Hof hoor van Panayiotou en minnares

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

ʼn Goeie vriendin van Chanelle Coutts, Christopher Panayiotou se minnares, het Donderdag intieme besonderhede oor die twee se verhouding in die hooggeregshof in Port Elizabeth openbaar.

Clarishka Kapp het getuig op die derde dag van Panayiotou en sy medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, se moordverhoor waarin hulle teregstaan vir die moord op Panayiotou se vrou, Jayde, in April verlede jaar.

Kapp het getuig sy, Coutts en Panayiotou het in September 2014 na George gereis om Coutts se verjaarsdag te vier. Sy het gesê hulle het vir twee aande in ʼn hotel oorgeslaap, waar sy op die grondvloer in ʼn kamer geslaap het, terwyl Coutts en Panayiotou ʼn kamer op die boonste vloer gedeel het.

Sy het gesê sy is ook bewus van ʼn “hotelwegbreek” toe Panayioutou en Coutts tyd saam spandeer het in ʼn hotel in Summerstrand, op die strandfront in Port Elizabeth. Kapp het gesê Panayiotou het aan haar gesê hy is lief vir Coutts en dat sy dieselfde oor hom gevoel het.

Dit het ook aan die lig gekom dat Panayiotou baie jaloers was op sy minnares. “Chris was jaloers op Chanelle. Hy het op Facebook gegaan en gekyk of sy met ander mense praat. Hy was baie jaloers daaroor,” het Kapp gesê.

Kapp het ook drie geleenthede beskryf waar die drie vriende na Chris en Jayde se huis gegaan het om drankies te drink en te braai of wegneemetes te eet. Jayde was nie by een van hierdie geleenthede tuis nie en Kapp het gesê sy weet nie waar sy was nie.

Sy het ook gesê Panayiotou en Coutts het saam na ʼn Coutts-familietroue toe gegaan en Jayde was glad nie betrokke nie. Sy het gesê Panayiotou het vir sy minnares duur geskenke, soos Polo-sakke, ʼn horlosie en haretoerusting gekoop.

Gedurende Kapp se getuienis het Panayiotou sy kop afgehou en na die vloer gekyk.

Sekerlik die opspraakwekkendste getuienis wat Kapp gelewer het, was oor ʼn foto wat sy op haar foon gehad het van Panayiotou en Coutts saam in die bed, vyf dae nadat Jayde vermis geraak het. Kapp het gesê sy is aangesê om die foto uit te wis.

“Ek het OK Grocer toe gegaan, want Chanelle wou met my praat. Sy was baie ontsteld, omdat die polisie by haar was. Sy was bang haar telefoonoproepe word onderskep,” het Kapp gesê. Nadat Kapp met haar twee vriende gepraat het, het sy huis toe gegaan en die foto van haar foon afgevee.

Adv. Terry Price, vir die verdediging, het op hierdie punt vir die tweede keer beswaar gemaak en gesê die getuienis is gegrond op hoorsê. Regter Dayalin Chetty het Kapp aangesê om nie te verwys na wat Chanelle vir haar gesê het nie omdat dit hoorsê is.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein agter Jayde se ontvoering en moord is. Die staat voer aan hy het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Sizwezakhe Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Vumazonke is glo deur Sinethemba Nenembe bygestaan om die ontvoering en moord uit te voer. Sibeko is in Julie vanjaar in hegtenis geneem nadat hy deur sy selfoon verbind is met die saak. Hy was glo saam met Nenembe en Vumazonke by die kompleks waar Jayde ontvoer is.

Siyoni het intussen staatsgetuie geword en Vumazonke is vroeër vanjaar in aanhouding dood.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mariaan ·

Wat alles kan mens so man noem??
Mag hy nòg minder genade van die hof kry as wat hy vir Jade gehad het.

H. Greeff ·

Ek wonder hoe voel hierdie Coutts vrou nou. Ek hoop haar Polo sakkie, horlosie en haartoerusting was die moeite werd. Ek hoop almal wat deurmekaar is met getroude mans en vroue dink diep na oor hul dade.

oupa van ·

Stem saam H Greeff. In hierdie verdomde land mense doen net wat hulle wil. Daar is geen beheer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.