Hof hoor van ‘argument, houe’ by nagklub

Daniël Botha. (Foto: Verskaf)

’n Jong man wat teenwoordig was toe Daniël (Danie) Botha só erg by ’n kuierplek in Benoni aangerand is dat hy later breindood verklaar is, het glo gesien hoe Gideon Fourie twee keer aan Botha slaan voordat Botha op die vloer geval het.

Die jong man het egter nie in die vroeë oggendure van 26 Julie 2018 vir Jacques de Lange en Sampie Hearn aan Botha sien slaan of gehoor wat tydens die argument tussen Botha en Fourie gesê is nie.

Só het Morne Fullard Vrydag in Benoni-streekshof getuig in die moordsaak waarin Fourie, De Lange en Hearn teregstaan.

Fullard het die betrokke aand by Dingo’s Pub gekuier en in die vroeë oggendure buite die kuierplek aan ’n bewustelose Botha se polsslag gaan voel nadat Botha volgens hom deur twee uitsmyters na buite gedra is.

Fullard het getuig dat hy ná middernag saam met vriende by ’n tafel naby die dansvloer gesit het toe Fourie en Botha by ’n ander tafel enkele meter daarvandaan ’n woordewisseling gehad het.

Fullard het in die hof erken dat hy nie kon hoor wat presies gesê is nie. “Dit was wel duidelik dat daar ’n argument was.”

Volgens hom het hy gesien hoe Fourie vir Botha ’n vuishou op die neus toedien. ʼn Tweede hou het kort daarna gevolg en Botha het op die vloer op die dansbaan geval.

’n Rumoer het daarna uitgebreek en twee uitsmyters het nader gehardloop. Dié het later vir Botha na buite gedra.

Hy het verduidelik dat hy nie oor die besonderhede oor die geveg kan uitwei nie, aangesien hy in daardie stadium van die bakleiery probeer wegkom het. “Om honderd persent eerlik te wees, ek raak bang as daar ’n bakleiery uitbreek en ek probeer eerder wegkom. Ek hou nie van baklei nie.”

Fullard het dus nié gesien dat Botha vir Fourie tydens hul woordewisseling aan die bors gegryp het, soos Fourie beweer nie.

“Dinge het baie vinnig gebeur,” sê Fullard wel oor die voorval. Hy het erken dat hy aanvanklik nié ’n verklaring by die polisie wou aflê oor die aand se gebeure nie. Botha se pa het hom egter later oorreed om wel sy weergawe van gebeure met die polisie te deel.

Fourie se regsverteenwoordiger het Fullard tydens kruisondervraging oor teenstrydighede in dié verklaring en sy getuienis in die hof gepols.

Luidens Fullard se verklaring het hy die oggend buite Dingo’s vir Hearn gevra om Botha hospitaal toe te neem. Hy is tydens kruisondervraging gepols oor waarom hy juis vir Hearn gevra het indien Hearn volgens hom dan geensins by die bakleiery betrokke was nie.

Dié twee is ook nie bevriend nie, hoewel Fullard in daardie stadium van Hearn geweet het.

“Ek was paniekerig. Ek het na enigiemand toe gegaan. Danie moes hospitaal toe,” het Fullard in die getuiebank verduidelik.

Daar is ook daarop gewys dat Fullard in sy verklaring geen melding van twee houe gemaak het nie. Hy het wel in sy verklaring aangedui dat Fourie vir Botha die aand van die voorval “aangerand” het.

Nóg ’n uitstel

Die saak is ná Fullard se getuienis vir die soveelste keer uitgestel aangesien die getuie wat die verdediging volgende wou roep weens persoonlike redes nie vanmiddag beskikbaar was om te getuig nie.

Die verdediging het aangedui dat dit ’n “belangrike” getuie is en versoek dat die saak tot Maandag uitgestel word.

Landdros Ian Cox het daartoe ingestem en die saak is finaal vir die betrokke getuienis uitgestel.

“Die positiewe is as die getuie nie Maandag opdaag nie, beweeg ons aan sonder die getuienis. Dis nou belangrik dat ons hierdie ding klaarkry,” het Andre Pretorius, Botha se stiefpa, ná die hofverrigtinge aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Di ·

SKOKKEND dat mense dink hulle het die reg om iemand so aan te rand, NIKS regverdig dit nie. Hoop hy kry tronkstraf!

Sarel ·

Om ” Persoonlike redes” nie in due Hof as hy/sy moet getuig nie. Klimk maar ” fishy” …minagting van die Hof?

Marlene ·

Bly hartseer was n mooi kind die. Sy organe was geskenk op die ou end, en sal dit ewig dankbaar wees want my pa het een van sy organe ontvang toe hy self op die randjie van die dood was. Ek hoop die knaap wat dit aan hom gedoen het word baie swaar gestraf

Tanya ·

Ai jai jai…. waar is die dae….. as jy voor die hof gedaag word, maak jy ‘n plan om daar te wees, dis wet en orde! Vandag is dit hopeloos te maklik om weg te kom met enige verskonings! Ek hoop beslis die waarheid kom uit, wat ookal daai aand gebeur het en dat die betrokkene of betrokkenes swaar gestraf sal word…

Hannelie ·

TRONKSTRAF!! Laat hul sit, alhoewel dit nie sy dood regverdig nie, hul moet eintlik die doodstraf kry, want hul/hy het moord gepleeg.

VaalDonkie ·

Ek het mos vroeer in die week gese ek hang nooit by plekke uit watse naam met ‘n afkappings-S eindig nie. Ek weet nie hoekom nie, maar dis altyd die plekke waar die appels swaai as die tweede bier in is.

Antie Sarie ·

En dit is hoekom drink in die publiek vroeër jare verbied was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.