Hof hoor OVK nie wetlik verplig om adresse by te hou

Argieffoto

Argieffoto

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Maandag in die konstitusionele hof gesê hoewel die kommissie moet seker maak kiesers woon in die distrik waar hulle stem, is die OVK nie verplig om rekord te hou van kiesers se adresse nie.

Die konstitusionele hof hoor ʼn dringende aansoek deur die OVK aan om ʼn vorige besluit van die verkiesingshof ter syde te stel. Die verkiesingshof het vroeër beslis die tussenverkiesings, wat in Februarie in Potchefstroom (Tlokwe) gehou sou word, moet uitgestel word. Die hof het die OVK beveel om die fisiese adresse van mense op die kiesersrol te bevestig vir toekomstige verkiesings.

Adv. Wim Trengrove, regsverteenwoordiger van die OVK, het Maandag gesê die kommissie aanvaar dit is verplig om seker te maak kiesers woon in die distrik waar hulle stem en die kommissie het nog altyd hierdie verpligting nagekom. “Maar was die OVK verplig om rekord te hou van [kiesers se] adresse? Dit is waar die verskil tussen die partye lê,” het Trengrove gesê.

“Die OVK was tot 2003 nie wetlik verplig om adresse te verifieer nie en teen daardie tyd was 18 miljoen kiesers op die rol. Die kruks van die saak is of die OVK nou moet teruggaan en soek na adresse vir hierdie 18 miljoen kiesers.”

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het Trengrove gevra wat sou gebeur het as hierdie statutêre verpligting nie in 2003 ingestel is nie. “Ek vra omdat die afdeling vereis politieke partye moet toegang hê tot die kiesersrol met adresse. Wat as dit nie toe die geval was nie? Wat sou die geval dan nou wees?” het Mogoeng gevra.

Trengrove het geantwoord die OVK het oor die algemeen sy verpligting nagekom, al was dit nie voorheen die reël nie. “Daar is geen wetlike verpligting op die OVK om adresse op rekord te hou of terug te gaan en adresse van 18 miljoen kiesers op te dateer nie,” het hy gesê. “Die blote feit dat daar name op die rol is sonder adresse, impliseer nie dat die registrasie onregmatig was nie.”

Die saak wat tans aangehoor word, is deur ses onafhanklike partye voor die verkiesingshof gebring nadat hulle gekla het die OVK kon nie ʼn kiesersrol met volledige adresse verskaf in aanloop tot die Tlokwe-tussenverkiesings nie. Die onafhanklike kandidate hou vol die OVK het versuim om aan ʼn uitspraak van die konstitusionele hof in November 2015 te voldoen waarin die uitslae van die Tlokwe-tussenverkiesings in 2013 ter syde gestel is.

Die kommissie voer egter aan dat, indien die verkiesingshof se uitspraak nie ter syde gestel word nie, die OVK 12 miljoen kiesers van die kiesersrol sal moet verwyder omdat formele adresse nie tans vir hulle beskikbaar is nie. Die OVK vra die hof om ʼn regverdige en billike oplossing te gee wat die instansie vryspreek van die verpligting om adresse vir alle geregistreerde kiesers te kry voor vanjaar se munisipale verkiesing en die nasionale en provinsiale verkiesings in 2019.

Die respondente in die saak is die ANC, die departement van samewerkende regering (Cogta), die DA, die IVP en die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers (NHTL). Die ANC, Cogta en NHTL ondersteun die OVK, terwyl die DA en die IVP die aansoek teenstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

jaco ·

hou n kieserslys wat net almal se ID nommers op het. gebruik dit vir alle verkiesings. Maak die uitreik van ‘n ID terselfdertyd die registrasie as kieser. Hoeveel mense gaan nou op stemdag nie naby hulle addresse wees nie? Ek twyfel of dit meer 10% mense sal wees. Die impak wat dit op ‘n verkiesingsuitslag gaan maak is minimaal.

Henk Venter ·

Nou as jy dan nie rekord hou nie, HOE op dees aarde gaan jy die korruptes se adresse verifieer en weet of hulle wetlik geregistreer is in ‘n kiesafdeling al dan nie.
Vir iets so onbenulligs soos ‘n selfoon, moet ek bewys lewer van my adres. Vir iets so onbenulligs soos ‘n bankrekening, moet ek bewys lewer van waar ek bly.
Maar vir iets so BELANGRIK soos die reg om in my eie kiesafdeling en land te kan stem oor my dorp/stad en land se toekoms, daarvoor het ek nie nodig om te bewys ek is wie ek is en bly waar ek se ek bly nie?
Is dit werklik wat ‘n regsgeleerde kwytraak?

Jakes ·

Henk ek stem met jou saam , daar is soveel bedrog met ID dokumente
Hoe gaan ons weet dit is slegs SA burgers wat stem

Weskaper ·

Dit is weer ‘n triek van die ANC. Wil oortollige stemgeregtiges van die Ooskaap aanry na die Weskaap om hier te kom stem. So ook by ander stemdistrikte waar hulle bang is hulle verloor.

Kiepie ·

Henk, hoekom is die ANC dan een van die respondente in die saak?

Kapenaar ·

Dit is so… Kan niemand sien wat hulle beoog nie? Dit is een manier om lede te plaas waar die oposisie is. Hulle doen dit ongesiens. Respodente in die saak? Dit is oë verblindery, hulle sal wat doen om die Wes Kaap te kry.

Buitestander ·

Met tussen verkiesing is dit wel belangrik dat kiesers moet bewys waar hulle woonplekke is. Wat die wyk langsaan se kiesers kan baie maklik oorloop maar soos nou ‘n landeike verkiesing is dit nie so belangrik.

Lance ·

Dit kom neer daarop dat die OVK nie sy werk gedoen het nie …soos uitgewys is in die hof …..nog n instansie wat nie werk nie …sit en wag vir tee en die 25ste van elke maand ….nou waneer staak hulle bq wonder ek nou ….

John ·

As ons die saak wil toets, moet ons wag tot Augustus. Daar gaan soveel chaos wees en klagtes oor ongerymdhede soos kiesers wat aangery word, uitlanders wat stem met vals ID-dokumente, stemme wat klaar uitgebring is nog voordat die regte persoon aanmeld, name en ID’s wat net spoorloos verdwyn , ens. Die Potchefstroom-tussenverkiesing is ‘n goeie voorbeeld van hoe dinge weer gaan verloop. Die ID-nommers wie se eienaars nie opdaag nie, sal wel skielik ‘n ‘stem’ kry, glo my. Selfs gestorwenes mag dalk ook op stemdag hul opwagting maak vir ‘n pers strepie op die vinger.

Penellope Jones ·

Klink vir my meer na ‘n “ontsnappingsroete” of ‘n leemte in the wet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.