Hof hoor van Jayde Panayiotou se laaste oomblikke

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Jayde Panayiotou. Foto: Verskaf

Jayde Panayiotou, die vermoorde onderwyseres van die Oos-Kaap, se ma het Dinsdag erg emosioneel geraak toe grafiese besonderhede oor haar dogter se laaste oomblikke in die Port Elizabeth-hooggeregshof aangehoor is.

Die langverwagte moordverhoor van die sakeman Christopher Panayiotou, Jayde se man, en die mans wat na bewering ʼn rol gespeel in haar vermeende huurmoord, het Dinsdag begin.

Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, het met die aanvang van die hofverrigtinge voor regter Dayalin Chetty onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hulle. Hulle staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering, moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Panayiotou staan tereg op ʼn bykomende aanklag van dwarsboming van die gereg.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein agter die ontvoering van en moord op sy vrou in April verlede jaar was. Die staat voer aan hy het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Sizwezakhe Vumazonke as sluipmoordenaar te huur om Jayde te ontvoer en vermoor. Nenembe het Vumazonke glo bygestaan om die moord uit te voer. Sibeko is in Julie in hegtenis geneem nadat hy deur sy selfoon verbind kon word by die saak. Hy was saam met Nenembe en Vumazonke by die kompleks was waar Jayde ontvoer is.

Siyoni het intussen ʼn staatsgetuie geword en Vumazonke is vroeër vanjaar in aanhouding dood.

Adv. Terry Price, Panayiotou se regsverteenwoordiger, het sy kliënt se pleitverduideliking voorgelees en gesê sy kliënt se reg op ʼn billike verhoor is deur die staat “verwoes” nadat die polisie “onwettig” getuienis van Siyoni verkry het.

Price het versoek dat ʼn binneverhoor moet plaasvind oor die toelaatbaarheid van Siyoni se getuienis. “Siyoni is aangerand en onregmatig in hegtenis neem. Dus is al die inligting deur Siyoni se getuienis ontoelaatbaar en moet dit nie in die hof gebruik word nie,” het Price gesê.

Price het verder gesê dat Siyoni met die hulp van die ondersoekbeampte, ao. Kanna Swanepoel, vir Panayiotou betrek het en dat Siyoni twee verskillende verklarings aan die polisie gegee het.

Staatsaanklaer Marius Stander het op sy beurt aan die hof gesê die staat sal aanvoer dat Jayde op die sypaadjie voor haar kompleks ontvoer is, waarna sy na ʼn afgeleë plek in die buitewyke van Kwanobuhle geneem en vermoor is.

Die staat beweer Vumazonke het haar twee keer in haar rug geskiet terwyl sy haar hande in lug gehad het in ʼn poging om oor te gee.

“Sy het op die grond geval en gelê toe die skieter oor haar gestaan en haar in die kop geskiet het. Die staat sal met bewyse lei dat daar buskruitoorskot op haar linkerhand gevind is,” het Stander gesê.

Stander het gesê nadat die huurmoord uitgevoer is, is Siyoni na ʼn OK-kettingwinkel om betaling van Panayiotou te gaan afhaal.

Stander het bygevoeg dat Panayiotou en Siyoni sedert die dag wat Jayde se liggaam op 22 April gevind is, as verdagtes geïdentifiseer is.

Die staat gaan na verwagting swaar steun op selfooninligting as bewyse in die verhoor wat na verwagting twee maande gaan duur.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Liewe heksie ·

Hier kom wragtag weer n Henning geval geld wat stom is maak reg wat krom is genade as die jeug nie ons land afbrand nie vermoor mans hul vrouens sonder om hul eie hande vuil te maak en almal kom weg daarmee

Raymond Bastone ·

Lyk my dit word nou n algemeene ding om jou vrou te vermoor as jy nie met haar meer klaarkom nie. Siek siek siek

Siek en Sat ·

Ja !!! En alles begin by Oscar Pistorius ….weggekom het met MOORD!!!

Sterkte ·

Sterkte Stander, Swanepoel en Siyoni, stay cool, stay calm and be strong! Ons bid dat jul werk nie verniet was nie. Klink of Terry Price op klein tegniese punte en aannames probeer loskom!

Jean ·

Joh joh …dit is darem maar wreed om iemand so koelbloedliglik dood te skiet, met haar arms in die lug ook nogal? Arme mooie vrou het nie geweet wat met haar gebeur nie. RIV en mag die skuldiges almal aan die pen ry. Jy het dit NIE verdien nie.

Melkies ·

Ek onthou dan die polisie het ‘n lokval vir Jayde se man gedoen – een van sy mede beskuldigdes het hom vir nog geld gaan vra vir die moord en toe vang die polisie hom uit.

Annatjie durant ·

Mens sou nou dink dat Oscar die eerste moordenaar was !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.