Hof hoor oor gru-moord op ontvoerde kinders

Die baba wat ontvoer is. Foto: Verskaf

Die landdroshof in Witbank het Dinsdag gehoor die polisie het glo die kop van ʼn mens en ander liggaamsdele in die huis van Thokozani Msibi, ʼn tradisionele geneesheer, gevind voordat hy verlede maand in hegtenis geneem is in verband met die ontvoering van en moord op twee kinders.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het vroeër aan Maroela Media gesê die kinders, Gabisile Shabani, ʼn 13-jarige albino-meisie, en Nkosikhona Ngwenya, 15 maande oud, is op 28 Januarie in die vroeë oggendure by ʼn huis in Vosman buite Witbank ontvoer waar ʼn 50-jarige vrou saam met haar kinders en kleinkinders woon.

Drie verdagtes het toegang tot die huis verkry deur die sit-en-eetkamer se venster te breek. Die vrou en haar 18-jarige dogter het die geraas gehoor en gaan ondersoek instel, waarna ʼn vuurwapen op hulle gerig is. Hulle is dadelik beveel om stil te bly.

Die verdagtes het toe vir Gabisile en Nkosikhona uit verskillende kamers gegryp en in die donker op die vlug geslaan en verdwyn.  ʼn Soektog is daarna na die kinders en die verdagtes van stapel gestuur.

Fanie Mavundla, die staatsaanklaer, het gesê die polisie het dié gru-ontdekking glo gemaak in eMpumelelweni in Witbank waar die man se “sakebedryf” geleë is. Msibi het glo ná sy inhegtenisneming die polisie ook na ʼn vlak graf in Cullinan geneem waar die liggaam van die Gabisile begrawe is.

Die meisie wat ontvoer is. Foto: Verskaf

Mavundla het Msibi en sy mede-beskuldigde, Mthobisi Brilliant Mkhize (26), se borgtogaansoeke teengestaan.

“Ons getuie [die staatsgetuie] beweer hy was daar toe Gabisile Shabani onthoof is,” het Mavundla gesê. “Die beskuldigde [Msibi] het na ʼn tradisionele geneser in Swaziland gegaan en hom gevra om hom van enige ‘slegte geluk’ te bevry. Hy sou die tradisionele geneser betaal met die vagina van ʼn jong meisie, maar die tradisionele geneser het geweier. Dié tradisionele geneser is dus ook ʼn staatsgetuie.”

Die 13-jarige Shabani is na bewering nie deur Msibi onthoof nie, maar deur ʼn verdagte van Swaziland. Mavundla sê sommige van haar liggaamsdele is nog nie gevind nie.

Zamo Sibisi, Mbisi se regsverteenwoordiger, het vroeër aangevoer Mbisi was aangerand en gedwing om ʼn verklaring af te lê nadat hy in hegtenis geneem is.

Landdros Darleen Venter het Mbisi se borgtogaansoek van die hand gewys. Mkhize sal weer op 13 Maart in die hof verskyn en is beveel om ʼn regsverteenwoordiger aan te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Blikskottel ·

Niks verbaas my meer nie. Die enigste ding wat my verbaas is die feit dat ek nie meer verbaas is nie.

Karien ·

Hoe wreed is die wereld nie! so onnodig vermink en vermoor en dit alles oor een wat nonsens glo!
Daar is net een Here! Mag hierdie kinders se gesin, familie en vriende aan die Here se beloftes vasklou.
Rus sag kinders.

tamboti ·

Bygeloof, geloof, spiritualiteit, geeste, bose geeste, engele, doods engele, duiwels en gode; waar trek jy die streep?
Ek soek regverdigheid, geregtigheid, waarheid en waardigheid, ek wil dit nog sien!

dejager ·

Wat ń verskrikking!Woorde kan nie die kommentaar lewer wat hierdie dade verdien nie.
Hierdie mense moet verewig tronk toe.

Liezl ·

Hoe vinniger die mense agterkom dat geen liggaamsdeel van ‘n ander persoon jou sal genees nie, hoe beter. Daagliks word daar mense vermoor vir ‘n arm of been wat die Toordokter benodig. Hoe belaglik is dit nie. Bygelowe is ‘n lelike ding, maar dit kom van die Bybelse tyd. Niks is eintlik nuut nie, wat was is nogsteeds met ons.

Pat ·

Dis omdat hulle hierdie snert glo! Die polisie wat veronderstel is om sulke misdade te keer besoek seker self sulke mense. Hierdie vieslike praktyk moet stop gesit word. Dis van die duiwel. Ek bid dat die Here hierdie duiwels van die aarbol sal uitroei. Hoeveel onskuldige kindertjies het nie al so dood gesterf nie? Swart en wit!

Al ·

Ek stem! Dis walglik en sieklik! Mag die Here Sy volle wraak op bose moordenaars en plunderaars, verkragters laat losbrand!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.