Hof hoor vrou ‘was bang’ vir moordbeskuldigde

hof-hamer

Argieffoto

Die Bafokeng-landdroshof in Tlhabane, Rustenburg, het Woensdag gehoor dat die 31-jarige man wat daarvan beskuldig word dat hy sy lewensmaat vermoor het, se lewe in gedrang sal wees indien hy op borgtog vrygelaat word.

Staatsaanklaer Tebogo Letlhabane het aan die hof gesê die staat gaan Thabo Moabi se aansoek om borgtog teenstaan omdat sy lewe moontlik in gevaar kan wees aangesien die gemeenskap van Tlaseng woedend is ná die moord. Letlhabane het aangevoer daar is ook ʼn kans dat Moabi bewyse kan vernietig.

Maroela Media het vroeër berig Moabi word daarvan beskuldig dat hy sy vriendin, Segametsi Molefe (30), verlede maand tydens ʼn rusie in hul huis vermoor en haar liggaam onder die bed versteek het. Die voorval het op Mogajane buite Rustenburg gebeur. Molefe is verskeie kere met ʼn voorwerp gesteek.

Moabi is op 27 Maart in hegtenis geneem nadat sy jonger broer die polisie gekontak het omdat hy onraad vermoed het ná die paartjie se bakleiery. Toe die polisie sowat twee uur later opdaag, het hulle Moabi met sy vyfjarige stiefdogter op die bed aangetref. Die staat vermoed die dogtertjie het gesien hoe haar ma doodgesteek word.

Moabi het gister gedurende sy aansoek om borgtog gesê dat hy op 26 Maart omstreeks 22:00 by die huis aangekom het. Hy het aan die hof gesê Molefe was nie op daardie stadium by die huis nie en haar vyfjarige dogter het alleen op ’n bank geslaap. Molefe het later by die huis aangekom nadat hy haar gebel het om te vra waar sy was.

Haar selfoon het op die stadium gelui waarna Moabi ʼn man oor die foon hoor vra het of sy veilig by die huis was waarna hy gesê het dat hy haar liefhet.

“Ek het haar geklap, sy het ’n mes te voorskyn gebring en ek het haar teen die muur gedruk. Sy het geval en ek het buite toe gegaan,” het Moabi getuig.

Hy het aan die hof verduidelik dat hy haar geklap het omdat hy hartseer was toe hy hoor hoe die ander man sy liefde aan haar verklaar. Volgens Moabi was dié opoep op die selfoon se luidsprekerfunksie hoorbaar.

Volgens Moabi het hy oomblikke later terug in die huis gegaan waar Molefe nog steeds op die plek gelê het waar sy geval het. “Ek het gedink sy is bewusteloos. Ek het ’n kombers oor haar gegooi en haar toe langs die bed neergesit,” het hy gesê. Hy ontken dat hy haar liggaam onder die bed versteek het.

Moabi het gesê hy het teen die volgende oggend besef dat Molefe dood is. Hy het toe na buite gegaan om lugtyd te koop om hulp te ontbied waar hy deur die polisie voorgekeer en in hegtenis geneem is.

Moabi het aan die hof gesê hy is die enigste broodwinner vir sy drie sibbe en die dogtertjie. Hy is aangestel as ʼn ingenieursassistent by ’n myn teen ʼn salaris van R6 000 per maand. Hy het sy ma se huis geërf. Hierdie eiendom is teen R50 000 gewaardeer.

Hy het verder getuig dat hy geen hangende kiminele sake teen sy naam het nie en dat hy sal voldoen aan enige voorwaardes wat die hof sou oplê indien borgtog  aan hom toegestaan ​​word.

Konst. Meshack Modisane, die ondersoekbeampte in die saak, het gesê die polisie het ’n wenk rakende die moord ontvang en dat Moabi van plan was om bewyse te vernietig.

“Ons het op ’n vrou afgekom wat besig was om ’n ander vrou se hare te vleg. Ons het haar gevra waar die verdagte [Moabi] is en sy het gesê hy het gaan werk. Ons het vir haar gesê dat ons die huis wil deursoek waarna sy ons na die huis toe gelei het,” het Modisane gesê.

“Ons het die verdagte gekry waar hy op die bed gesit het saam met die dogtertjie. Ons het hom gevra waar die kind se ma was en hy het geantwoord dat hy haar die laaste keer op 26 Maart gesien het toe sy hom in kennis gestel het dat sy by haar ouers in Phokeng gaan kuier,” Modisane getuig.

“Ons het die kamer deursoek waarna ons ’n vrou onder die bed gekry het. Ons het hom daaroor uitgevra en hy het gesê dit was sy vriendin Segametsi Molefe.

“Sy het beserings aan haar gesig en nek gehad en het ook agter haar kop gebloei,” het Modisane aan die hof gesê.

Hy het getuig dat vasgestel is dat hy haar gereeld aangerand het en dat sy nooit ’n saak teen hom oopgemaak het nie omdat sy bang was vir hom.

Modisane het bygevoeg dat daar twee getuies was wat bang was om ’n verklaring by die polisie af te lê omdat hulle bang was vir Moabi.

Ofentse Raikane, vir Moabi, het egter aangevoer sy kliënt is ’n goeie kandidaat vir borgtog, aangesien hy nog nooit voorheen in hegtenis geneem of skuldig bevind is aan ʼn misdaad nie. Hy is werkend en die broodwinner van sy huishouding, het Raikane gesê.

Die borgtogaansoek is tot 26 April uitgestel vir landdros Andrew Mmokwa se beslissing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.