings gebruik om uit sy moeilikheid te kom….

Petro ·

Ag sies tog Zondi om die kry my jammer kaart te speel julle moet van die aarbol af verdwyn sodat die aarde weer kan gebalanseer word ek kry jou regtig nie jammer nie wonder net wat die regter gaan doen

christa ·

natuurlik gebruik die polisie maniere om die skelms te laat praat. Hoekom is dit n problem. Die skelms wil met alles wegkom.

Oe Shame ·

Hulle het dit met die BOEREMAG manne ook gedoen en toe was dit nerens in die nuus nie, die arme gemartelde mense moes die inligting uitsmokkel . en daar is teen NIEMAND opgetree nie ..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.