Hof hoor oor onbillike regstellende aksie

Lt.kol. Renate Barnard en Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, Donderdag in die hof.

Lt.kol. Renate Barnard en Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, Donderdag in die hof.

Die konstitusionele hof het vandag Solidariteit se waterskeidingsaak namens lt.-kol. Renate Barnard teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangehoor. Dit is die eerste keer dat ʼn regstellendeaksiesaak in dié hof aangehoor word en kan die landskap van regstellende aksie in Suid-Afrika vir altyd verander.

Barnard was twee keer die beste kandidaat vir ’n pos waarvoor sy aansoek gedoen het, maar is telkens oor die hoof gesien weens die kleur van haar vel. Die SAPD het geargumenteer dat haar aanstelling rasseverteenwoordiging nadelig sou beïnvloed, terwyl Solidariteit aangevoer het dat haar reg op waardigheid en gelykheid; die individuele situasie; en dienslewering ook in ag geneem moes word. Die uitslag van tot soveel as 34 ander regstellendeaksiesake kan deur hierdie konstitusionele hofsaak beïnvloed word. “Hierdie saak is een van die belangrikste konstitusionele hofsake in Suid-Afrika omdat dit gaan help om inhoud te gee aan een van die belangrikste onderliggende beginsels van die Grondwet, naamlik gelykheid,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.

“Die staat gee die pas aan in Suid-Afrika. Indien die staat ʼn onregmatige praktyk toepas, sal die privaat sektor dit begin volg en binnekort word dit so algemeen toegepas dat die onregmatige praktyk regmatig word. So volg die reg die praktyk. Ons kan dus nie die staat se onregmatige ideologie van verteenwoordigendheid net daar laat nie. Die taak van die burgerlike samelewing in ʼn grondwetlike demokrasie is om as waghond van die regstaat op te tree. Om op te tree teen ʼn staat wat buite die regsraamwerk teen die grondwetlike demokrasie optree is juis patrioties,” sê Hermann.

Hermann wys daarop dat verskeie ander hofsake oor regstellende aksie in Suid-Afrika van die Barnard-saak afhang, insluitend die veelbesproke hofsaak van Solidariteit namens tien werknemers van die departement van korrektiewe dienste teen die departement.

Uitspraak is voorbehou.

Vir al die tersaaklike dokumentasie vir die hofsaak, kliek hier.

Lees ook:
Nuuskommentaar: Renate en Menseregtedag
Barnard-saak: Implikasies van die grondwethof se uitspraak
Renate: Baie meer op die spel as een wit vrou
Renate Barnard: ‘n Storie van struikelblokke, hoop en geloof
Nuuskommentaar: Renate Barnard en die advertensie wat DStv nie wil wys nie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa Papenfus ·

Wanneer word uitspraak verwag? Tot wanneer is dit voorbehou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.