Hof hoor oor onreëlmatighede in ANC-takke

Argieffoto

Onreëlmatighede by ANC-takke het nie ʼn invloed op die streekskonferensie nie, het die hooggeregshof in Noordwes Woensdag gehoor.

“Die konferensie word bygewoon deur baie takke waar daar geen onreëlmatighede is nie. ʼn Onreëlmatigheid by ʼn sekere tak moenie die hele konferensie beïnvloed nie,” het adv. Tembeka Ngcukaitobi in die hof aangevoer.

Die hooggeregshof het die hersieningsaansoek aangehoor wat deur Tokyo Mataboge, voormalige Bojanala-streeksekretaris, en 39 ander ingedien is. Hulle versoek die hof om die algemene takvergaderings van 40 takke ter syde te stel en om die Bojanala-streekskonferensie tot niet te verklaar.

Hulle beweer minstens 40 van die takke is nie grondwetlik op die been gebring nie, terwyl meer as 70 handtekeninge vervals is.

Ngcukaitobi het gesê die minste wat onreëlmatighede die streekskonferensie kan raak, is wanneer ʼn lid van die betrokke tak by die streekskonferensie verkies is. “Daar is 30 lede op die streeks- uitvoerende komitee en slegs vier van hulle kom van die takke wat geraak is,” het hy gesê.

Hy het aangevoer die saak is vroegtydig voor die hof ter sprake gebring aangesien die provinsiale uitvoerende komitee van die ANC in Noordwes tans die dispuut hanteer.

“Wat takriglyne betref, word ʼn geskil sewe dae ná die takvergadering na die geskilkomitee verwys en dit moet onderteken word deur ʼn derde van die mense wat die vergadering bygewoon het.” In die geval van die Bojanala-streekstakke is hierdie prosedure nie gevolg nie.

Hy het gesê daar is geen voorneme van die aansoekers om al die interne prosesse van die ANC te gebruik om die geskil op te los nie, gegewe dat hulle die hofaansoek op 8 Augustus ingedien het, terwyl die ANC hulle reeds in kennis gestel het dat die geskil aangepak word.

Terry Motau, vir die aansoekers, het volgehou hulle het in Desember 2016 ʼn geskil by die ANC se nasionale en provinsiale kantore aangemeld en agt maande later is daar nog niks gedoen om die geskil op te los nie. In plaas van ʼn oplossing het organisatoriese prosesse ontvou, waaronder algemene takvergaderings wat tot die streekskonferensie gelei het.

“Die ANC het oor hierdie tydperk nie gedoen wat hy moes nie. Daar was geen poging om die geskil op te los nie,” het hy gesê. Die organisasie het volgens hom ook versuim om ʼn lid te dissiplineer wat hulle beweer het saam met opposisiepartye gewerk het.

Hy het gesê sy kliënte is ook nie genooi of in kennis gestel van takvergaderings nie, wat op uitsluiting neerkom.

Supra Mahumapelo, die ANC se provinsiale voorsitter in Noordwes, het die hofverrigtinge bygewoon. Die verrigtinge duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Die liberators libereer.
Woord praat hoeka van wat plaasvind indien koninkryk teen homself verdeeld is.

Yster ·

Wat n gemors. So iets hoort mos nie by beskaafde mense nie.

Carel ·

As Supratjie hofverrigtinge bywoon moet jy weet sy hoofdoel is om die magistraat of regter te intimideer. Onse Supra is nie die eerbaarste op die aarde nie. Hy is een van die beste voorbeelde in die wêreld waar iemand parasiteer op die ongeletterdes. Ek bid verskriklik dat sy sondes hom gaan inhaal en hy op ‘n ashoop beland waar hy hoort.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.