Hof hoor Ramaphosa, Gordhan begin neiging om OB te beledig

Regspanne vir die Openbare Beskermer en die president sê mekaar in die hooggeregshof in Pretoria die stryd aan. (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Regspanne vir pres. Cyril Ramaphosa en die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, hou vol die president moet wag vir die uitslag van ʼn hersieningsaansoek voordat dissiplinêre optrede, soos beveel deur die Openbare Beskermer (OB), in werking gestel word.

Aan die ander kant voer adv. Busisivwe Mkhwebane se regspan aan Ramaphosa en Gordhan het ʼn neiging begin om die OB te beledig voordat die howe nog eens genader is.

Ramaphosa en Mkhwebane het mekaar Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria die stryd aangesê.

Ramaphosa se aansoek handel oor óf hy verplig is om op te tree ná die OB se opdrag dat stappe teen Gordhan gedoen moet word oor ʼn vroeë pensioenuitbetaling aan die voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Ivan Pillay.

Mkhwebane het in Mei ʼn verslag bekend gestel waarin bevind is dat Gordhan nie by magte was om die uitbetaling aan Pillay in 2010 goed te keur nie. Gordhan was destyds die minister van finansies. Nadat Pillay se vroeë aftrede goedgekeur is, is hy in dieselfde posisie op ʼn kontrakbasis heraangestel.

Adv. Hamilton Maenetje, namens Ramaphosa, het aangevoer Ramaphosa het voldoen aan Mkhwebane se instruksie dat hy ʼn plan verskaf waarin die stappe wat hy gaan doen, uiteengesit word. Die OB het beveel dit moet binne 30 dae na die bekendmaking van die verslag gebeur.

“Die president het dit gedoen. Hy het ʼn plan voorgelê waarin verduidelik word dat hy gaan wag vir die uitslag van Gordhan se hersieningsaansoek oor die Pillay-verslag voordat enige stappe teen hom [Gordhan] gedoen gaan word,” het Maenetje gesê.

Maenetje het voorts aangevoer die president se besluit is bekragtig in die uitspraak wat regter Sulet Potterill vroeër vandeesweek gemaak het. Potterill het bevind Ramaphosa het nie ʼn fout gemaak deur te wag vir die uitslag van Gordhan se hofaansoek oor een van Mkhwebane se ánder verslae oor Gordhan nie. Dié saak het Mkhwebane se verslag, dat Gordhan ʼn onwettige, geheime ondersoekeenheid in die SAID gevestig het, behels.

Adv. Michelle le Roux, namens Gordhan, het aangevoer die president kan nie tugstappe implementeer tot die hersieningsproses afgehandel is nie.

“Dit is in dié stadium vir die president onmoontlik om rasioneel te besluit oor gepaste optrede,” het sy gesê.

Le Roux het aan die hof gesê Gordhan se toestemming dat Pillay vroeg kan aftree was ʼn voorbeeld van uitvoerende besluitneming en dat die minister regsadvies van ses mense daaroor ingewin het.

Adv. Dali Mpofu, namens Mkhwebane, het Ramaphosa se betoog ʼn grap genoem en gesê die OB is die enigste persoon wat die plan van optrede kon goedkeur.

Hy het ook Le Roux en Maenetje se verduidelikings afgemaak en gesê vorige bevindings waarin die OB se remediërende optrede ter syde gestel is, is anders as in dié saak. Hy sê in dié geval het Ramaphosa gevra dat dit ter syde gestel word.

Mpofu het ook na Ramaphosa se hofstukke gekap en gesê eerstejaarstudente sou dit teenstrydig vind.

Hy voer aan dit sou nadeling vir die land en geregtigheid wees as die OB se opdrag vir remediërende optrede uitgestel word.

“Met ander woorde, die hele land moet vier of vyf jaar lank as gyselaars gehou word. Onthou, hulle vra dat die hele ding stilstaan hangende die hersiening en appèlsake.

“Ons weet dat dit drie, vier of vyf jaar duur. Die hele land moet dus weens ʼn eenvoudige dissiplinêre proses vier of vyf jaar lank tot stilstand kom, tot mnr. Ramaphosa en mnr. Gordhan nie meer in hulle ampte is nie, teenoor wat aan die ander kant van die skaal is,” het Mpofu gesê.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann cb ·

Dit behoort glad nie nodig te wees om die howe te nader nie!

Elsa ·

Dis reg, gooi mekaar met modder, dan is almal vuil.

Hoekom moet alles in die hof besleg word? Howe moet gebruik word vir baie ernstiger sake.

Ella ·

Ek verstaan nie die ding nie.
Wie het meer mag in die land? Is die President “onderdanig” aan die OB of is sy “onderdanig” aan die president?
Werk die OB vir die mense van die land of vir politici? Sy word imners “Openbare Beskermer” genoem, dus ek en jy.

James ·

Nee wat die lot is te dom .
Hulle weet nie hoe werk wat nie.

Saint ·

As ‘n verslag onder hersiening is dan beteken dit tog dat die verslag en die jongste vorm soos voorgelê nie ‘n slaagsyfer gehaal het nie en moet dit oor gedoen word.
Die verslag is dus nog nie afgehandel en CR is volkome korrek om nie volgens ‘n onafgehandelde verslag op te tree nie, al dink die opsteller van die verslag wat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.