Hof hoor van erge marteling in tronk

Argieffoto

Argieffoto

Gevangenes van die St Albans-maksimumsekuriteitgevangenis in Port Elizabeth word gereeld aan gewelddadige marteling en aanranding blootgestel, het ʼn hof Vrydag tydens ʼn toetssaak vir die nuwe martelwet gehoor.

Gevangenes dagvaar die departement van korrektiewe dienste vir nagenoeg R1 miljoen vir mishandeling wat glo in 2005 by dié tronk plaasgevind het. Volgens die hofdokumente het die gereelde mishandeling, wat elektriese skokke insluit, begin nadat ʼn senior beampte, Babini Nqakula, in die tronk met ʼn skerp voorwerp doodgesteek is.

Die gevangenes is verdink van die moord op Nqakula, ʼn familielid van Charles Nqakula, voormalige minister van veiligheid en sekuriteit.

ʼn Paar van die 231 gevangenes voer aan die bewaarders het hulle gedwing om kaal op die vloer in ʼn menslike ketting te lê met een gevangene se neus teen die gevangene voor hom se anus.

Ahmed Patel, een van die vier gevangenes wat geroep is om in die hof te getuig, het gesê hy moes bloed en menslike uitskot in ʼn gedeelte van die maksimumsekuriteit-afdeling skoonmaak ná ʼn ronde aanrandings plaasgevind het. “Die gevangenes het soos varke geskree,” het hy gesê. “Die behandeling was onmenslik. Van die bewaarders se uniforms was vol bloed. Hulle was dronk en het die gevangenes vreeslik geslaan.”

Die gevangenes voer aan hulle is “uit weerwraak” deur die bewaarders mishandel en dat tugstappe teen die betrokke bewaarders onttrek is. Hulle voer ook aan hulle het nie mediese behandeling ontvang nie.

Die regering het in Julie 2013 die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Marteling in Gevangenis goedgekeur, wat marteling ʼn misdaad maak. “Ons het nou ʼn toetssaak vir vier gevangenes in die hooggeregshof,” het hul prokureur Oswald Egon gesê. “Hulle eis finansiële vergoeding vir fisiese en sielkundige skade.”

Die saak sloer al sedert 2005 in die hof, maar sal na verwagting volgende maand afgehandel word. Egon sê hy is vol vertroue dat die saak goed vaar, ondanks die vertragings. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.