Hof hoor oor Marikana-man se gru-moord

Napoleon Webster, een van die beskuldigdes. Foto: ANA

[WAARSKUWING] Die inligting in die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Die hooggeregshof in Noordwes het Woensdag skokgetuienis aangehoor oor die grusame dood van ʼn 39-jarige man in Desember 2016 in Marikana-Wes wat vermoedelik tydens ʼn geskil oor laekoste-behuising vermoor is.

Die staat voer aan Aubrey Seitsang, Sibonile Sobopha, Mdlondozi Fundiwo, Herbert Baqhesi, Napoleon Webster, William Nyenyane, Aphindile Pungone, Samson Gqwetani, Gift Luveli, Nkululeko Msithwa, Nkosindiphile Nziyose, Luvo Soyizwaphi, Sivuyile Qasha en Mzolisi Mbulana het Sabata Petros Chale (39) op 8 Desember 2016 op grusame wyse vermoor. Chale se moord was na bewering die gevolg van ʼn geskil oor HOP-huise in die Marikana-Wes-uitbreiding.

ʼn Getuie het Woensdag aan die hof gesê Chale het ʼn “verskriklike dood” gesterf. Die getuie se naam kan nie bekendgemaak word nie omdat sy in ʼn getuienisbeskermingsprogram is.

Sy het aan die hof gesê sy het gesien hoe Chale deur ʼn groep gewapende mans gejaag word. “Hy is op sy kop gekap met ʼn panga. Hulle het hom aanhou kap. Hy het nie meer gehardloop nie, net geloop. Hulle het hom met iets in sy maag geskiet, ek weet nie wat nie, en sy binnegoed was sigbaar,” het die getuie getuig.

“Ek het gesien hoe Aubrey [Seitsang] hom op sy kop met die panga kap. Die bloed het op my gespat en op die stoele waarop ons gesit het buite [die huis] saam met Millicent. [Chale] het in die huis ingegaan. Die groep het op hom geskree en hy het uitgekom. Hulle het hom gekap en hy het drie huise van my af gesterf.

“Hulle het hulle vingers in sy bloed gedruk. Sommige het dit opgeskep en gedrink. Hulle het ook van die bloed in ʼn bottel gesit en dit saam met hulle gevat,” het sy gesê.

Toe die verdediging se regsverteenwoordiger, Eric Marx, vir haar ʼn foto van Chale wys, het sy emosioneel geraak. “Ek voel nie lekker nie. Ek kan nie voortgaan nie,” het sy gesê.

Die hof het verdaag sodat die getuie tot bedaring kon kom.

Toe die hofverrigtinge hervat is, het Marx aan die hof gesê die getuie het vroeër erken dat sy geskok en verward is oor die voorval. “Mevrou, ek stel dit aan jou dat jy verward is. Jy was so geskok dat jy nie kan onthou wat jy gesien het nie,” het hy gesê.

Hy het haar deur haar verklaring aan die polisie en haar getuienis voor die hof geneem. “In jou getuienis voor die hof noem jy net twee name, Napoleon Webster en Aubrey Seitsang. Jy voer aan dat hulle Sabata [Chale] gekap het. Maar in jou verklaring aan die polisie wat jy in Desember 2016 afgelê het, noem jy Aubrey, Napoleon, Roger, Tolo en ander. Hoekom praat jy nou net van Aubrey en Napoleon?” het hy gevra.

Sy het geantwoord dat die mans in Marikana nie hulle regte name gebruik nie en gereeld hulle name verander.

“Ek is seker ek ken vir Aubrey en Napoleon. Die ander ken ek net van sien. Hulle gebruik nie hulle regte name nie. Hulle sal vandag vir jou ʼn naam gee en môre gee hulle vir jou ʼn ander naam. Die enigste name wat ek vir die polisie gegee het, was Aubrey en Napoleon s’n.”

Marx het ook die getuie daarop gewys dat sy in haar getuienis gesê het Chale het uit die huis uit gekom toe die groep op hom geskree het, terwyl sy in haar verklaring aan die polisie gesê het die groep het Chale uit die huis uit gesleep.

Marx het dit aan die hof gestel dat sy kliënt sal ontken hy was teenwoordig toe Chale vermoor is.

Dr. Moeti Isaac Siko, wat die nadoodse ondersoek op Chale se liggaam gedoen het, het vroeër aan die hof gesê Chale is verskeie kere gesteek. Chale het verskeie snywonde op sy kop gehad, hy het ʼn steekwond in sy skouer gehad, sy linkerlong het platgeval, hy het steekwonde in sy sye en die linkerkant van sy bors gehad en sy kolon het ʼn steekwond gehad.

Al 14 beskuldigdes ontken skuld op die moordaanklag teen hulle.

Wilson verskyn vir Webster, terwyl Marx die ander 13 mans verteenwoordig.

Die verhoor is tot vandag uitgestel wanneer adv. Stuart Wilson vir die verdediging die getuie sal kruisondervra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nog erger ·

Dit is vir my nog erger dat hierdie persoon weer hierdeur moet gaan, meer verantwoording moet doen as die skuldiges, daar word nou deur regsgeleerders met haar aangegaan. Hoekom sal sy jok oor so iets, verder die name verander is ‘n probleem, ek hoop die hof beskerm jou teen die bullebak – nadat die reg ne vir Chale kon beskerm.

Denise ·

Hoekom sal die vrou oor so iets wreed wil lieg en dit het in 2016 gebeur ek sal nie aan so iets wil dink nie en dit is hoe hulle mekaar vermoor op die mees wreedste maniere geen gevoel vir hulle eie mense nie !!!!!!

Lee ·

Dat ‘n prokureur wragtig ‘n skuldige mens wil beskerm. Wel iemand wat so iets aan iemand anders kan doen is nie ‘n mens nie en moet uit die samelewing verwyder word. Dis omdat kriminele deesdae ‘n heerlike lewe agter tralies het wat misdaad hande uitruk!!! Hoop hierdie meneertjies sit vir baie lank.

GM ·

Lafaards, veertien teen een! En hul mag nie die getuie se naam noem nie, maar daar word soveel besonderhede gegee dat die “mense”, wat vir moord aangekla word, sal kan terugwerk om te bepaal wie die moontlike getuie is. Drie huise van haar af… en dit is ‘n vrou wat getuig. En hulle sal weet in watse rigting hulle die slagoffer gejaag het. En Millicent se naam word genoem. Of redeneer ek nou verkeerd?

Hoe nou ·

Wat ? Hy is vermoor, het nie saggies in sy slaap heen gegaan nie… en hulle word vurig verdedig ? Daardie prokureur behoort hom te skaam.

Tanzie ·

@ Hoe nou, ek dink nie jy verstaan reg nie. Die beskuldiges se regsverteenwoordiger is tien teen een ‘n staatsprokureur. Hy het nie ‘n keuse of hy hulle wil verteenwoordig nie. Dit is sy werk. As hy dit nie doen nie, sal daar net nog ‘n volgende een wees. So hy hoef hom oor niks te skaam nie. Dis hoe dit werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.