Hof hoor oor lyfstraf tuis

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

Vryheid tot Godsdiens in Suid-Afrika (FOR SA) het Donderdag in die konstitusionele hof aangevoer daar is geen bewyse dat “redelike lyfstraf” tot geweld in ʼn samelewing lei nie.

Die burgerlike organisasie glo die uitspraak in 2017, dat dit onwettig is vir ouers om hul kinders pakslae te gee, “maak kriminele van ouers wat hul kinders liefhet en slegs die beste vir hulle wil hê”.

Adv. Reg Willis, vir FOR SA, het gesê die kriminalisering van matige lyfstraf van ʼn kind deur ʼn ouer sal nadelige gevolge inhou vir die eenheid van gesinne en die welstand van ʼn kind. Hy het gesê die organisasie vra nie die hof om ʼn uitspraak te lewer oor lyfstraf nie, maar eerder oor die reg van ouers om gematig fisies op te tree om hul kinders te dissiplineer.

“Ouers moet die reg hê om hul kinders groot te maak sonder dat die staat inmeng,” het hy aangevoer.

Regter Edwin Cameron het gesê dit is gewoonlik nie bekend hoe gereeld kinders pakslae kry nie en of dit op redelike of gematigde lyfstraf neerkom nie. “As dit deur ʼn wet toegelaat word, maak dit die deur oop dat ouers dié reg kan misbruik en oorboord kan gaan,” het hy gesê.

Willis het bygevoeg ouers het meer instrumente nodig om hul kinders groot te maak en daar moet riglyne wees waarvolgens straf uitgedeel mag word, byvoorbeeld dat dit nie tydens ʼn woedebui mag plaasvind nie.

Adv. Ngwako Maenetje, vir die departement van justisie en maatskaplike ontwikkeling, het gesê FOR SA se verweer oortree die beskerming wat die Grondwet aan kinders bied, insluitend hul reg op menswaardigheid en beskerming teen enige vorm van mishandeling. “Gegewe die geskiedenis van ons land en geweld teen vroue en kinders, moet die wet nie in enige vorm beperk word wat betref geweld en die bron van daardie geweld nie,” het hy gesê.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng wou weet hoe die samelewing probleme takel wat tans die land teister, soos skoliere wat onderwysers aanval. “Ek soek iets wat Suid-Afrika van geweld sal weglei. Watter pogings word aangewend om onderwysers in staat stel om positiewe dissipline toe te pas? Hou ons vas aan die idee dat positiewe dissipline uiteindelik in werking sal tree sonder dat ouers en onderwysers behoorlik toegerus is?”

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Paul ·

Hoofregter Mogoeng Mogoeng, moet dit tog net nie gekompleseerd maak nie, moenie slim probeer wees nie, die antwoord is maklik: “Buig die boompie solank dit jonk is, of wat het jou ouers met jou gedoen?”

Essie ·

Ek ht my kinders groot gemk mt n pak op sy tyd en hul ht uitstekende grootmense uitgedraai

Zann Potgieter ·

Ons ons kinders en ons ouers is met lyfstraf op sy tyd opgevoed en daar was nie naasteby soveel geweld soos nou nie. Dit is omdat daar nou GEEN disipliene toegepas mag word nie. Kyk hoe gaan dit in skole en geen respek vir niemand. Bring terug die kats vir hof vonnisse. En die hand vir tuis disipliene. Jy moet nie jou kind aanrand nie maar voed hom/haar op.

Faan ·

Uitstekende vraag van ons hoofregter. Die antwoord is eintlik baie eenvoudig. Gaan kyk wat gebeur in die natuur en leer daaruit. Olifante, leeus, ape, bobbejane, perde beeste ..elke spesie gebruik n mate van “geweld” om dissipline uit te oefen. Buig die boompie as hy nog jonk is. Doen dit met een doel en dit is om n beter kind vir die samelewing te gee. Verantwoordelike ouerskap. Ons is uiteindelik maar net nog n spesie in die natuur en moet waak daarteen om te probeer om n nuwe sosiale orde of manier te vind om die samelewing te orden.

jaco ·

wanneer jou kinders pak gee nou regtig onwettig word, twyfel ek of veel sal verander.
1. hoeveel kinders gaan nou polisiestasie toe stap om ‘n klag teen ma of pa te maak?
Dis nie noodwendig net om die draai nie. dit kan 5 of 10 km ver wees.
2. daar aangekom sal hulle hoor “ons het nie ‘n voertuig om nou uit te kom nie” of “hiers niemand met wie jy nou kan praat nie”. (ek het daardie verskonings gekry toe ek sake VEEL ERGER as ligte aanranding wou gaan aanmeld)
3. Wat as dit jong klein wit of kleurling kinders is wat kom kla en hulle kan net Afrikaans praat? ek het al ‘n paar keer by verskeie polisiebeamptes gehoor “sorry English only”
4. en gaan wit kinders wat hulle ouers kom verkla hoegenaamd gehelp word? want daars oorgenoeg gevalle waar die SAPD eenvoudig net nie wit klaers help nie.

Willie ·

Met hierdie wet kan ‘n mens saamleef en dit voluit ondersteun. Sien die ding werk so. Veronderstel die boete is R1000 vir ‘n pakslae, dan sou dit vir pa R5000 gekos het om die outjie groot te kry. ‘n Baie goeie belegging. (kan elkeen van die pakslae nog onthou en waaroor dit gegaan het). Myself sou ook soveel per kind moes opdok, hulle onthou ook nog tot vandag presies waaroor dit gegaan het. Ook ‘n baie goeie belleging in hulle opvoeding. Wat mens egter teen is, (die wet voorsiening voor maak) is die ‘ouers’ wat heeldag en aldag aan die kinders timmer (mens kan dit net so noem) en skreeu op hulle. Hoop nou maar die wet maak die spul wat so loop en skreeu en timmer aan die kinders bankrot.

Essie ·

Ek doen of het gedoen wat my Bybel vir my gesê het en dis buig die boompie terwyl hy/sy nog jonk is

Johan ·

Buig hom as hy nog jonk is. Pak op sy tyd die beste. Van diwe kindes flippen uiters stout . Arme onderwysers sit met die gemors . Onderwysers sit met slegte en slapgat ouers se stoute kinders

Abe ·

Johan,
Ek haal aan uit jou kommentaar: “Van diwe kindes flippen uiters stout” – Nou wil ek graag weet, watter taal is dit? Hoekom skryf jy as dit nie saak maak wat jy se nie?

Oop oge ·

Daar is net EEN rigting wyser en dis die Woord van God. Sonder Sy Gees as leiding, SAL n ander gees oorneem…en daar bestaan net twee …

Die mens kweek sy eie hel op aarde en dan blameer almal mekaar…

Satan is die bron van verwarring en wanorde en hy regeer die wereld onder die dekmantel van allerande soorte van menseregte…alles behalwe God se Reg….want hy haat dit.

Elke boom word geken aan sy vrugte ….

Maak jou kind groot na God se dissipline en daai kind sal n rugraat he van orde en respek…

Frikkie Mulder ·

“Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.”
SPREUKE 13 vers 24.

IK ·

Ek ook nou dom. Die verwysing is ‘aanhaal’ en nie ‘uithaal’. Ewenwel sê ook ek dankie vir my ouers se nakoming van die versie vir hul bulletjie se opvoeding anders was dit dalk opgefoeter.

humor ·

Die probleem is ons is vasgeval met verskillende kulture. Daar is mense wat maar geen kennis van opvoeding het nie en ook geen hart het nie. Ek het dit self beleef hoe van ons arbeiders n kind vir onbenulligheid slaan tot duskant moord Geen menswaardigheid kan daaruit voort spruit nie. Ongelukkig moet ons in hierdie diverse samelewing gebuk gaan onder een wet. Wanneer tugtiging buite die sfeer van liefde en opvoedkundigheid plaasvind dan is dit vernietigend. Die norm kry ons van ons SKEPPER. God tugtig die een wat Hy liefhet. Griekse woord vir tugtig beteken om met liefde nader te trek.

ou Seun ·

Nie dat ek baie geslaan was nie want ek het my meestal gedra. Maar ek is bly my pa het my gevoeter! Dit het my die volgende keer twee keer laat dink voor ek iets doen.

Anton ·

Stem 100% saam. As ‘n Christen kultuur is PAKSLAE van die beste medisyne. Vir my was dit.
Ander kulture kan nie dieselfde van gesê word nie.
Die staat kan middele gee aan kinders om ‘n saak teen enige iemand aan handig te maak vir geweld.
Dan gaan die reg sy gang. Maar… As die kind ‘n saak wil maak dan moet hy kan maar hy moet ook weet dat dit teen hom kan draai.
Pakslae kan nie geweld wees nie. Dis ‘n straf,
‘n straf met liefde. Die staat kan nie/mag nie inmeng met wette in ouerskap nie.
Dis my grondwetlike reg om my eie kinders te onderrig en op te voed.
Dis ‘n vrye land nie ‘n kommunistiese land nie.

Rina Meyer ·

Ek het meer pak as kos gekry ons was 6 kinders…n handvol glo my…almal het ons lief gehad want ons het die mooiste maniere gehad en my ouers was baie regverdig…vandag kan ek met n blye hart sê dankie mamma en pappa????

LHS ·

Baie eenvoudige probleem. Alle ander gelowe se riglyne en voorskrifte word gerespekteer en indien nie is hulle bereid om hulle lewens te offer ter wille van hulle geloof. Alles en almal behalwe die Christelike geloof. Alles wat die Bybel voorskryf moet afgebreek en vernietig word.

Yankee ·

Ag Vader tog. As julle jul kinders so graag wil slaan, waarom dit ook nog so uitblaker met trots!! Sies!!

JPV ·

Ai, ai, ai Yankee. Hoekom moet jy die waarheid so verdraai om ander te laat sleg lyk. Niemand het gesê hulle wil ‘graag’ hulle kinders slaan nie. Nié die staat, nié die howe en g’n wet of mens gaan my verhoed om my kinders te dissiplineer (lyfstraf of andersins) nie.

Magrietha ·

Ek is nog nie dood van n goeie pak nie.Dit is hoekom vandag se kinders so is.Ek se weer dit wat wetig word onwetig verklaar dit wat onwetig is nou wetig.Kom ek stel dit so dit wat REG is is nou VERKEERT dit wat VERKEERT is is nie REG.Julle gaan teen die woord van God

J. van Rensburg ·

Oorlé Ma se spreekwoord was: “Wie nie ore het nie, moet VOEL…” en ek as kind het daardie les beleef – en my driestuks (almal nou diep in hul 50’s) het geweet dat ou “SIELKUNDE” – ‘n plak – agter die kombuisdeur hang. En my oudste het nooit getrou nie, maar die twee jongeres het hulle spruite ook met die “bum-buster” of plathand bygekom indien nodig – en nie een van hulle het ooit gewelddadig uitgedraai nie – inderdaad, al die kleinkinders is stabiele burgers wat HULLE spruite vasvat – indien nodig – die plathand is byderhand – as – en indien – nodig….

Maria ·

Ek het nog pakslae gekry,en ek het niks oorgekom nie,gaan kyk daar waar dissipline en nou en dan pakslae is,het daai kind meer respek vir hulle ouers en ander mense terwyl die ander wat nie dit kry nie,geen respek het nie, sê en doen wat hulle wil,en dit kan jy duidelik sien in hulle skool werk ens.

J. van Rensburg ·

Net ter byvoeging – ek glo die HERE het dit goed gedink om ‘n kind se agterstewe met vet te vul sodat genoemde agterstewetjie elke wan en dan – as en wanneer nodig – sonder enige skade bietjie warm geklap kan word…. soos iemand dit eendag gestel het – “Well-padded to take what is needed to instil discipline…”

Natascha ·

Ja nee, ek se nog steeds, dit is hoekom vandag se kinders geen respek of dissipline meer het nie. Dit is hoekom die kinders doen en se net wat hul wil, Ons het niks oor gekom deur n goeie loesing nou en dan, dit het ons beter mense gemaak. Maar die kinder van vandag doen net wat hul wilen kom daarmee weg, want die “staat” beskerm hul.
Nee wat bring terug lyfstraf, maar hou matigheid voor oe. Sleg as dit regtig nodig is.
Self die Bybel se tugtig die wat jy Liefhet.

Anoniem ·

Positiewe gedrag en discipline? Gee die onderwyser n rotang en die reg om n kind n pakslae op sy agter stewe te gee 6 van die bestes. Laat ouers toe om dieselfde te doen. Roep die jong manne en dogters op om n jaar se diensplig te doen teen n minimum vergoeding sodat hulle die waardes van geld kan leer en sodoende kan bydrae tot die samelewing. En dan laastens bring die DOODSTRAF terug en le dit op vir moordenaars, verkragters, en enige ander vorm van seksuele misdaad. Gee vroueslaners en geweldenaars teenoor kinders minimum tronkstraf van 15jaar. Vat alle voorregte weg uit tronke soos tv en ander vermaak. As jy in die tronk is moet jy harde bene kou ongeag wie jy is. Van vroeg oggend tot laat aand harde arbeid. Sonder discipline gaan enige land ten gronde en word daar net kriminele gekweek.

Lollie ·

Hierdie regering het alle vorms van straf weggevat. Pakslae tuis en in skool, doodstraf ens. Daar is glad geen wet en orde in die land oor nie. Daar is niks waarvoor hulle skrik nie.
Bring van daardie dinge terug en baie sal twee keer dink voor hy kwaad doen!
Geweld, roof, verkragting en moord vier hoogty vandat alle strawwe weggevat is. Is hulle net te onnosel om dit raak te sien?

Boertjie ·

As kinders het ons agterstewes gereeld gebrand, beide by die huis en by die skool. As jy buide die raamwerk en riglyne beweeg het, is jy ernstig, dog met liefde, getugtig. Respek en dissipline is in ons ingefoeter, en dit het beslis nie van my, of my sibbe, kriminele, aanranders, misdadigers of moordenaars gemaak nie. Inteendeel, ons is algar (so hoop ek!) wel-aangepaste lede van die samelewing met gesinne, beroepe, en nog steeds gesonde respek vir outoriteit (en veral my Ma!)

Boertjie ·

Dalk moet ek my werk proeflees voor ek die knoppie druk… Dis veronderstel om “buite” te wees, nie “buide” nie.

Pieter ·

Die liefdevolle ouers wat matige tugtiging toepas vir disipline word nou aan bande gelê, diegene wat hulle te buite gegaan het en aangerand het sal dit steeds doen. Dit was nog altyd onwetting om aan te rand en steeds het hulle dit gedoen, so die wetgewing gaan hulle verseker nie keer nie. Net soos met die sg menseregte, wapenwet en vele ander wette, is dit slegs die wetsgehoorsame burgers wat benadeel word, die res doen inelkgeval net wat hulle wil

Ballon ·

So 2 jaar gelede is ek met my 2 jarige in n winkel. Hy stamp aanhoudend goed van dir rak af. Raas en mooi praat help nie. Die ry raak stil en ek gee my kind n goeie raps op die boud. Net dai tyd kom iemand om die draai en sê kliphard vir sy kinders. Sies, kyk hoe slaan die tannie haar kind! Baie onsteld oor die kommentaar is ons na n volgende winkel. Die dieselfde gebeur ook daar, in die ry vir betaling sê n grys dame vir my, Ek dink dit is tyd dat jou kind n pak kry. Baie mense verskil oor lyfstraf maar hulle besef nie dat kinders se persoonlikhede verskil nie. Party het regtig die raps op die boud nodig. My man sê n goeie raps op sy tyd hou die ore oop vir n lang tyd.

jan ·

N pak op die regte tyd het nog nooit n kind dood gemaak nie,dit is beter as wat n mens kwaad word en buite jou self gaan.KYK hoe lyk die skoole GEEN maarGeen disselpliene.Waar het jy gesie n Kind lig sy hande op vir ouer mense die mense kan niks terug doen nie. DIE NUWE SA ONGEDISSIPLIEN,

AH ·

Dissipline en respek is wat die jeug vandag kort. Toe ek op skool was meer as 40 jaar gelede was ons op skool ook met ‘n lat oor die agterstewe geslaap as dit nodig was. Dit het ons groot respek vir die onderwysers laat kry, want daar was twee keer gedink voordat jy weer iets sou aanvang wat jou in die Hoof se kantoor sou laat beland. Toe was onderwysers se woord nog wet, want as jy by jou Ouers durf kla het oor die onderwyser, het jy sommer nog ‘n pak slae gekry! Ons het ook van kleins af geleer dat ons Ouers se ja JA was en nee NEE. Ons het gewees dat ons gedrag te alle tye gevolge gehad het, goed
of sleg. Ons het op ons beurt goed aangepaste, wetsgehoorsame mense uitgedraai wat pragtige, ordentlike kinders grootgemaak het wat vandag weer op hulle beurt hul kleingoed met liefde en respek EN dissipline grootmaak.

Annelize ·

‘n Pak slae op sy tyd is soos brood en konfyt. My agterstewe het nie vir elke bak en tel gebrand nie, maar het goed gebrand as dit die dag nodig was. En ek het net mooi niks daarvan oorgehou nie, behalwe goeie maniere, respek vir myself en vir ander om my, en hulle eiendom. Vandag se kinders is absolute balhorige hooligans!

Ek le plathand in as dit nodig raak, ek slaan nie om te vermink of dood te slaan nie, maar dat die sitvlak moet “voel” en dat die ore kan “hoor”, sodat rang orde weer bietjie herstel kan word.

Dis wat nodig is, die rang orde tussen ouers en hulle snotneus kinders, moet dringend herstel word.

humor ·

Danien jy het hom nou reg gese. Al wat nou nog in hierdie land gestraf word is die sg. kolonialiste. En dit is n genadelose straf. Self moord is ook geregverdig.

Ian ·

Enige regter wat sy sout werd is kan die verskil tussen ‘n tugtige pak slae en mishandeling oordeel. Nee, die afstelling van lyfstraf is deel van die groter plan om die tradisionele gesin op te breek, geen disipline = groter liberalisme / afwyking van konserwatiewe waardes. Een goeie pak slae is al wat nodig is, daarna is dit die wete dat ‘n pak slae ‘n opsie is wat tel.

Dries ·

Dit lyk my ons word alhoemeer geforseer om e moet kies tussen gehoorsaamheid aan GOD engehoorsaamheid aan ‘n aardse grondwet. Dis snert dat matige lyfstraf op die regte tyd aftakelend is.

Melt Olckers ·

Die groot probleem met ‘n pak slae is dat daar ouers is wat nie weet hoe om dit matig te doen nie, en selfs uit woede uit die kind ernstig aanrand, of dat die ouers hulself nie kan beheer nie.
Om agter die Christelike geloof weg te kruip daarvoor is na my sin pateties. Ander wyses moet gevind word om positiewe gedrag by kinders te kweek. So ‘n wyse is om positiewe gedrag te beloon en negatiewe gedrag te straf deur ander voorregte weg te neem.
Selfs in my eie ondervinding is lyfstraf deur onderwysers oordoen. Een voorbeeld was ‘n onderwyser wat seuns geslaan het omdat hy seksuele plesier daaruit verkry het. Hy was nooit tot verantwoording geroep nie omdat hy geskuil het agter die “tugtig” gedagte uit die Bybel wat in elk geval verkeerd vertolk word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.